Só ruk kosmandjie jou sak in Maart

Verbruikers moet in Maart meer opdok vir basiese kositems. (Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Die gemiddelde prys van ʼn huishoudelike kosmandjie is tans R5 277,93, aldus die jongste Household Affordability Index-verslag deur die Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity Group (PMBEJD).

Dit is 63c duurder as verlede maand, en R311,72 (6,3%) meer as in Maart 2023.

Volgens die PMBEJD se data het die prys van 28 kositems in Maart vanjaar gestyg, terwyl 16 kositems effe goedkoper is. Hierdie data is van toepassing op 44 basiese kositems van 47 supermarkte en 32 slaghuise in Johannesburg, Kaapstad, Durban, Pietermaritzburg, Mtubatuba en Springbok.

“Alle kosmandjies het nogal onvoorspelbaar gestyg en gedaal,” lui die verslag.

Kositems wat met 5% of meer gestyg het, sluit in kerriepoeier (6%), hoenderpote, vis (8%), tamaties (12%) en kool (12%).

Verbruikers moet ook meer opdok vir rys (3%), suikerbone (4%), stampmielies (2%), aftrekselblokkies (3%), tee (3%), hoendermagies (3%), hoenderlewer (2%), groenrissies (2%), Cremora (3%), geblikte bone (2%), grondboontjiebotter (3%) en bruinbrode (3%).

Kositems wat in Maart ietwat goedkoper is, sluit in wortels (-7%), botterskorsie (-20%), appels (-6%), lemoene (-22%), aartappels (-4%), beeslewer (-4%), spinasie (-6%) en witbrode (-2%).

Springbok hardste gelooi

Springbok in die Noord-Kaap se kosmandjie is die ergste deur prysverhogings geraak en was in Maart R288,84 (5,2%) duurder as die vorige maand, en R432,71 meer as in Maart 2023. Dit kos verbruikers in Springbok tans sowat R5 863 vir ʼn huishoudelike kosmandjie met basiese kositems.

Die Johannesburg-kosmandjie (R5 387) het vandeesmaand met R29,76 (0,6%) gestyg, en is R367,07 (7,3%) duurder as in Maart verlede jaar.

Die Durban-kosmandjie (R5 244) het in Maart vanjaar met R18,83 (-0,4%) gedaal, maar is R372,71 (7,7%) duurder as ʼn jaar gelede.

Die Kaapstad-kosmandjie (R5 159) was in Maart R47,55 (0,9%) duurder as in Februarie, en R230,83 (4,7%) meer as verlede jaar.

’n Kosmandjie in Pietermaritzburg (R5 122) het verbruikers in Maart R1,91 minder as verlede maand gekos. Dit is wel R229,78 (4,7%) meer as die gemiddelde kosmandjie in Maart 2023.

Die Mtubatuba-kosmandjie (R5 375,88) was in Maart R12,34 (-0,2%) minder as die vorige maand, en R225,50 (4,4%) meer as die vorige jaar.

Algemene werkers kry swaar

Die minimum loon in die land staan tans op R27,58 per uur en R220,64 vir ʼn agt uur lange werksdag.

Met 19 werksdae in Maart was die maksimum minimum loon vir ʼn algemene werker R4 192,16 – dit is minder as die prys van ʼn gemiddelde kosmandjie.

Dié minimum loon moet boonop werkers se afhanklikes ook onderhou. Die gemiddelde swart Suid-Afrikaner het vier afhanklikes.

Sou ʼn werker se minimum loon dus tussen vier mense verdeel word, beteken dit daar is R1 048,04 per persoon. Dit is onder die broodlyn van R1 558 per persoon per maand.

Luidens die verslag kos ʼn basiese voedsame kosmandjie vir ʼn gesin van vier in Maart R3 694,62.

Gegrond op die prys van elektrisiteit en vervoer in Pietermaritzburg, bestee algemene werkers 57,9% van hul minimum loon aan dié uitgawes.

Eers daarna word kos gekoop.

Dit beteken daar is veels te min geld oor om genoeg voedsame kos aan afhanklikes te voorsien.

