Só skep die Beweging ʼn toekoms vir Afrikaanse onderwys

Solidariteit bestuurshoof dr. Dirk Hermann. Foto: Reint Dykema

Die Afrikaanse private hoëronderwysinstelling Akademia sal eersdaags ook kan spog met sy ʼn eie splinternuwe kampus in die ooste van Pretoria waar 6 000 studente voltyds sal kan studeer.

Die grond vir die kampus is reeds verkry en die oprigting van die kampus sal na verwagting R1,5 miljard beloop. Die eerste student wat lesings op die kampus sal bywoon, sal reeds in 2021 op ʼn tussenkampus kan begin klas draf. Daar is ook planne om Akademia se sentrums dwarsoor die land verder uit te brei en tussen 30 en 40 bykomende grade word vir akkreditasie voorberei.

“Panyaza Lesufi, die Gautengs LUR vir onderwys, het stuipe gekry oor die kampus van Sol-Tech ter waarde van R300 miljoen wat nou gebou word. As Lesufi van Akademia se nuwe kampus hoor is ek bevrees die man gaan ʼn beroerte kry,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Hermann is een van die sprekers by die Solidariteit Beweging se tweede Toekomsberaad wat Donderdag in Moreletapark, Pretoria, plaasvind. Hy het met Maroela Media gesels oor die beweging se planne vir werk en opleiding wat tot en met 2030 strek.

“Akademia se kampus sal 6 000 studente kan akkommodeer en maak voorsiening vir koshuise, studentelewe en sportvelde,” het hy bygevoeg.

Hermann sê talle mense voel dat die land hulle opsygeskuif het. Daarom is een van Solidariteit se grootste uitdagings om weer ʼn tuiste vir die Afrikanerkultuur en Afrikaanse taalgemeenskap tot in 2030 te skep waarin hulle vry, veilig en voorspoedig kan wees.

“Hierdie 2030-blyplan word Donderdag bekendgemaak nadat ons reeds die eerste Toekomsberaad se doelwitte behaal en in sommige gevalle oortref het. Die jongste plan moet ook uitgevoer word te midde van ʼn onvriendelike staat wat verswak het,” sê Hermann.

“Die era van staatsbestuur is verby. Dit is nou tyd vir selfbestuur. Dié plan is ʼn gemeenskapplan, want hoe meer gemeenskap en hoe minder staat, hoe meer vryheid is daar.”

Hermann het benadruk die tegnologiese moontlikhede van die Vierde Industriële Rewolusie en die veerkragtigheid van Afrikaanse jong mense gaan antwoorde bring op uitdagings in Suid-Afrika waarvoor daar nie voorheen enige antwoorde was nie.

“Dit is ons geslag se verantwoordelikheid om te doen wat ons moet doen. Dit is ons verantwoordelikheid om die roeping van ons tyd te volg. Hierdie toekomsberaad is deel van ons antwoord op ons verantwoordelikheid.”

ʼn Netwerk van opleiding en werk

Hermann sê die Solidariteit Netwerk is ʼn groepering van instellings binne die Solidariteit Beweging wat fokus op beroepe sodat daar ʼn volle loopbaanpad saam met lede gestap word.

  • Akademia moet sorg vir hoë gehalte tersiêre onderrig in Afrikaans, terwyl die Skoleondersteuningsentrum (SOS) saam met sy vennote moet sorg dat daar in 2030 steeds wêreldgehalte, bekostigbare Afrikaanse onderwys is.
  • Die burgerregte-organisasie, AfriForum, help om die regte van skole te beskerm terwyl projekte soos Dink-of-Sink-debatkompetisie help met die ontwikkeling van kinders se kritiese denke.
  • Solidariteit Jeug help jong mense om voorbereid te wees om die arbeidsmark te betree en om in die mark geplaas te word. AfriForum Jeug wil vervreemding teenwerk en ʼn ruimte bied waar jong mense soos eersteklasburgers voel.
  • Die beroepsopleidingkollege, Sol-Tech, het reeds 1 200 studente in die onderskeie fases van opleiding in sewe ambagte. Sodra die nuwe kampus in 2020 in gebruik geneem word, sal dit dié Afrikaanse private kollege se kapasiteit verdubbel en sy opleidingsaanbod vergroot.
  • Bo-Karoo-opleiding in Orania is ʼn nuwe instelling wat fokus op bou-opleiding en die aanbied van ander vaardigheidskursusse.
  • S-Leer is op sy beurt verantwoordelik vir lewenslange leer. Dit plaas mense aan die voorpunt van die kennisgolf en daar word beplan om teen 2030 ʼn honderd kursusse in verskeie vaardigheide aan te bied. Die kursusse is in Afrikaans en word met gemengde leermetodes aangebied.
  • Die Solidariteit Helpende Hand-studiefondssentrum administreer reeds 200 fondse en het reeds R200 miljoen aan 5 000 studente uitbetaal. Daar word beplan om teen 2030 ʼn studiefonds van R1 miljard vir studente te hê.

