Só lyk Mboweni se plan

Tito Mboweni, minister van finansies. (Foto: GCIS)

Die minister van finansies, Tito Mboweni, sê Suid-Afrika se allesomvattende reaksie op die maatskaplike en ekonomiese krisis wat die Covid-19-pandemie veroorsaak het, sal eindelik meer as R800 miljard beloop.

“Ons gesamentlike fiskale en monetêre beleidspakket is meer as R800 miljard, ʼn enorme reaksie,” het Mboweni gesê.

Die minister het vroeër vanmiddag meer besonderhede verskaf oor die enorme hulppakket wat pres. Cyril Ramaphosa vroeër bekend gestel het.

Die reaksie word in vyf dele verdeel, waarvan die eerste ʼn buitengewone gesondheidsbegroting van R20 miljard is wat aangewend moet word om die virussiekte te bekamp.

Die tweede gedeelte is ʼn beduidende verhoging in die verskaffing van ʼn sogenaamde maatskaplike veiligheidsnet. R50 miljard word geoormerk vir hulp aan diegene wat die swaarste deur die virus getref word.

Van volgende maand ontvang begunstigdes van kindertoelae ʼn bykomende R300.

In Junie word die stelsel aangepas en van Junie tot Oktober ontvang versorgers, gewoonlik ma’s, ʼn bykomende R500 elke maand. Alle ander toelae word die volgende ses maande met R250 verhoog. Die geld sal deur bestaande stelsels uitbetaal word, het Mboweni gesê.

Diegene wat glad nie enige toelae ontvang nie en werkloos is, sal vir die volgende ses maande ʼn toelaag van R350 ontvang.

(Argieffoto)

Mboweni het gesê maniere word ondersoek om betalings van dié toelae te vergemaklik. Daar word onder meer na selfoontegnologie gekyk om oorbetalings te doen. Hy het benadruk dat dié toelae tydelik is en in Oktober opgeskort gaan word.

Die derde gedeelte van die pakket behels omvattende belastingverligting en steun aan werkers.

Voorstelle sluit in: ʼn betaalvakansie van vier maande vir die vaardigheidsontwikellingsheffing; versnelde BTW-terugbetalings; uitstel vir die betaal van aksynsbelasting op alkoholiese drankies en tabak en uitstel in die betaling van werkers se belasting. Toegang tot lewende annuïteite is ook uitgebrei. Individue kan nou die bedrag wat hulle as maandelikse inkomste verdien, verhoog, pleks daarvan om ʼn jaar daarvoor te wag.

“Die gesamentlike uitwerking van dié inkomste- en uitgawemaatreëls het uiteraard die fiskale raamwerk verander. Ek sal binnekort ʼn hersiene begrotingswetsontwerp aan die parlement voorlê waarin al die maatreëls uiteengesit word,” het Mboweni gesê.

“Ons is saam in dié situasie. Suid-Afrika is veerkragtig en ons het die vermoë om saam moeilike tye te bowe te kom.”

Mboweni het gesê die vierde gedeelte van die hulppakket behels die geleidelike heropening van die ekonomie.

Daar sal in dié fase gekonsentreer word op sifting en toetse vir Covid-19 om ʼn veilige werksomgewing te verseker. “Dit gaan uiters belangrik wees om handel moontlik te maak, om ʼn uitvoerinkomste te verdien en om steun te gee vir sakeondernemings wat bedryf kan word. Die uitwerking van die verbod op sekere items moet ook in ag geneem word,” het Mboweni gesê.

Die minister waarsku egter dat die ekonomie nie dadelik gaan herstel nie. “Hoe langer groei swak bly, hoe groter is die gevaar dat die ekonomiese kapasiteit permanent verwoes kan word. Dít het weer ʼn ernstige uitwerking op die inkomste van huishoudings en ondernemings.”

Hy het gesê kommer oor die volhoubaarheid van Suid-Afrika se beleid het beteken die koste van skuld hier het vinniger toegeneem as in ander ontwikkelende lande. Die swak plekke in die stelsel was egter daar lank voor die Covid-19-krisis.

“Onvolhoubare staatsbeheerde ondernemings plaas enorme druk op die begroting. Hoe vinniger ons oplossings daarvoor vind, hoe beter.”

Mboweni het gesê hoewel daar ʼn groot behoefte aan korttermyningryping is, kan die langtermyngevolge nie uit die oog verloor word nie. “Ons moet verseker dat ons keuse nie ons toekoms verpand nie.”

Hy het gesê strukturele hervorming is nodig om weer lewe in die ekonomie te blaas.

“Virus of geen virus nie: Die ekonomie groei al té lank té stadig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Burgermeester ·

As Mboweni en Ramaphosa werklik daartoe gedrewe is om die land in die regte rigting te stuur, hoekom raak hulle nie ontslae van die BBB-EEE klassifikasies nie, en sommer op die koop toe, raak ontslae van staatsondernemeings wat die fiskus dreineer (bv. SAL)?

Willem ·

Die plan is juis op die BB EEE op n galop te kry. Daarom die 5 vlakke huidige besighede gaan sink want vlak 4 en 3 kan saam 4 weke duur.Die hulp pakkette sal hierdie besighede nooit sien

Pieter ·

Tyd om slim te wees, dit is duidelik dat die regering ons mense nie wil help nie, slegs hul rommelstatus ‘our people ‘, soos te sien is in hulppakette, WVF uitbetalings, geen hulp aan instellings soos die Abraham Kriel tehuis, ens. Betaal die keiser wat die keiser toekom, maar moenie jouself primêr vergeet nie. Wat keiser toe gaan, gaan jou nie help nie wanneer jy dit nodig het nie en sien jy nie weer terug nie.

marius ·

Beter plan . Verdeel dit tussen al die wettige inwoners gelykop as eenmalige betaling . Almal is dan finansieel geholpe en die ekonomie word onmiddelik aan die gang geskop .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.