Soldate ‘nie toegerus, ondeurdag’ na DRK gestuur

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: ANA)

Dit is skynbaar maklik vir Suid-Afrikaanse politici om troepe na die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) te stuur om vredemaker te speel. Krygskenners waarsku weermaghoës egter dat selfs die mees bevoegde soldaat niks sal kan uitrig – of dalk selfs in ʼn lyksak kan terugkom – indien hulle nie goed toegerus word nie.

Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging, meen die vervanging van die Verenigde Nasies (VN) se vredesending in die DRK met troepe van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), onder leiding van die Suid-Afrikaanse weermag, is ʼn “roekelose besluit” wat moontlik die lewe van troepe in gevaar sal stel.

Prof. Theo Neethling van die Departement Politieke Studies en Regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), noem dit ʼn “futiele poging”.

“Indien ʼn VN-mag van duisende troepe nie die saak kon besleg nie, hoe gaan ʼn mag met soldate uit arm Suider-Afrikaanse lande dit doen … vrede bewerkstellig? Ek dink dit is ʼn geweldige fout.”

Maroela Media het vroeër berig Suid-Afrikaanse troepe is in Desember as deel van ʼn SAOG- militêre sending na die ooste van die DRK ontplooi, aangesien die Verenigde Nasies (VN) se vredesending in die DRK, Monusco, vanjaar ná 20 jaar eindelik tot ʼn einde kom.

Die VN se vredesmagte sal nou geleidelik onttrek word en die Suid-Afrikaners sal na verwagting saam met die DRK se nasionale veiligheidsmagte werk om die gevreesde M23-rebelle te beveg.

Die DA is egter bekommerd dat die troepe nie toegerus is om die taak aan te pak nie. Die party doen nou ʼn beroep op pres. Cyril Ramaphosa, in sy hoedanigheid as opperbevelvoerder van die weermag, om Suid-Afrikaanse troepe uit die ooste van die DRK te herroep sodra sy Monusco-verpligtinge tot ʼn einde gekom het.

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

“Dit is duidelik dat Ramaphosa ʼn politieke besluit geneem het om lede van die SANW in gevaar te stel sonder om eers die tegniese vermoëns wat tans in ons militêre waardeketting beskikbaar is, in ag te neem.

“Of Ramaphosa daarvan hou of nie, die SANW is in geen posisie om ʼn doeltreffende teen-opstandveldtog voort te sit nie, weens beperkte toerusting en hulpbronne om voldoende ondersteuning aan die grondtroepe te verskaf nie.

“Die DA maak ʼn geldige punt,” sê Neethling.

Hy glo egter nie dat Suid-Afrikaanse troepe onbevoeg is nie. Tog gaan dit “sukkel-sukkel” in Mosambiek waar troepe in die noorde van die land ontplooi is om vrede te help bewerkstellig.

“Ons troepe daar ontvang nie die nodige ondersteuning nie en hulle kry niks uitgerig nie,” verduidelik Neethling.

Marais én Neethling sê lugsteun is veral ʼn groot probleem. Die SANW het inderwaarheid in dié stadium geen Rooivalk-helikopter in die DRK beskikbaar nie en die vyf Oryx-helikopters in die DRK sal waarskynlik tot twee verminder word.

Dié krygskenners se grootste bekommernis is egter die troepe se teëstanders, die M23-rebelle, wat vir baie jare in die oostelike DRK sake doen en vertroud is met die terrein.

“Tensy die ingrypingsmag onder leiding van die SANW goed saamgestel is in terme van grootte en vinnige mobiliteit, sal hulle aan die genade van die M23-rebelle oorgelaat wees, wat bedrewe geraak het om guerrilla-taktiek te gebruik,” waarsku Marais.

“Hulle is moeilike kêrels,” sê Neethling. “Hulle is ingegrawe en beheer daardie gebiede.”

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

VN onttrek

Prof. Thomas Mandrup, medeprofessor aan die Sekuriteitsinstituut vir Bestuur en Leierskap in Afrika (SIGLA) aan die Universiteit Stellenbosch (US), het vandeesweek aan Maroela Media gesê die VN se geleidelike onttrekking uit die DRK was “suiwer ʼn politieke besluit”.

“Die Kongolese president het geweet dat hy herkies sou word en dan steeds nie sy belofte vir vrede sou kon nakom nie. Om die VN te vra om te onttrek en hulle ʼn mislukking te noem, het hom beter laat lyk.

“Dit was maklik om die skuld op die VN te pak in plaas daarvan om verantwoordelikheid te neem.”

Mandrup sê dit beteken egter allermins dat die die VN “onskuldig” is. “Hulle was passief. Hulle het nie genoeg gedoen nie. Hulle kon nie keer dat gruweldade plaasvind nie.”

Volgens Mandrup het sommige grondtroepe selfs begin wonder oor waarom hulle steeds daar is. “Hulle het besef dat die Kongolese president nie bereid is om die konflik stop te sit nie.”

Op ʼn vraag oor of Suid-Afrikaanse troepe nog in die buiteland ontplooi moet word, het Mandrup geantwoord dat dit nie die SANW se werk is om by die huis te bly en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se taak te vermag nie.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: PHILL MAGAKOE / AFP)

Neethling sê dit is ook uiters onredelik van die Suid-Afrikaanse regering om te verwag dat die weermag by die huis met enigiets van betogings tot ʼn pandemie moet help.

“Hulle is eintlik veronderstel om in die buiteland vrede te bewaar, maar nou moet hulle hier help met polisiëring. Hulle moet die Zama Zama’s help vastrek en Eskom oppas. Hulle moes tot al die Vaalrivier gaan skoonmaak. Die lys gaan aan … en die geld is nie daar nie.”

Mandrup sê dit is ʼn “demokratiese en praktiese probleem” wanneer ʼn weermag vir polisiewerk ingespan word. “Die weermag is uiteindelik ʼn instrument om die vyand met geweld te beveg en te verslaan. Hulle is nie daar om politieke betogings hok te slaan nie.”

Mandrup sê dit is boonop kommerwekkend dat die ANC nie oor ʼn duidelike buitelandse beleidstrategie beskik nie.

“Nou verhonger en onderfinansier hulle soldate … Dit is hoogs problematies dat politici nie verantwoordelikheid vir hierdie soldate aanvaar nie,” beaam Mandrup.

Marais sê die regering se prioriteite is duidelik misplaas aangesien hulle verkies om polities doeltreffende militêre ingrypings in die DRK na te streef, ten koste van die welsyn van die troepe en gewone Suid-Afrikaners by die huis.

Lede van die weermag patrolleer tydens die algehele afsondering. (Foto: SAPD/Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elméne ·

Hierdie “regering” van die dag met hul “puppet president” rama-nokio wys darem maar net weereens HOE pateties hulle is. Kan nie eens vrede en orde in SA verseker nie maar waaragtig, gaan steek hulle neuse in ander lande se probleme. GRAP VAN DIE EEU!! ha-ha-ha!!!

minnie muis ·

grappie … hul kon nie eers lesotho inval in … en dan baie soldate is hiv posetief volgens verig so jaar op meer terug … gaan hulle saam ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.