Geld vir hierdie projekte

“Die groot vraag wat mense dikwels vra is: Waar kom die geld vir al hierdie planne vandaan? Die bedryfskoste van hierdie instellings word deur ledegeld die klein bydraes van baie mense, studentegeld, donasies en bemarkingsveldtogte gefinansier,” sê Hermann.

Dit is ook hier waar die eiendomsontwikkelingsmaatskappy Kanton in die prentjie kom.

“Kanton sal die eiendomsontwikkeling vir hierdie projekte hanteer. Sy bestaansrede is om lewensruimtes vir Afrikaans te bou. Die manier waarop dit gedoen word, is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal. Dit bied aan beleggers ʼn goeie finansiële en kulturele opbrengs terwyl hulle in eiendom belê.”

Hermann sê dit is die grootste werkplan nog wat skole, loopbaankeuses, studiehulp, opleiding, werkvoorbereiding, internskappe, werkplasing, beroepsgildes, beskerming in die werkplek, lewenslange leer, medies en pensioen insluit.

“Die toekoms is nie reglynig nie en die geskiedenis se probleme en uitdagings wat onoorkombaar gelyk het, kan soos mis voor die son verdwyn.

“Donderdag se Toekomsberaad wil antwoorde bied en die roepingsbewustheid wat ons het om te doen wat ons moet doen, bevestig dit.

“Ons mag, ons kan, ons wil en ons moet. Ons bou om te bly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

48 Kommentare

wilma ·

Lesufi is jaloers omdat als wat hul aanpak n mislukking is. go for it Solidariteit.

Frank ·

Altyd gedink my maandelikse bydrae verdwyn in ‘n gat, net solank dit my laat rustig slaap… Maar nou begin ek sien dat die bietjie wat ek gee werklik goed aangewend word om ‘n verskil te maak! Ons moet almal probeer om ons bydraes te verhoog. Ondenkbaar indien jy nog nie lid is nie! Uitstekende werk Solidariteit en Afriforum!! Ek verstaan egter dat dit gaan beteken dat dit die idee van ‘n eie staat gaan negeer, hierdie landswye ontwikkelings?

Saretha ·

Julle is wragtag die hoop-lig in ‘n bitter donker tonnel! Dit is te danke aan Solidariteit dat my meisiekind ‘n graad het… Dankie, dankie… murg is daar verseker in jul pype en goud van Afrika in jul binneste goed!

Erik ·

Ek hou van alles wat ek hier lees en kry sommer lekker! Welgedaan! Ek hoop Akademia is ‘n groot sukses en indien wel sal my kinders daar gaan studeer. Ek is seker werkgewers sal voorkeur gee aan Akademia studente aangesien die kwalifikasies wêreldgehalte sal wees.

Janneman ·

Ek hoor Lesufi leer nou Afrikaans aan.

Miskien kan hy n bestuurskursus by Akademia volg?

Trots op julle man. Ons moet nou al die Afrikaanses in die buiteland terug lok!!

Hoopvol ·

Dankie Dr. Hermann. Daar is nou hoop vir ons kleinkinders.

HEVW ·

Hier word gewis groot gedink en fyn beplan. n Baie groot bonus wat met gemeenskapselfstandigheid verkry word, is die baie belangrike wat al in ons era al weg gekwyn het, en dit is arbeidstrots en n volkseie besef. Ek hoop dit blom weer in die toekoms. Baie geluk Solidariteit, Afri Forum en die baie ander betrokkenis.

