Só betaal jy dalk gou meer belasting

Geskryf deur: Amanda Visser

Enoch Godongwana, minister van finansies (Foto: Elmond Jiyane/GCIS).

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het vandeesmaand die onbenydenswaardige taak om terselfdertyd kiesers te paai én belastingbetalers ʼn bietjie harder te druk vir inkomste in uiters moeilike finansiële omstandighede.

Daarom verwag kenners dat die regering vanjaar ʼn plan sal maak om meer belasting uit salaristrekkers te kry, sonder om die belastingskoers te verhoog.

Godongwana het reeds in November verlede jaar aangekondig dat hy bykans R57 miljard (billion) minder aan belastinginkomste verwag as waarvoor daar in Februarie begroot is.

Die regering het begroot vir belastinginkomste van R1,85 triljoen vir die nuwe belastingjaar wat in April begin, en moet dus ʼn bykomende R15 miljard invorder.

Dan dreig die regering boonop om ʼn reuse geldvraat soos die nasionale gesondheidsversekering los te laat, waarvoor die regering nagenoeg R296 miljard sal benodig.

Dit beteken belastingbetalers moet hulself staal vir belastingverhogings van een of ander aard.

Kleiner belastingbasis

Jean-Louis Nel, direkteur by Van Huyssteens Commercial Attorneys, sê die afwaartse aanpassing van R57 miljard is hoofsaaklik weens ʼn krimpende belastingbasis.

Hy verwag ʼn verdere inkrimping weens die langdurige uitwerking van beurtkrag op die ekonomie asook die uitwerking van hoë rentekoerse op verbruikers se besteebare inkomste.

Dit manifesteer in laer inkomste uit maatskappywinste en minder belasting uit BTW.

Godongwana het reeds in November die verwagte inkomste uit maatskappybelasting vir die 2023‑belastingjaar met bykans R36 miljard afwaarts aangepas en BTW met R26 miljard.

Die nuus dat daar min verligting gaan kom in 2024 is ontmoedigend vir gehoorsame belastingbetalers. “Dit is ongelukkig makliker om belastings te verhoog as om onbeheerste staatsbesteding aan bande te lê, veral as dit ʼn verkiesingsjaar is,” sê Nel.

Tertius Troost, senior belastingbestuurder by Mazars, sê omdat dit ʼn verkiesingsjaar is, sal die regering dit nie waag om die BTW‑koers te verhoog nie. Dit is weliswaar die maklikste manier om die staatskas voller te kry, maar die ongewildste.

Hy is groot voorstander van ʼn gespreide (tiered) BTW‑koers, maar die regering het, volgens hom, net nie die politieke wil om dit in werking te stel nie. Troost stel voor dat goedere en dienste wat hoofsaaklik deur hoër inkomstegroepe gekoop word, teen ʼn koers van 20% belas word en goedere en dienste waarop laer inkomstegroepe hul geld bestee teen ʼn 10%‑koers te belas. Die mandjie van 0%‑koers goedere word steeds behou.

ENSafrica se belastingspan sê ʼn 1%‑verhoging in die BTW‑koers kan nagenoeg R24 miljard vir die staatskoffers beteken. Dit is meer as die R15 miljard wat Godongwana nodig het.

Die gemiddelde BTW‑koers wêreldwyd is om en by 20%. Suid-Afrika se koers is tans net 15%.

Die ENSafrica‑span verwag wel dat die drempel vir verpligte BTW‑registrasie van R1 miljoen tot R2 miljoen verhoog sal word. Dié drempel is laas in 2008 verhoog.

Belastingkenners is dit eens dat persoonlike inkomstebelastingkoerse ook onveranderd gaan bly. Die top‑ marginale koers is reeds 45%. Kenners verwag egter dat die regering dalk ʼn ander haas uit ʼn hoed kan pluk, deur salarisskale nie ten volle aan te pas om inflasie in berekening te bring nie.

Verlede jaar het Godongwana verligting van R15.7 miljard gegee deur die belastingskale ten volle aan te pas.

Dit beteken dus dat salaristrekkers in ʼn hoër betalingskaal kan val indien hulle ʼn verhoging kry, maar daar is nie voorsiening gemaak vir fiskale sleuring nie.

Solidariteit het juis Vrydag by die minister gepleit om persoonlike inkomstebelastingkerwe vanjaar met meer as inflasie aan te pas. “Landsburgers is onder groot finansiële druk. Hulle kan beslis nie bekostig dat hulle verhogings swaarder belas word as wat reeds die geval is nie,” het Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), gesê.

Beter invordering, bestuur kan probleem oplos

Kyle Mandy, hoof van belastingbeleid by PwC, sê die belastinggaping (die verskil tussen dit wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens kan invorder en wat dit wel invorder) is nagenoeg R300 miljard.

As die belastinggaarder net 25% daarvan kan invorder, kan dit ʼn beduidende verskil aan Suid-Afrika se fiskale posisie maak. Dit sal genoeg ruimte laat vir belastingverligting en selfs die verlaging van koerse.

Hy sê dit sal ook help as die regering geld beter bestuur en korrupsie aan bande kan lê. “Dit is nie dat daar te min geld is nie, dit is eerder ʼn geval van ondoeltreffende besteding,” sê Mandy.

Du Buisson meen ook die probleem kan opgelos word deur uitgawes te verminder, eerder as meer geld in te kry.

“Hoe gebeur dit dat Suid-Afrika aansienlik meer aan onderwys as meeste ander lande bestee, maar ons uitkomste is doodeenvoudig pateties? Dieselfde kan gesê word van gesondheidsorg, polisiëring en allerlei ander departemente. Die insette en die uitkomste klop nie.

“Elke jaar praat die minister oor hoe oormatige uitgawes reggeruk gaan word, maar ons sien nie dat iets gebeur nie. Die staat se salarisrekening is die beste voorbeeld daarvan. Die rekening self is nie noodwendig so ʼn groot probleem soos die feit dat die opbrengs, in terme van produktiewe uitkomste, net die daar is nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

hpven ·

Hoe meer die ANC diepsakke plunder, hoe meer belastingbetalers emmigreer, hoe minder belastinggeld! Feit!
Ramaphosa en Pandor vra julle nuwe maatjies, of dalk Kuba vir hulp! Julle het Suid Afrika ‘n armlastige land gemaak! En ons tel voort!

Papsak ·

Ja die belastingbetaler moet hom maar net staal vir hoer en hoer belasting op alles hoekom maak hy dit so hoog vir hulle om meer te kan ry op belastingelde want hulle genuet mos belastinggelde vir rondrits ens

Impact ·

Ek moet liewers op my tande byt voordat ek kwytraak waaroor ek dalk uitgehaal sal word.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die R1.85 triljoen (18 nulle) is seker R1.8 biljoen (12 nulle).

Bolandse Nooi ·

Sit BTW op. Dan betaal ALMAL belasting, nie net sekere “rykes” nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.