Soektog na gestremde man eindig tragies

Shane Jordaan (30) se liggaam is Saterdag in die Cullinan-omgewing gevind. (Foto: Verskaf)

’n Liggaam wat Saterdag in die Cullinan-omgewing gevind is, is vermoedelik dié van die verstandelik gestremde man Shane Jordaan (30), wat reeds weke lank vermis word.

Maroela Media het vroeër berig dat Jordaan op 4 Junie tussen 18:00 en 19:00 die laaste keer by die Kairos‑tehuis vir getraumatiseerde persone in Rayton gesien is, waar hy die afgelope 11 jaar ’n inwoner was.

Die liggaam is Saterdag ná nog ’n soektog deur die Deftac- en die Quatro-sekerheidsmaatskappy, die onderneming Braveheart, die SAPD en lede van die gemeenskap gevind.

Die Cullinan-polisie het bevestig dat die liggaam positief as dié van Jordaan geïdentifiseer is, hoewel DNS-toetse vandeesweek gedoen sal word om dit finaal te bevestig.

Volgens Jomari Delport van Deftac-sekerheidsdiens is Jordaan se liggaam op ’n rivierwal langs die ou Cullinan-pad wat na dié dorp loop, gevind nadat soekspanne die rigting van hul soektog verander het.

“Ons het hom onder meer aan sy klere uitgeken. Sy pa en suster was glo ook op die toneel.”

Daar is egter nie in dié stadium verdere inligting oor die omstandighede rakende sy dood beskikbaar nie.

“Ek wat self ’n mamma is, het maar soos enige ander ouer hoop gehad hom Shane met sy mamma en pappa te herenig. Ons is net bly die familie kan nou berusting kry en weet Shane is by Jesus,” sê Delport.

Die polisie het ’n verklaring na afloop van die vonds uitgereik en alle rolspelers vir hulle onvermoeide pogings om Jordaan te vind, bedank.

“Ons innige meegevoel en ons harte gaan na sy familie uit. Ons is vasbeslote om de ondersoek na sy dood voort te sit om ten einde afsluiting en vertroosting aan sy geliefdes te kan bring.”

“Dis so hartseer. Hy was vir 11 jaar deel van ons familie,” het Susan van Niekerk van die Kairos-tehuis gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jaco ·

Kan die tehuis nie hulle inwoners beter oppas nie? Dié arme man was verstandelik gestremd. Hoe is dit moontlik dat die tehuis se bestuur hom laat uitgaan op straat?

Mieke ·

Nee, dit hou hulle te besig om mense wat daar woon se sassa kaarte te vat en hulle te boelie as hulle nie wil saamwerk nie, daar is al n hele paar klagtes gewees van mense wat “val” so nou en dan.

Tanniepetoors ·

Dis baie hartseer. Sterkte aan familie en geliefdes. RIV.

johanf ·

Vind ń mens ooit totale berusting…. My innige simpatie aan die familie en naasbestaandes.
So tragies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.