Slaagsyfer bo 80% – Matrieks doen dit weer!

Minister Angie Motshekga (Foto: Fikile Marakalla/GCIS)

Die matriekklas van 2022 het ʼn algehele slaagsyfer van 80,1% behaal ondanks die vele uitdagings wat dié klas weens die Covid-19-pandemie, beurtkrag en diensleweringsbetogings in die gesig gestaar het.

Dit is ʼn verbetering van 3,7% van verlede jaar se matriekslaagsyfer. Dit is ook die tweede hoogste slaagsyfer van 2019.

Die getal matriekvrystellings (wat leerders universiteitstoelating gee) wat verwerf is, het ook met 8,9% toegeneem.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Donderdagaand die nasionale matriekuitslae van 2022 bekendgemaak.

Volgens Motshekga het die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen (NSS) grootliks glad verloop en word die 2022-matriekklas as een van die “sterkste groep matrikulante” beskou.

Kelly Prowse, een van twee toppresteerders vir 2022 in die land (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

“Die matriekklas van 2022 het duidelik gewys dat ons dit kan maak. Dié klas is die ergste deur die Covid-19-pandemie getref omdat hulle in gr. 10 was met die uitbreek van die pandemie. Die klas het egter ondanks talle uitdagings, soos die pandemie, aanhoudende beurtkrag en sporadiese diensleweringsbetogings, veerkragtigheid en vasbeslotenheid getoon,” sê Motshekga.

“Dit is ook ’n aanduiding dat die skoolstelsel besig is om volwasse te word en ’n vermoë ontwikkel om onverwagte uitdagings te hanteer. Die stelsel het aansienlike verbeterings op alle gebiede getoon.”

Altesaam 920 634 leerders het vir die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) geregistreer – dit is ʼn toename van 2,6% van 2021. Van hierdie kandidate was 752 003 voltydse studente en 168 631 deeltydse studente.

Altesaam 834 565 leerders (voltyds en deeltyds) het 2022 se NSS-eksamen afgelê – ’n toename van 4,3% van 2021.

Uit die leerders wat verlede jaar die matriekeksamen afgelê het, het 278 815 (38,4%) met matriekvrystelling geslaag, wat beteken hulle kan vir ʼn graad studeer. Dit verteenwoordig ’n toename 8,9% vergeleke met 2021.

Altesame 193 357 (26,7%) leerders het met diplomatoelating geslaag, wat ʼn verbetering van 8,9% teenoor die vorige jaar verteenwoordig.

Dié wat in 2022 met toegang tot ʼn hoër sertifikaat geslaag het, staan op 108 159 (14,9%), terwyl 117 (0,01%) leerders met keuring vir ʼn nasionale senior sertifikaat (14,9%) geslaag het.

Altesame 65,1% van leerders wat met universiteit- of diplomatoelating geslaag het, kan nou hul studie aan tersiêre onderriginstellings voortsit.

Die matriekklas van 2022 het ook altesame 218 730 onderskeidings losgeskryf. Dit dui op ʼn toename van 3,3% teenoor 2021.

Die provinsies wat tot die meeste onderskeidings bygedra het, was KwaZulu-Natal, Gauteng, die Wes-Kaap, die Oos-Kaap, Limpopo en Mpumalanga.

Só het die provinsies gevaar

Volgens Motshekga het elke provinsie ʼn verbetering in hul slaagsyfer getoon en het nie een provinsie ʼn slaagsyfer onder 70% gehad nie. Vier provinsies het ʼn slaagsyfer bo 80%.

Die Vrystaat het met ’n slaagsyfer van 88,5% die beste gevaar, gevolg deur Gauteng (84,4%), KwaZulu-Natal (83%), die Wes-Kaap (81,4%), Noordwes (79,8%) die Oos-Kaap (77,3%), Mpumalanga (76,8%), die Noord-Kaap (74,2%) en Limpopo (72,1%).

KwaZulu-Natal, Limpopo en die Oos-Kaap se slaagsyfer het die grootste verbetering getoon met 6,2%, 5,3% en 4,2%.