Landie ·

Dr Dirk Hermann jy praat my taal. Afrikaners wat planne maak en dit imsit in aksie. Welgedaan!!!! Baie dankie

Christel Cornelissen ·

Dagsê John
Baie dankie vir jou boodskap. Ons het die fout reggestel.
Groetnis
Christel
nms. Maroela Media

Dirk Bindemann ·

Baie dankie Solidariteit en Afri-forum en almal wat daarmee gemoeid is. Ek is dankbaar en trots.

Petrus ·

‘n Blik vol goggas word nou oopgemaak en gewone jong Afrikaners word in die spervuur geplaas van Solidariteit se bekgeveg met die ANC. Dis ‘n geveg wat Hermann en kie gaan verloor, en teen ‘n groot sosiale koste. Bly uit die regeerders se gesigte en bou die fasiliteite in Suid Kaap, gevolg deur ekonomiese ontwikkelinge daar. Daar kan van nuuts gewoeker word. Terloops, die Arbeidshof het Solidariteit se saak teen Regstellende Aksie verwerp. Die staat en korporatiewe omgewing in stedelike gebiede sal in elk geval weier om Solidariteit se kwalifikasies te erken. Dan sal jonges in elk geval moet emigreer.

Judge Dredd ·

….ek skenk my geldtjies met graagte aan Solidariteit en Afriforum.

Leon S ·

Ou swartgallige Petrus, jy het nog geen positiewe bydrae gelewer nie. Dankie aan Solidariteit. Terloops, my kwalifikasie wat ek verwerf het, kan baie maklik n positiewe bydrae lewer….het jy n meesters kwalifikasie???

@Petrus ·

Regtig? Solidariteit het van die bekendste en beste regslui in die landlewe wat goeie navorsing doen voor so ‘n groot projek. Ek dink in elk geval dit gaan oor Afrikaans, en nie oor velkleur. Ek is seker enige student, watter velkleur okal, sal daar kan studeer, mits hul dit in Afrikaans doen. Ek isis baie positief oor hierdie projekte.

Bloubloed maar bly in die Kaap ·

Petrus daar is baie besighede wat nie gepla is oor die Staat. Akreditasie gaan maklik weea in Suid Afrika.
Ek dink nie jou kommentaar dat die staat sal weier om Akedemia se grade te erken, het niks meet enige iets uittemaak nie.
Akreditasie het n minimum vereiste. Enige iets meer is n bonus.
Dit sal eerder n saak van diskreminasie teen werksaansoeker wees in die spesifieke werksaansoek.
Nou studeer jy by Tukkies of Stellenbosch in engels en gebuk onder n ongodwlike kultuur
Jy kan nogsteeds nie die werk by Staat of semi-staat kry nie.
Daar is baie afrikaanse kultuur in Pretoria en Johannesburg.
Dit gaan fantasties wees.
Waarmee ek wel saamstem is Suid Kaap het dit NOU nodig!
Daar is n sterk stroom vir Afrikaner Kultuur.

Petrus ·

@leon. Ek het ‘n PhD (Ing) en ‘n MBA. Ek besit klein ondernemings, nadat ek in die korporatiewe sektor gewerk het. Ek stel kundige mense aan en weet hoe werkgewers dink en optree, en al die risiko’s om sake te doen. Terloops, as ‘n 18 jarige het ek my diensplig by 1 Valskermbataljon gedoen.

Frik ·

Solidariteit dink dalk groot, maar saam met dit kom ander probleme. Met al die miljarde wat instroom sal regstellende aksie hulle ook tref.

Deon ·

Daar is dalk baie Afrikaanse kultuur in Pretoria en Johannesburg, maar gaan kyk maar na die ellende in en rondom die stede. Dan is die infrastruktuur besig om te knak. Elke dag is daar êrens in Pretoria en Johannesburg krag en/of water onderbrekings. Jaarliks stroom derduisende werkloses na Gauteng. En daar is nie water nie. So, Bloubloed, Gauteng is ‘n sinkende skip.

