Solidariteit en AfriForum vervolg Molefe

Adv. Gerrie Nel. Foto: Reint Dykema

Solidariteit en AfriForum het vandag aangekondig dat hulle adv. Gerrie Nel van AfriForum se privatevervolgingseenheid gevra het om te begin met ʼn proses om Brian Molefe, voormalige hoof van Eskom, privaat te vervolg.

Dit volg nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nog nie begin het om Molefe te vervolg na ʼn bedrogklag van Solidariteit nie.

Solidariteit het ook aangekondig dat hy ʼn lasbrief bekom het om beslag te lê op goedere van Molefe om Molefe se skuld aan Solidariteit na ʼn kostebevel teen hom, te vereffen. Solidariteit het die balju vandag versoek om voort te gaan met die beslagleggingsproses. Hierdie stappe volg nadat die hooggeregshof vroeër bevind het dat Molefe self betrokke was by die onregmatige toekenning van sowat R30 miljoen se pensioengeld aan hom. Hy het reeds R10 miljoen daarvan ontvang.

Brian Molefe (Foto: ANA)

Op grond van hierdie uitspraak het Solidariteit ʼn klag teen Molefe ingedien by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die NVG se spesiale ondersoekeenheid (die Valke). Solidariteit het ook navraag gedoen oor die vordering van die saak, maar geen reaksie ontvang nie. Dit blyk dus dat daar ten spyte van oorweldigende getuienis teen Molefe geen vorm van vervolging ingestel is nie. In die lig daarvan het Solidariteit adv. Nel gevra om met die nodige stappe te begin vir die private vervolging van Molefe.

Molefe het in die Konstitusionele Hof gepoog om hierdie uitspraak en die kostebevel teen hom omver te werp, maar hy het misluk.

Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is Suid-Afrika die afgelope maande deur die Zondo-kommissie en ander mediaberigte en gebeure gekonfronteer met bewerings van miljarde rande se bedrog en wanbestuur by verskeie openbare instellings.

“Wat egter duidelik uit die kommissie en andersins na vore kom, is ʼn totale gebrek aan verantwoordbaarheid. Suid-Afrika mag nie langer toelaat dat belastingplunderaars sonder gevolge wegkom nie,” het Hermann gesê.

Een sodanige belastingplunderaar is Molefe, voormalige hoof van Eskom. Die hooggeregshof in Pretoria het bevind dat Molefe homself verryk het deur onregmatig betrokke te wees by die toekenning van ongeveer R30 miljoen se pensioengeld, waarvan hy reeds R10 miljoen ontvang het.

Adr. Gerrie Nel, Dirk Hermann en Anton van der Bilj. Doto: Reint Dykema

Ten spyte van die duidelike bevindings van die hof het hy nog geen stappe gedoen om self die geld terug te betaal nie. “Dit is jammer dat howe die gewete moet word van sakeleiers wat hulself onregmatig verryk,” het Hermann gesê.

Solidariteit is reeds in besit van ʼn lasbrief vir eksekusie waardeur die balju beslag kan lê op Molefe se goedere. Solidariteit het vanoggend gevra dat die balju voortgaan met die uitvoering van die beslaglegging op Molefe se goedere by sy huis in Cornwall Estate, Pretoria.

Die goedere sal dan op ʼn openbare veiling verkoop word sodat Molefe se skuld van R708 102 aan Solidariteit vereffen kan word. Hierdie bedrag sluit die kostebevel in die Konstitusionele Hof uit. ʼn Finale taksering van hierdie koste moet nog gedoen word.

Solidariteit het ook reeds voorheen ʼn skrywe aan die Eskom-pensioenfonds gestuur waarin gevra is dat stappe gedoen moet word om die R10 miljoen wat Molefe reeds ontvang het, van hom te verhaal. Die pensioenfonds het aangedui dat hulle wag tot na die uitspraak van die Konstitusionele Hof voor hulle met die terugvordering van die R10 miljoen begin. Solidariteit het vanoggend ʼn skrywe aan die pensioenfonds gestuur waarin die fonds gevra is om onmiddellik voort te gaan met die invordering van die uitstaande geld. Solidariteit het ook reeds begin met voorbereiding vir regstappe om verdere druk op Eskom en die pensioenfonds te plaas om nie net die geld terug te vorder nie, maar ook verdere toepaslike stappe teen Molefe in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

ADK ·

Wel gedaan Solidariteit! Julle maak ‘n verskil, die ander unies kan def by julle leer hoe om ‘n positiewe verskil te maak, ipv net afbreek en brand.

Daan Erasmus ·

En Brain se geld het seker begin min word. Daardie tipe manne het groot lewens koste. Hulle lewe mos lekker. Nou gaan dinge begin moeilik gaan.

Ekke ·

Genade nee, mens kannie meer byhou nie. Dis verskriklik al hierdie miljoene en miljoene wat ter sprake is oral.

Elna ·

Laat geregtigheid geskied. Ek het baie respek vir adv Gerrie Nel ek wens hy kan ons land se president word dan sal dit dalk beter gaan. Molefe moet maar kry wat hom toekom as ook al die ander korupte amptenare in die ANC regering en die ander betrokke partye.

Johann cb ·

Ek is dankbaar om te sien dat ten minste één instansie die moed het om oortreders vas te vat!

piper ·

nou gaan jy sien hoe kan die man huil. die keer gaan dit nie n aangeplakte huil wees nie. ry hom ry hom lekker

Ja nee ·

Molefe is deel van die untouchables ,net soos Zuma gaan hy wegkom sonder om n sent te betaal. Ek hoop natuurlik eks verkeerd!

Cherokee ·

untouchables noem jy dit? So, jy sien werklik nie hoe Solidariteit hom touch nie? Jy moet rondkyk!

Kobie Welgemoed ·

Dankie Gerrie Nel en Afriforum. Dit gaan tyd vat maar hierdie skurke gaan betaal.

Strandloper ·

Mooi man!!! Ek is so trots om deel van jul te wees en te weet die kaders gaan boet vir hul dade! Vat nou biekie die zuma gedagte ook aan!

Koos de Meyer. ·

Hy moet nou maar een van sy huisies verkoop, daar is mos een by die dam en die ander een by Cornwill estate in Centurion.

Jurie ·

Wat hhyook onregmatig verkry het.Ondersoek dit ook sommer verder.

Siener van Melbourne ·

En as Afriforum konsekwent wil optree, inlyn met enige goeie regsstelsel, behoort hulle agter al die bedrieërs aan te gaan, wat die hele regering insluit nie net sekere individueë nie.

skalla ·

Dis goed en wel. Maar die werklike groot gevaar vir SA en sy mense is Malema. Sy haat uitsprake en rassisme veroorsaak die direkte dood van hoeveel mense? En niemand vat hom aan nie. Sy beweerde diefstal laat hom in weelde leef terwyl die massas kripeer en hy kom weg daarmee. Malema persoonlik is ons almal se groot gevaar, word wakker en sien die werklikheid.

Tino ·

Ek dink daar moet wye media dekking wees om die mannetjie te verneder met video en sosiale media terwyl die Balju sy besittings afneem om ‘n voorbeeld van hom te maak sodat ander kan skrik en hulle vingers vir hulle self hou in die toekoms.

JK ·

Adv. Nel moet sommer vir Molefe ook vra waar is die Transnet mense se geld wat hy ook gevat het en ons leef in elende en armmoede van dag tot dag

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.