Die toppresterende distrikte is die Motheo- (90,8%) en Fezile Dabi-distrik (90,4%) in die Vrystaat, Johannesburg-Wes (89,7%), Tshwane-Suid (89%) en Gauteng-Noord (87,7%) in Gauteng.

Onder die 75 onderwysdistrikte in die land, is die Vrystaat (vier distrikte), Gauteng (vier distrikte) en KwaZulu-Natal (twee distrikte) onder die toptiendistrikte. Al die distrikte onder die toptien het bo 86% behaal. Uit die toptiendistrikte in die land is vier van die Vrystaat, nog vier is in Gauteng, en twee is in KwaZulu-Natal.

Die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal het die twee topleerders vir 2022 opgelewer.

Kelly Grace Prowse van Rustenburg Girls’ High School in Kaapstad en Husnaa Haffejee van die Al Falaah College in Durban is as die topleerders vir 2022 aangewys.

Motshekga het haar trots oor die 2022-matriekklas se prestasie uitgespreek en gesê die basiese onderwysstelsel begin die verlangde stabiliteit bereik.

“Die klas van 2022 het duidelik getoon dat ons dit kan maak met die nodige ondersteuning- en intervensieprogramme.

“Stadig maar seker verbeter ons die retensiekoerse in ons skoolopleiding. Die hoë gehalte slaagsyfer wat ons vanjaar behaal het, is ’n bewys van ons groeiende stelsel. Daar is geen twyfel dat daar ’n opwaartse trajek in skole is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Amper een miljoen nuwe lede van die arbeidsmag. Baie welkom!

JohanR ·

Nou om ‘n werk te kry, of ek kan 5 jaar universiteit toe gaan en elke jaar druip en die belastingbetalers sal betaal. Lekker Suid Afrika!

Diepoppie ·

Baie geluk aan die wat geslaag het, maar ek glo nie daai 80.1% nie.. Die slaag vereistes was seker weer afgebring om daai te kon behaal..

Strandloper ·

Volgens RSG is dit eintlik 54%. Die slaag vereiste is seker nou 2% vir our people Viva anc!

Willem ·

Ek Sal Wil weet wat die regte slaagsyfer is, as Nie die slaagsyfer van 30% gebruik word Nie, maar die slaagsyfer van 50% Soos dit voorheen was.

Harley Davidson ·

Geluk aan die wat dit verdien, die 80% sonder die punte aanpassing en die belaglike lae slaag punt glo ek sou baie laer gewees het .

Kobus ·

ENn nou is sy ‘n briljante minister. 80% slaagsyfer word bereken as % van die aantal kandidate wat geslaag het teenoor aantal wat gerigistreer het, Die werklike syfer (54%) word bereken as % van aantal graad 1’s teenoor aantal wat matriek slaag. Die verskil is dus op uitvalsyfer oor 12 jaar. Blykbaar meer as 400, 000 leerders. Dit is hoe ek dit verstaan

Republikein in die Wes Kaap ·

In wese het die stelsel misluk. Daai kinders wat jaarliks uitval is ‘n enorme sosiale probleem

domheks ·

Motshekga, het julle al die uitslae aangepas om die slaag syfer so te kry? Vra maar net…

duiweboer ·

80, 1 %. Angie. Word wakker. 30% slaag syfer. As n lektor wil Ek dit aan jou uit wys dat 80% van jou eerste jaar studente uitval in hulle eerste jaar Weens druk en die 50% wat hulle moet behaal.

Jaco ·

Eers juig almal oor die toppresteerders se 10, 13 en 15 onderskeidings. Nou kla almal weer dat die 80% slaagsyfer te hoog is en die onderwysstandaarde dus te laag. Onthou tog net: ALLE leerders, slim en dom, skryf DIESELFDE vraestelle. Ek gee toe dat dié met die baie onderskeidings regtig slim is, maar trek maar so 15-20% af om dit by die ou SA se standaarde te bring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.