Só word bedreigde rietpaddatjie van uitwissing gered

pickersgill-rietpadda

ʼn Projek om die Pickersgill-rietpadda te bewaar het onlangs geskiedenis gemaak toe 200 nuwe lede van dié spesie in die paddatjies se natuurlike omgewing in KwaZulu-Natal vrygelaat is. Foto: Johannesburgse Dieretuin.

Die Pickersgill-rietpadda is dalk net 30 mm lank, maar die oorlewing van dié klein paddatjie is onontbeerlik vir die behoud van Suid-Afrika se biodiversiteit.

ʼn Projek om die Pickersgill-rietpadda te bewaar het onlangs geskiedenis gemaak toe 200 nuwe lede van dié spesie in die paddatjies se natuurlike omgewing in KwaZulu-Natal vrygelaat is.

Volgens Ian du Plessis, koördineerder van die bewaringsprojek en kurator van die amfibiese navorsingprogram aan die Johannesburgse Dieretuin, was dit ʼn eerste vir Afrika omdat die nuwe paddatjies gemerk is met ʼn spesiale merker om hulle te onderskei van die ander rietpaddatjies wat in die omgewing gebore is.

Dit is ook die eerste keer wat ‘n plaaslike dieretuin van die vasteland  soveel paddas in aanhouding geteel en weer in hul natuurlike habitat vrygelaat het.

Wat maak die Pickersgill so besonders? Dié rietpaddatjie, wat reeds lank op Suid-Afrika se lys vir ernstig bedreigde spesies is, kom uitsluitlik net ʼn die vleilande van St. Lucia tot net suid van Amanzimtoti aan die kuslyn van KwaZulu-Natal voor.

Paddas help nie net met insekbeheer soos om muskiete te vreet wat malaria kan versprei nie, maar dit is ook wat Du Plessis ʼn “aanwyserspesie” noem. “Paddas soos die Pickersgill wys vinnig uit as daar iets met sy natuurlike omgewing verkeerd is.”

Die vrylating van die paddas het plaasgevind ʼn jaar nadat die departement van omgewingsake kragte met Ezemvelo KZN Wildlife en die Johannesburgse Dieretuin saamgespan om dié besonderse paddatjie met die wetenskaplike naam van Hyperolius pickersgilli te red.

Ezemvelo KZN Wildlife en Johannesburgse Dieretuin het ‘n memorandum van verstandhouding gesluit met doel om die bewaringstatus van die padda te verbeter en die toekomstige oorlewing van die spesie in die natuur te verseker. Die departement van omgewingsake en die Endangered Wildlife Trust (EWT) ʼn biodiversiteitbestuurplan saamgestel.

Dierkundiges aan die Pretoriase Dieretuin het ook gehelp om die genetika van die Pickersgill-rietpaddas te ontleed en te verseker dat hulle swamvry is. Die EWT het die bewaringsprojek ook met veldwerk ondersteun.

Die Johannesburgse Dieretuin se teelprogram vir dié paddaspesie het drie generasies van die Pickersgill-rietpadda opgelewer met talle verskillende genetiese lyne. Foto: EWT/Facebook.

Die Johannesburgse Dieretuin se teelprogram vir die paddaspesie het drie generasies van die Pickersgill-rietpadda opgelewer met talle verskillende genetiese lyne.

“Ons het soveel uit hierdie teelprogram geleer dat ons nou weet die paddatjies het eintlik sewe ontwikkelingsfases en nie vier soos aanvanklik gedink is nie.

“Ons weet nou ook presies watter habitat die paddaspesie verkies en hoekom, en dit sal alles binnekort in ʼn wetenskaplike dokument gepubliseer word,” sê Du Plessis.

Die paddatjies is Maandagaand in die Mount Moreland- en Prospecton-gebied in die eThekwini-metro vrygelaat in dieselfde omgewing waar die 20 oorspronklike paddas vir die bewaringsprojek gevang is.

Paddas en ander amfibieë speel ʼn belangrike rol in die meeste ekostelsels, maar dit is tans die mees bedreigde klas van werweldiere wêreldwyd omdat ʼn chytrid-swam die spesie aanval.

Sowat ʼn derde van alle bekende spesies is tans as rooi gelys op die Internasionale Vereniging vir Natuurbewaring (IUCN) se datalys.

Dit is ook die geval in Suid-Afrika waar 30% van die land se paddaspesies as bedreigd gelys is.

Lede van EWT se span wat gehelp het met die vrylating van die Pickersgill-rietpadda vroeër hierdie week. Foto: EWT/Facebook.

Du Plessis sê hy en sy span het al in 2006 begin ondersoek instel om te kyk hoe hulle paddas en ander plaaslike amfibieë vir die nageslag kan bewaar. Dit het heelwat navorsing geverg aangesien paddas toe nog nie algemeen in dieretuine aangehou is nie. Die span wou ook vasstel wat gedoen kan word om ʼn volhoubare bevolking van die bedreigde paddas te teel.

Volgens die departement van omgewingsake kom 43% van Suid-Afrika se paddaspesies net plaaslik voor en 35% van die paddas is bedreig. Net een spesie van die bedreigde paddas is nie endemies nie.

Die meeste paddaspesies kom in KwaZulu-Natal voor, maar die paddas se voortbestaan in die natuur word verder bedreig deur hoë vlakke van menslike aktiwiteite, veral langs die kusstreke.

Habitatverlies, wat veroorsaak word deur vleilande wat gedreineer of vernietig word vir landbou-, stedelike en nywerheidsontwikkeling of die fragmentasie van die rietpaddatjie se habitat, is van die probleme wat die spesie in die gesig staar.

Verder hou uitheemse plantegroei, wat gebiede uitdroog, en besoedeling ook ʼn gevaar vir die voortbestaan van alle paddas in.

Du Plessis sê die bewaringsprojek het ook werk vir talle mense geskep wat nou aangestel is om die Pickersgill se natuurlik habitat te bewaar.

Die sukses van die Pickersgill-bewaringsprojek sal ook uitgebrei word om ʼn teelprogram van brulpaddas en ʼn ernstige bedreigde spesie van ʼn dwerg-skink, ʼn gladde soort akkedis met kort of afwesige ledemate en wat dikwels in sandgrond bly in tropiese en gematigde streke, in te sluit.

  • Kyk hier na video van die Johannesburgse Dieretuin oor die bewaringsprojek vir die Pickersgill-rietpaddatjie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

EP ·

Weereens a.g.v menslike oorbevolking en ons selfsugtige bestaan is ons besig om die natuur uit te wis!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.