Dolf ·

Wat my wel bekommer Petrus, is dat korporatiewe burokrate ons toekoms beplan en nou besluite neem wat almal gaan raak, goed of sleg. Indien hierdie planne backfire het ons probleme. Ons het dit reeds met Steve gesien. En so stil stil het Virseker die AIG gelos met ‘n baie flou verkoning, want die realiteite het ingeskop. Afrikaners is ‘n minderheid en moet versigtig wees. Ons toekoms is belangriker as korttermyn arrogansie. Vakbondtaktiek gaan nie hier werk nie. Selfs die howe begin nou deurmekaar raak met al die sake. En regters is ook maar ongeduldig.

Neels ·

Leon, jy is seker nog jonk. Ouer manne het al baie beleef en val nie meer vir mooi stories nie. Soos die jare aanstap is ons maar geneig geneig om breër na dinge te kyk. Maar jy moet positief bly.

Mike ·

Dit klink goed maar hoekom moet ons dan steeds belasting betaal aan ‘n staat wat niks kan of wil voorsien nie?

Tonie ·

Hel maar jy is.slim …daar is n wêrel daar buite…nou eers so ver gelees om te sien ………..

Jimmy ·

Jy sal steeds jou belasting moet betaal soos voorheen. Indien jy van hierdie inisiastief wil gebruik maak sal jy ook moet betaal.

Grobler Steyn ·

Lesufi se futiele geveg teen die magte van die lig het weereens n bloedneus , duisternis sal nooit opgee nie daarom is die werk nooit klaar nie my aftrekorder is van November verdubbel

se maar net ·

Wonderlik om te sien wat kan gedoen word met klein donasies as daar nie ‘n kader is wat sy gedeelte eerste vat nie. Mag dit ‘n voorbeeld wees vir die regering van die dag, nie dat ek dink dit enigsins ‘n verskil sal maak aan die blatante wanbestuur en korrupsie wat tans aan die orde van die dag is nie.

Chris ·

Groot waardering aan Soldariteit,Afriforum
Helpendehand vir die deursettingsvermoe en leierskap

Lewies-bokwa ·

Ek voorspel dat 10 Oktober 2019 ‘n datum gaan word wat in die geskiedenis van Suid Afrika opgeteken sal word as die draaipunt van ongekende en astronomiese vooruitgang van die hele land. Mense hou van ‘n wenspan en wil nie met ‘n verloorspan geassosieer te word nie. Hierdie inisiatiewe van Solidariteit begin reeds geleidelik aandag trek, nie net uit wit geledere nie maar ook uit die “regdenkendes” en “versiendes” van ander bevolkingsgroepe wat nie alles meet aan swart en wit nie, ‘n Mens ervaar reeds positiewe tekens en gesprekke op inskakel en gesels-radiostasies. Om die “baba nou met die badwater uit te gooi” wanneer negatiewe gebeure die positiewe sake in Suid-A frika probeer verduister is om die magte van die duisternis verdere vatkans te gee. Kom ons ondersteun die pogings van Solidariteit met dit waarmee ons kan. “want ons wil saam bou aan die toekoms vir die nageslagte van hierdie land”

Gemaskerde Sopbeen ·

Dirk Hermann, dis nie genoeg om blanke Suid Afrikaners te vra om NIE te waai nie….Wat julle nou moet doen is om beurse aan te bied vir “buitelandse” blanke Afrikaanse studente….en sodra hulle graad vang, moet deel van die ooreenkoms wees dat hulle vir die termyn van die graad (3,4 of 5 jaar) in SUID AFRIKA bly en werk!!!! Julle koshuise gaan VOL wees!!

Antie ·

Bou nog, sodat hy sy beroerte kan kry, ons kan sonder hom klaar kom

jaco ·

Gaan dit alles werk?
1. Waar gaan al Akademia en Soltech se Afrikaanssprekende em seker meestal wit en kleurling gegradueerdes werk kry? Weet hulle van die nare werklikheid van regstellende aksie en BEE? Hulle kan ook nie almal in Europa, Amerika en Australië werk kry nie. Werk is nie onbeperk beskikbaar daar nie én BAIE van dié gegradueerdes sal nie verhuising na daardie lande kan bekostig nie.
2. Hoe kom Akademia en Soltech self by regstellende aksie en BEE verby? As hulle finansiële omset n sekere bedrag oorskry en/of hulle personeel n sekere getal oorskry, MOET regstellende aksie en BEE toegepas word. Onthou ook dat om dan die personeel met kleurlinge te laai om “non-racial” te lyk, nie werk nie. Dit word gesien as “window dressing”. Daars ook TALLE bewyse van gevalle waar kleurlinge en Indiërs al werk geweier is, “because they are not black enough”.
Hierdie besware van my is nie gebaseer op blote negatiwiteit nie. Dis gebaseer op harde ware feite. Lees net die regstellende aksie wette, lees koerant en kyk TV-nuus.

