Solidariteit vies oor ‘intimidasie van onderwysers’

(Argieffoto: Maroela Media)

Die Solidariteit Onderwysernetwerk sê hy gaan nie die regering se “intimidasie van onderwysers” oor taalbeleid en toelating duld nie.

Die waarskuwing volg ná uitsprake van die adjunkminister van basiese onderwys, dr. Reginah Mhaule, waarin sy aanvoer dat Afrikaans-onderwysers ook in Engels moet klasgee wanneer daar Engelssprekende leerders in hul klasse sit.

Mhaule het vandeesweek tydens ʼn vraesessie in die Nasionale Raad van Provinsies gesê indien die meerderheid leerders in ʼn skool Afrikaanssprekend is, ʼn Engelssprekende leerder nie weggewys kan word nie. Sy het ook aangevoer sommige mense wil skole beskerm asof dit hul eie is.

Die adjunkminister se uitsprake kom na aanleiding van gesprekvoering rondom die wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela), wat tans aan die gang is.

Die wetgewing beoog onder meer om besluitneming oor skole se taal- en toelatingsbeleid van beheerliggame na die staat oor te dra.

Johan Botha, hoof van Solidariteit se onderwysernetwerk, meen egter die ware doel van die uitlatings is om “vyandigheid teenoor Afrikaans in die samelewing te kweek, en om Afrikaans as onderrigtaal uit die onderwysstelsel te verwyder”. Hy sê die regering maak van Afrikaans ʼn sondebok om sy eie mislukkings in die onderwys toe te smeer en om potensiële kiesers deur die kaping van skole te probeer werf.

“Die adjunkminister se uitsprake is uiters onverantwoordelik. Sy skep die verwagting by leerders dat hulle net by Afrikaanse skole kan opdaag en dan hul onderrig in Engels kan verwag.

“Dit is ʼn blatante ondermyning van moedertaalonderrig en van die reg wat skoolbeheerliggame het om ʼn enkelmediumtaalbeleid vir skole te aanvaar en te handhaaf,” sê Botha.

Hy glo die adjunkminister probeer om onderwysers in Afrikaanse skole vanuit ʼn magsposisie met die uitsprake te intimideer.

“Om aan te dring op klasgee in Engels terwyl die skool ʼn Afrikaanse skool is, is onredelik en aanduidend van ʼn regering wat onderwysers wil boelie om sy ideologieë te verwesenlik. Die adjunkminister is doelbewus besig om die onderwyslandskap téén Afrikaans op te sweep.

“Mhaule plaas Afrikaanse onderwysers onnodig in die spervuur. Sy kan haar veel eerder daarop toespits om onderwysers van meer hulpbronne en groter kapasiteit te voorsien,” sê Botha.

Solidariteit sê die onderwysdepartement wil eintlik taal gebruik om mense uit te sluit en Mhaule se uitsprake dat die regering wél moedertaalonderrig na waarde skat, is volgens Botha net lippediens.

“Die regering se visier is veel eerder daarop ingestel om Afrikaans as onderrigtaal by openbare skole uit te wis,” sê hy.

Johnell van Vollenhoven, onderwysnavorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê die adjunkminister was wél in die kol met haar waarneming dat daar groepe is wat skole wil beskerm.

“Die waarheid is dat openbare skole aan skoolgemeenskappe behoort. Dit is elke gemeenskap se reg, en in hierdie geval selfs ʼn plig, om hulle skool teen ʼn magsbehepte regering te verdedig.

“Die regering bou nie skole nie en hy gee nie aandag aan moedertaalonderrig nie. Pleks van om na gehalteonderrig te strewe, probeer hulle skole kaap en word verdeeldheid deur middel van blaam gesaai om so in die beste belang van niemand anders nie as die ANC op te tree,” sê Van Vollenhoven.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Onnie ·

Mense skrik wakker. Maak nie saak wat ons sê of doen nie; die regering gaan in elk geval doen net wat hulle wil. Dis ‘n siek besigheid, maar dis ons realiteit.

Cherokee ·

Hou tog net asseblief op met die vervelige ‘skrik wakker’ rympie. Almal is wèl wakker. So, niks wat jy gesê het gaan realiteite verander nie. Konserwatiewes is lojaal aan die wense van Afrikaanssprekendes, om skole in ons eie taal te ondersteun. Ons veg teen ‘n oormag, maar die aanvoerders aan ons kant weet wat hulle doen. Én wawyd wakker.

Republikein in die Wes Kaap ·

So, ‘n Afrikaanse kind in ‘n Engelstalige skool kan dus ook aandring op Afrikaanse onderrig. Die minister moet net onthou dat ouers se geld laat die wiele rol. Ouers betaal ook sommige onnies se salarisse.

Catherina ·

….en n arikaanssprekende kind in n swart skool…gaan hulle hom ook in Afrikaans lesser gee

Marina ·

Duidelik weet die vrou watter skole presteer en daarom moet hierdie instellings aangeval en afgetrek word. Minderwaardigheids kompleks. In plaas van wanfunksionele skole ophef, word funksionele skole nou afgetrek na Afrika-standaard.

Ryan ·

Mense ons betaal die belasting. Weerhou, en sien hoe smeek hulle ons dan.

Amelia ·

As ons net weet hoe om belasting te weerhou glo my en sou niks betaal het nie en eerder in iets bele soos krag of om wel skole wat afrikaans is te onderhou

Koos 100 ·

In tipies ANC styl is dit mos makliker en goedkoper om dit wat werk af te breek, asom dit wat nie werk nie, reg te maak. Die ANC moet uitgestem word! So kan dit nie aangaan nie!

Cherokee ·

Ek is seker daarvan jy is reg! Laat ons hulle uitstem. Uit soos in by die deur uit.

Anel ·

Dis ook geen wonder dat die kinders wie se moedertaal nie engels is nie, maar nog steeds daarop aandring, sukkel met die taal. Engels is nou regtig nie een van die maklikste tale in die wêreld nie. Nou word daar van Afrikaanse onderwysers verwag om klas te gee in engels wat ook nie hul moedertaal is nie, in moeilike vakke soos wiskunde en wetenskap!! Pleks laat hulle hulle kinders skoolgaan in hul eie moedertaal, by onderwysers wat vir hulle in hul eie taal iets verduidelik. Dit gaan defnitief nie hier oor die kinders nie, maar oor die regering se idiologie. Dis ‘n wonder russies word nie as ‘n vak verplig nie!!!!

Willem ·

So ń Tswana kind in ń Afrikaanse skool moet in Tswana onderig word

annie ·

Engels, Engels, alles Engelsl Net Engels wat jy sien en hoor. In ons skole… word ons moedertaal vermoor. Gelukkig is die DA lief vir Afrikaans soos hul voorsate met baie Afrikaners in topposte… Wanneer ONS ‘n republiek is sal Afrikaans sekerlik deur dié party gesg word, soos die stemme en geld van Afrikaners. Stem vir John. Hy praat elke dag Afrikaans.

KB ·

Minister, die ouers het die keuse by watter skool hulle hul kinders wil inskryf. Begin sommer dààr, skryf hulle in by ʼn Engelse skool (as jy wil aandring op klasse op Engels!).

Catherina ·

Ai ai….minderwaardige uitspraak van minister. Can’t stand the fact that Afrikaans speaking school deliver top, disciplined students

Shakespeare ·

Reginah, met dit wat jy sê kan jy staatmaak om onder die top 10 rassiste te wees. Het jy darem graad 1 geslaag ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.