Solidariteit, AfriForum stuit vir eers toerisme-rassefonds

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die minister van toerisme (Foto verskaf deur Solidariteit)

Die Pretoriase hooggeregshof het Maandag ʼn interdik aan Solidariteit en AfriForum toegestaan wat die uitbetaling van enige gelde vanuit die departement van toerisme se ekwiteitsfonds belet.

Die twee organisasies het hulle op ʼn dringende basis tot die hof gewend nadat Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die minister van toerisme, aangekondig het dat die Toerisme-ekwiteitsfonds (TEF), die departement se fonds vir die herstel van die toerismesektor, slegs toeganklik is vir mense wat vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) kwalifiseer.

Pres. Cyril Ramaphosa en Kubayi-Ngubane het verlede jaar die TEF bekend gestel as ʼn instelling wat finansiering aan toerismeondernemings in swart besit verskaf tydens die Covid-19-inperking. Slegs ondernemings wat minstens 51% swart eienaarskap het, kwalifiseer vir lenings of toelae uit dié fonds.

“Solidariteit verwelkom die feit dat die departement van toerisme se rassefonds gestuit is,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. “Die regering verkeer onder ʼn wanindruk dat ras alles troef en bo die wet verhewe is. Om ras as kriterium te gebruik om ʼn sektor te hervorm wat as gevolg van ʼn pandemie op sy knieë gedwing is, is moreel onregverdigbaar. Die pandemie diskrimineer teen niemand op grond van ras nie, maar tog word hierdie ramp deur die regering uitgebuit en word slegs SEB-sakeondernemings van fondse voorsien ten koste van gevestigde ondernemings van wit eienaars wat genoop word om hul deure te sluit.”

Jacques Broodryk, veldtogtebestuurder by AfriForum, sê hierdie uitspraak is ʼn groot oorwinning teen die ANC-regering se institusionele rassisme teen minderhede. “Die rassistiese Toerismefonds bewys hoe ernstig die regering se rasse-ideologie-infeksie is, en die enigste immuunstelsel wat die regering se immorele rassediskriminasie kan beveg, is vreeslose burgerregte-waghonde soos AfriForum en Solidariteit.”

Kubayi-Ngubane moet nou die besluit, om finansiering slegs aan toerismeondernemings in swart besit te verskaf, onder hersiening neem. Geen aansoeke vir die TEF mag intussen geprosesseer word nie en geen uitbetalings mag gemaak word nie hangende die uitslag van dié hersiening.

Die ANC het vroeër Solidariteit en AfriForum se regsaksie teen die Toerisme-ekwiteitsfonds (TEF) as ʼn oorlogsverklaring teen “transformasie” en ʼn “inklusiewe ekonomie” bestempel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

Wit toeristebesighede moet eerder bly wees dat hulle nie uit dié noodfonds gehelp word nie. Gestel hulle kry hulp, dan moet hulle as deel van die aansoekproses ALLES van hulleself verklaar. Oor 1 of 2 jaar, wanneer radikale ekonomiese transformasie en onteiening sonder vergoeding begin, dan is daardie wit toeristebesighede wat so wonderlik “gehelp” is, bo aan die lys om summier afgevat te word. My raad, hou jou wit besigheid sover as moontlik van die anti-wit ANC-beheerde staat af weg. Onthou ook die volgende: die swart gastehuis kry staatshulp en kom weer op sy voete. Toeriste gaan bly weer daar.… Lees meer »

Ovelia

Dankie Afrifotrum en Solidariteit⁰ siekte ken ook geen ras nie. Die grootkoppe in parlement ht meer rassisme as ons in di middelklas. Ons werk saam enige ras

Tewie

Baie geluk ons is baie trots op julle wat julle doen en bereik. Wonder net wanneer al die mindere groepe gaan besef dat hulle geen regte het nie was dit nie vir Afriforum. Julle is Ysters. Baie dankie. Mense sluit aan by Afriforum en ondersteun hulle asseblief.

MakersMark

Nog een van our people se rassistiese inisiatiewe gestop. Dankie AF en Solidariteit.

Kokerboom

WEelgedaan Solidariteit/Afriforum. Ons moet die gekheid stuit!