Slaagsyfer goed, standaard wek vrae

(Foto: Maroela Media)

Gelukwense stroom in vir die matriekklas van 2022, maar ongeag die prysenswaardige verbetering in die slaagsyfer is talle kenners dit eens dat heelwat probleme in die onderwysstelsel nog uitgestryk moet word.

Prof. Nadine Peterson, dekaan van die Fakulteit Onderwys by die Universiteit van Johannesburg (UJ), sê die groep moet geloof word vir prestasies wat hulle onder geweldige moeilike omstandighede behaal het, maar dat ʼn omvattende gesprek oor die standaard wat vereis word om ʼn vak te slaag, nou nodig is.

Peterson sê daar is voldoende meganismes, soos die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding (Umalusi) se oorsigrol, wat die integriteit van die uitslae verseker en dat daar met redelike vertroue in die slaagsyfer van 80,1% geglo kan word.

“Maar ons moet meer krities na die slaagvereiste begin kyk. Wat is ons verwagting van die soort slaagpersentasie wat ons wil sien? Die minimum vereistes [om ʼn vak te slaag] moet verbeter,” sê Peterson.

Die slaagsyfer van 80,1% is ʼn verbetering van 3,7% van die vorige jaar en hoewel dit rede tot dankbaarheid is, sê die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) verskeie vrae moet nietemin oor die syfer gevra word.

Een van die grootste hiervan is die hoë getal leerders wat bloot nie opgedaag het om eksamen te skryf nie, sê Leon Fourie, uitvoerende hoof van SOS. Byna een uit elke tien leerders het aan die begin van matriek geregistreer, maar uiteindelik nie die eindeksamen afgelê nie.

Die wisselvallige syfers in sekere provinsies wek ook kommer.

In KwaZulu-Natal staan die slaagsyfer nou op 83%, teenoor die 66,4% waarop dit in 2016 gestaan het; dit is ʼn verbetering van 16,6% oor net sewe jaar.

Die provinsie het verlede jaar veral deurgeloop onder gewelddadige onluste en swaar reën en oorstromings het chaos in talle gebiede veroorsaak. “Weens al die drama daar is ek verras deur KwaZulu-Natal se uitslae; ek het verwag dat dit swakker gaan wees,” sê Basil Manuel, uitvoerende hoof van die vakbond Naptosa.

“Die omkeer is merkwaardig.

“Selfs in die Oos-Kaap was daar ʼn aansienlike verbetering.”

Die Oos-Kaap se slaagsyfer – dit is nou 77,3% – het sedert 2016 met 18% verbeter.

“Die Oos-Kaap se werkloosheidsyfer is die hoogste in Suid-Afrika, met 52,6%, teenoor die res van die land se 33,9%. Die hoër slaagsyfer en toegang tot hoër onderwys lei nie tot ʼn laer werkloosheidsyfer nie,” waarsku Fourie.

ProvinsieSlaagsyfer in 2022Verbetering
Vrystaat88,5%+2,8%
Gauteng84,4%+1,6%
KwaZulu-Natal83%+6,2%
Wes-Kaap81,4%+0,2%
Noordwes79,8%+1,6%
Oos-Kaap77,3%+4,2%
Mpumalanga76,8%+2,9%
Noord-Kaap74,2%+2,7%
Limpopo72,1%+5,3%

Ekstra hulpbronne

(Argieffoto: Christa Steyn Bezuidenhout)

Een van die faktore wat moontlik tot die verbetering van die syfers bygedra het, is die noodgedwonge toename in die gebruik van tegnologie, asook leerders wat in reaksie op ongekende nuwe uitdagings veerkragtig en selfgerig gewerk het, sê Fourie.

Manuel stem saam. Hy sê die Covid-19-pandemie het beteken heelwat meer hulpbronne was beskikbaar, talle daarvan gratis en aanlyn en “waar daar hulpbronne is, verbeter dinge”.

Uitgebreide moedertaalonderrig kan dalk ook die rede wees vir goeie prestasies in provinsies soos die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal. Manuel sê Afrikaans is reeds ʼn goed ontwikkelde onderwystaal en dat programme in die Oos-Kaap, waar leerders in Xhosa onderrig word, en in KwaZulu-Natal, waar hulle in Zoeloe onderrig word, waarskynlik groot vrugte afwerp.

Manuel waarsku egter ook dat al die bloed wat die afgelope paar jaar gesweet is om die agterstande ná die Covid-19-pandemie in te haal, nie volhoubaar is nie.

“Kan ons die druk waaronder onderwysers is volhou? Sommige van hulle woon omtrent by die skool en gee van 07:00 tot 17:00, naweke en vakansies, klas.

“Ek kan verstaan hoekom mense dink dit is nodig, maar dit is nie volhoubaar nie. Dit is ongesond en ek is bekommerd daaroor,” sê Manuel.

Die departement van onderwys sê die nasionale senior sertifikaat-eksamen is een van die belangrikste barometers om die sukses van die sektor te bepaal.

Peterson meen egter hoewel dit belangrik bly, word die prestasie eintlik oor drie jaar behaal en begin dit reeds in gr.10.

“In ʼn gesonde onderwysstelsel, as ons die grondslag opbou en leerders elke tree van die pad deeglike onderrig ontvang, sal daar op matriekvlak nie ʼn behoefte aan so ʼn ongelooflike poging wees nie.”

“Die grondslag moet regdeur die onderwysstelsel verbeter word.”

Peterson sê ook leerders moet behoorlik voorberei word op die wêreld van werk, en sogenaamde transversale vaardighede – soos kennis, waardes en houding – gaan ʼn al hoe groter rol in die werkplek van die toekoms speel.

Hoewel dit reeds gedoen word, sê Peterson leerders moet in die skoolstelsel kritiese denke, probleemoplossing en entrepreneursvaardighede aanleer, sodat hulle aan die behoeftes van die samelewing kan voldoen en hulle eie deure kan open – selfs al lei dié deure nie deur ʼn universiteit nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

Ongelooflik! 40%? En dis vir wat op die dag getoets word. En dan neem ek aan daars die “aanpassings” wat gerieflik toegepas word om massas deur te kry.

quartus ·

Ek dink die standaard is hopeloos te laag. Die matrieksertifikaat is deesdae nie die papier werd waarop dit gedruk is nie

Renier ·

80,1%? As daar gekyk word na die hoeveelheid matrieks wat die jaar begin het, en hoeveel uiteindelik geslaag het, is die syfer nader aan 48%.

BoepensVark ·

Hoekom vra niemand hoeveel kinders gekondoneer is per graad nie, dan sal ons duidelik sien hoe die standaard van onderrig jaarliks afneem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.