Die verslag dui verder aan dat dit in Maart R941,89 gekos het om ʼn voedsame dieet vir ʼn kind te verskaf.

Huishoudelike en persoonlike higiëne-items

Die indeks vir huishoudelike en persoonlike higiëne-items dui op ʼn afname van R22,27 (-2,2%) vir Maart en ʼn jaarlikse styging van R78,64 (8,5%). Dit bring die gemiddelde koste van dié basiese items in Maart op R1 000,44 te staan.

Dit is alles produkte wat nodig is vir basiese higiëne, maar ding ook mee met noodsaaklike voedselitems.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

JohanR ·

Die prent saam met die berig se alles. Sal nie lank wees dan maak ons maar net ‘n groot pot pap elke dag!

Manie ·

Daar is geen manier dat ‘n gesin van 2 (man en vrou) met ‘n kosmandjie wat vleis, groente, vrugte, brood, algemene goedere en skoonmaak middels insluit, met onder R10 000.00 per maand kan wegkom nie.

Amelia ·

dit hang seker net af van waar mens koop bv spar en woolworths is baie duurder as bv shoprite

Rooi rissie ·

Nou hoe moet die arme pensioentrekker wat slegs Sassa kry oorleef met n skaamenlike R2000 n maand? Wat geen hulp van familielede kry nie. Hoe verwag die regering dat mense in hierdie land moet oorleef? Almal moet eet insluitend arme diere. Wat gaan aan die uitbuitende situasie gedoen word?Elke maand styg alles in SA. Waar gaan dit eindig?

Leeubekkie ·

Jislaaik. Ons pensioenarisse chop af. Tot boeliebief en pap raak vrek duur. Ek is op die punt om te sê: “Ek gaan kafee toe, niemand raak aan die boeliebief tot ek terugkom nie. Ek vat die blikkie se sleutel saam” ;-) Nee, maar grappie op ‘n stokkie. Almal trek noustrop. Hulle probeer bloed uit ‘n klip tap. En ja, baie aande eet ons boeliebief ook. Kerrieboeliebief met uie op rys is lekker :-)

Andries ·

WOW! R9 goedkoper op 25 grootmaat brode. En jy het ‘n kans dat dit sal sneeu in die woestyn as jy dink kookolie is goedkoper. Suiker, koffie, teesakkies, spagetti, rys en selfs sout het astronomies duurder geword.

Nommer 7 ·

@Amelia, ons koop ons pasta, grondboontjie botter, lang lewe melk, mostert, kruie, waspoeier en nog meer by Woolies, hulle is goedkoper as PnP.

Papsak ·

Alles raak net duurder en duurder hoekom weet ek nie ja een van die dae eet ons net pap en bene ??????

Ore ·

Die kettingwinkels boelie ons. Hoe regverdig (groen embleem winkel) ‘n verhoging van prys tov spagetti dit van R45.99 binne ‘n week na R50.99? Langlewe melk van R94 na R104? Waar is die klomp rade wat moet toesien dat die verbruiker nie so uitgebuit word nie?

Alida ·

Ek stem saam met Nommer 7. As ‘n mens jou pryse ken, is Woolies se spesiale aanbiedinge dikwels heelwat goedkoper as wat ‘n mens by enige van die ander supermarkgroepe kan kry. Maar ‘n mens moet gedissiplineerd koop en jou nie deur hulle ander lekkernye laat verlei nie.

Highlander ·

@Manie. Ons is gesin van twee. Beide rook. Beide is koeldrank drinkers. En ons eet een groot ete per dag en verder klein etetjies wanneer honger. Maar nie groot op vleis nie. Maar wel dan en wan. En nog NOOIT het ons maandelikse rekening naby R10000 gedraai nie. Ek beskou so iets vir twee mense as lekkerbekkig.

Highlander ·

@Ore. Die rade is een van die eerst goed wat die nuwe “regering” van ontslae geraak het.

Highlander ·

Ek het van tiener af in die 80’s geleer, honger is die beste kok. In die weermag en kollege het ek uitgevind niemand gaan dood van destydse Toppers Soya mince nie. So ja. Pryse is hoog, maar lekkerbekkige mense gaan die moeilikste aanpas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.