Kallie ·

Jaco, dit wat jy noem is die harde realiteite. Dit sal die jonges met hul blink ogies ook hard tref.

Therese van Schalkwyk ·

Briljante planne vir uitmuntende Afrikaanse instellings. Veels geluk en voorspoed!
Capitec Bank het vinnig die vóórste bank in SA geraak, dieselfde word voorspel vir die Solidariteit Akademies.
Hoë standaard Afrikaans ‘n besliste toelatingsvereiste vir ‘n voorspelde toestroming in die toekoms soos histories Afrikaanse universiteite al verder uitsak.

Nicola ·

Kan Dr Hermann nie tot president verkies word nie? Wys jou wat gedoen kan word as jy karakter het, eerlik is met met integriteit optree. “Ons” mense staan darem maar net kop en skouer uit en laat die ander net sleg lyk. Baie voorspoed en seen op hulle werk.

Stiks ·

Troos julle daaraan . Lesufie is maar net n politikus. Hulle raktyd is gewoonlik maar kort

Bertie ·

I love it!! go, julle, go!! ons BOERE sal NIE gaan Lê nie, come what may! Kry vir jou Lefusi of Lesufi (Lêsaamsoufi) wat ookal jou naam is. Jy WIL Afrikaans doodmaak maar jy gaan dit nie regkry nie. whahahaaaa

Christo ·

Dit wys net weereens dat wanneer die regte persone aan stuur van sake is, dan gebeur daar dinge………welgedaan Dr Dirk Hermann en Solidariteit.

Margaret ·

Baie dankie Dr Herman, Solidariteit en almal wat saam veg vir n beter lewe. Julle is n lig in ons donker tonnel.God seèn julle!!!

Dries Moolman ·

Mens kan maar net hoop Dr Hermann se voorspelling oor ou Lesufi word waar.

Nicola ·

Kan Dr Hermann nie tot president verkies word nie? Wys jou wat gedoen kan word as jy karakter het, eerlik is met met integriteit optree. “Ons” mense staan darem maar net kop en skouer uit en laat die ander net sleg lyk. Baie voorspoed en seen op hulle werk.

Stephan de S ·

Wat die tydelike aardse lewe betref, gee hd inisiatief my groot moed en opgewondenheid. Dit is iets waarby n mens betrokke wil raak…..goeie nuus tussen al die hopeloosheid. Ons moet aandag gee aan hd aardse lewe en die ordening daarvan om dit vir mense leefbaar, hoopvol en versorgend te maak. Die lewenstryd speel op aarde af,in die hiernamaals is geen stryd meer nie. Dankie, dankie vir mense wat in hd lewe vir mense hoop bring.

Susna ·

Waarom kry ek vandag, as Ouma….. die gevoel van VREDE in my hart na die lees van wat daar deur Solidariteit en Afriforum beplan word??? Duisend dankies aan positiewe optrede in n eens duister tonnel.

Jacobus ·

Ek weet 10 Oktober is Krugerdag en dit is dalk hoekom die Toekomsberaad op die dag plaasvind.

Maar daar is baie van ons wat dit graag sou wou bywoon maar op die dag moet werk en nie kan af kry van werk.

Wat is die moontlikheid om ‘n opvolg beraad op ‘n Saterdag te hou?

Wat is die moontlikheid om in elk van die 9 provinsies so ‘n beraad te hou versprei deur die jaar of 9 dae agter eenvolgend om sodoende meer mense te trek.

Dit sal ook interresant wees om na Donderdag se beraad te hoor wat die bywoners van die beraad se hoogste kwalifikasie, beroep, ouderdom, provinsie, stad/dorp is asook of die persoon ‘n akademikus of sake leier of normale belangstellende is.

Hoop Solidariteit sal die statistieke bekend maak.

sweis ·

Ek merk die laaste tyd dat al positiewe nuus wat ons kry is wanneer of Solidariteit of Afriforum daarby betrokke is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.