Soektog ná tiener in see verdwyn

(Argieffoto: NSRI)

’n Soektog is aan die gang om ’n 15-jarige meisie wat in die see by Llandudno, Wes-Kaap, verdwyn het, op te spoor.

Volgens Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), was die tiener saam met ’n groep vriende by Llandudno toe sy moontlik van die rotse af gegly en deur ’n trekstroom meegesleur is.

Die Stad Kaapstad is eerste van die meisie se verdwyning in kennis gestel.

“NSRI Bakoven, NSRI Houtbaai en die stad se waterreddingsnetwerk is Vrydag om 18:05 na die toneel ontbied,” sê Lambinon.

Seereddingsvaartuie is in die water gestuur om na die meisie te gaan soek.

Verskeie wetstoepassingsowerhede, lewensredders, ambulansdienste en veiligheidsbeamptes is na die toneel ontbied.

“By ons aankoms op die toneel het ʼn see- en kuslynsoektog begin, wat insluit lewensredders en reddingswemmers wat in die see ingestuur is,” het Lambinon gesê.

ʼn Polisie-duikeenheid is geaktiveer en help ook met die opsporing van die tiener.

“Ten spyte van die uitgebreide soek-en-reddingsoperasie is daar steeds geen teken van die vermiste tiener nie.

“Ons gedagtes is by die familie en vriende van die vermiste tiener in hierdie moeilike tyd,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.