SOE stuit verkoop van plaas wat bekom is met loterygeld

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Nationale Lotteries Commission/Facebook)

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het Vrydag bevestig dat hy ʼn interdik van die Spesiale Tribunaal bekom het om Phillemon Letwaba, voormalige bedryfshoof van die Nasionale Lotery-kommissie (NLC), en Johannes Letwaba, sy broer, te verhoed om ʼn plaas in Limpopo – wat met loterygeld gekoop is – te verkoop.

Die plaas is verlede jaar vir R7 miljoen geadverteer en word tans vir R5 miljoen aangebied.

Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SOE, sê ʼn bevel wat verlede Saterdag deur die Spesiale Tribunaal uitgereik is, het die Letwaba-broers verbied om die plaas op enige manier te verkoop, te vervreem, te verhuur, oor te dra of te skenk.

“Die plaas van meer as 300 ha is onder die naam van die Mosokoti Business Trust geregistreer waarvan die Letwaba-broers die trustees is.

“Die fondse wat gebruik is om hierdie plaas aan te koop kom van die NLC.

“Die plaas is tans in bewaring hangende die finale beslissing van ʼn siviele aksie wat binne 60 dae deur die SOE aanhangig gemaak sal word,” sê Kganyago.

Die SOE het glo ʼn wenk van ʼn fluitjieblaser ontvang dat die plaas tans op die mark is.

Kganyago sê nadat die ondersoekeenheid die wenk ontvang het, is ondersoek ingestel, waarna bevind is dat die plaas met behulp van NLC-fondse gekoop is.

“Ons het tot die gevolgtrekking gekom dat die Letwaba-broers miljoene rande se terugbetalings ontvang het van twee organisasies – die Lulamisa-gemeenskapsontwikkelingsorganisasie en die Tshikovha Graduate Academy – wat gebruik is om die plaas vir meer as R4,7 miljoen in 2016 te koop.

Lulamisa het in 2016 ʼn aansoekvorm om befondsing by die NLC ingedien. Op die aansoekvorm het die niewinsgewende-organisasie ʼn bedrag van R85 ​​miljoen versoek vir “die Statebondspele, wat die mense van Suid-Afrika sal bevoordeel en die Durbanse ekonomie ’n hupstoot sou gee”.

NLC het R80 miljoen aan Lulamisa in twee betalings van onderskeidelik R64 miljoen en R16 miljoen toegestaan.

Lulamisa het tussen 1 en 31 Maart 2016 verskeie betalings aan Iron Bridge Travelling Agency gemaak ten bedrae van byna R3 miljoen. Phillemon Letwaba se vrou, Rebotile Malomane, besit Iron Bridge Traveling Agency.

In April 2016 het Iron Bridge Traveling and Events R1 miljoen na prokureurs oorgeplaas.

Die tweede organisasie, Tshikovha Graduate Academy, het in Februarie 2016 deur die Konani Pfunzo Learning Centre aansoek om befondsing by NLC vir sowat R50 miljoen gedoen.

Kganyago sê die versoek het glo ten doel gehad om Tshikovha Graduate Academy, ʼn niewinsgewende organisasie, te help om 200 boorgate in Limpopo, Mpumalanga, Noordwes, Vrystaat en die Oos-Kaap te boor. In dieselfde maand is meer as R55 miljoen aan die Konani Pfunzo-leersentrum toegeken.

“Twee dae nadat hy hierdie fondse ontvang het, het Tshikovha Graduate Academy R4,8 miljoen na ʼn private maatskappy genaamd Redtaq (edms) BPK, oorgeplaas. Karabo Charles Sithole, die Letwaba-broers se neef, is die enigste direkteur van Redtaq.

“Op 1 Maart 2016 het Redtaq R600 000 na Iron Bridge Travelling and Events oorgeplaas, op 3 Maart 2016 het Tshikovha ʼn verdere R4,5 miljoen na Redtaq oorgeplaas en op 23 Maart dieselfde jaar het Redtaq R2,4 miljoen na prokureurs oorgeplaas.

“Op dieselfde dag het Iron Bridge Traveling and Events ʼn betaling van R366 000 aan dieselfde prokureurs gemaak.”

Kganyago sê die SOE se getuienis toon dat Letwaba die NLC se botsing van belange- klousule oortree het. Hy het ook die fondse wat aan die organisasie toegestaan is vir eie gewin gebruik.”

“Die interdik wat bekom is, is deel van die implementering van die SOE se ondersoekuitkomste en gevolgbestuur om kontant en bates – wat deur staatsinstellings weens beweerde korrupsie of nalatigheid verloor is – te verhaal.

“Die SOE is ingevolge proklamasie R32 van 2020 deur pres. Cyril Ramaphosa gemagtig om bewerings van korrupsie en wanadministrasie in die sake van NLC en die gedrag van NLC-amptenare te ondersoek en om enige finansiële verliese wat die staat gely het te verhaal.

“Die SOE word deur die Wet op Spesiale Ondersoekeenhede en Spesiale Tribunale 74 van 1996 gemagtig om ʼn siviele aksie in die Spesiale Tribunaal of die hooggeregshof in te stel om enige wangedrag wat dit in sy ondersoek aan die lig kom reg te stel,” sê Kganyago.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.