Sperdatum nader vir kommentaar oor Bela-wet

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash / Barry Zhou)

Die sperdatum vir kommentaar oor die omstrede wysigingswetsontwerp op die Onderwyswet (Bela) is Maandag, 15 Augustus.

Die parlementêre komitee vir basiese onderwys het die tydperk vir openbare kommentaar tot Augustus verleng, nadat dit aanvanklik op 15 Junie sou gesluit het.

In ʼn kwalik bedekte waarskuwing het ʼn groep van 20 uiteenlopende organisasies voorheen die regering trompop geloop oor die Wysigingswetsontwerp op Onderwyswette, algemeen bekend as die Bela-konsepwet. Die groep organisasies beywer hulle almal vir Afrikaanse onderrig in openbare skole.

Die openbare verklaring wat die meeste van die betrokke organisasies onderteken het, word beskou as ʼn onomwonde boodskap dat indien die Bela-wysigingswetsontwerp deurgevoer word, die vertrouensverhouding waarop ʼn nuwe bedeling ná 1994 gegrond is, onherstelbaar verbrokkel het en daar bande gebreek word met die bestaande orde.

Dit word as ʼn permanente ineenstorting van hierdie vertrouensverhouding bestempel en daar word gekommunikeer dat organisasies nie meer daarna in goeie trou met die regering sal kan saamwerk nie.

Die Bela-wetswysiging beoog om besluite oor skole se taal- en toelatingsbeleid in die hande van die staat te sentraliseer, maar dit word uit verskeie oorde gekap as ʼn poging om die land se skole – en spesifiek Afrikaanse skole – te kaap.

Baxolile ‘Bax’ Nodada, die DA se skaduminister oor basiese onderwys, sê dit is belangrik dat die komitee soveel as moontlik terugvoer ontvang oor die problematiese klousules in die wetsontwerp. Hy verwys na die “Lesufi-klousules” waar die mag van beheerliggame verwyder sal word om besluite te neem oor onder andere die skool se taalbeleid.

“Deur beheerliggame van dié magte te ontneem, beplan die departement van basiese onderwys om beheer oor staatskole te sentraliseer – nie in die hande van gemeenskappe en ouers wat weet wat die beste is vir hul kinders nie, maar in die hande van lojale ANC-kaders soos Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng,” sê Nodada. “Hy poog om staatskole te kaap.”

Nodada waarsku die Bela-wet versuim ook om die praktiese implikasies in ag te neem wanneer graad R verpligtend gemaak word en ontneem beheerliggame om ʼn besluit te neem oor die skool se finale toelatingsbeleid. Hy is ook besorg oor klousules oor tuisskool-onderrig.

Enigiemand wat kommentaar wil lewer oor die Bela-wet kan dit rig aan Llewellyn Brown, sekretaris van die komitee:

Die wetsontwerp is hier beskikbaar.

  • Maroela Media het reeds omvattend oor die bepalings van en kritiek op die wetsontwerp berig. Lees dit hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nicky ·

Daar is nie n sper datum nie, hulle sal maak soos hulle wil

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.