SR-lid bedank kort ná NWU skorsing ophef

Beàtha Groenewald is verlede week uit haar amp verwyder en toe vandeesweek weer in haar posisie herstel. (Foto: Facebook)

Die studenteraad-sekretaris van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus het Vrydag besluit om te bedank weens die NWU se “voortgesette boeliegedrag wat hierdie posisie vir haar ondraaglik maak”. Die besluit kom skaars ʼn dag nadat sy toegelaat is om weer haar posisie te beklee.

Beàtha Groenewald voer aan dat sy kort ná haar heraanstelling in kennis gestel is dat ʼn tweede mosie van wantroue teen haar ingestel word.

Dít nadat die NWU erken het dat die skorsing van Groenewald “ʼn fout” was.

Groenewald is op 13 Februarie uit haar amp verwyder nadat sy glo vir dorpskoshuise aan die Potchefstroom-kampus, wat glo “te wit is”, opgekom het.

Kort ná haar skorsing het AfriForum Jeug, wat Groenewald ondersteun in dié verband, ingetree en ʼn prokureursbrief aan die uitvoerende direkteur van studentelewe gestuur.

Sy is Donderdag, 10 dae nadat ʼn mosie van wantroue teen haar geslaag het, weer in haar posisie herstel.

René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug, sê die NWU probeer egter om lede van die publiek ʼn rat voor die oë te draai deur Groenewald weer aan te stel.

Volgens dokumente wat Maroela Media onder oë gehad het, het Yikumba Andreas, voorsitter van die studenteraad (SR), vyf minute ná die aankondiging dat Groenewald se verwydering van haar amp teruggetrek is ʼn e-pos aan al die SR-lede gestuur om hulle in kennis te stel van ʼn buitengewone vergadering om ʼn mosie van wantroue teen Groenewald in te stel.

Dié vergadering sou Saterdagmiddag plaasgevind het.

“Die dubbelsinnige boodskappe wat deur die NWU-strukture versprei word, saai groot verwarring en kom bloot voor as ʼn goedkoop oefening,” sê sy.

“Boonop word dit ervaar as voortgesette boeliegedrag wat ʼn studenteleier aanhou teiken nadat sy vir geregtigheid opgestaan het.”

Groenewald bedank omdat sy haar wil distansieer van die manier waarop die SR tans funksioneer. Sy voel dat dit teen haar morele waardes indruis en daarbenewens het die aanhoudende teistering en boeliegedrag vir haar onuithoudbaar geraak.

AfriForum Jeug het intussen onderneem om volgehoue druk op die NWU uit te oefen totdat geregtigheid geskied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Douglas ·

Groenewald het die regte ding gedoen, draai haar rug op die onkundige boelies, Sy is ver bo hulle kultuur,

Alex ·

En so gaan die rassime teen wit mense voort. Dit mag. Geen wet daarteen nie….

Mariana ·

Sommiges mense het nog standaarde waarvolgens hul lewe. Boeliegedrag is walglik.

Piet Snot ·

Sy sal inderdaad in ‘n ander land eindig, en daar oneindig beter doen as ooit in ZA. Dit sal ZA se verlies wees, maar ook sy eie skuld.

Hennie ·

Studente wat meer gepla is oor politiek as hulle studies die klomp van die SR klink dit my.

Peter ·

Moenie jou tyd mors met die patete nie, daar is baie geleenthede elders as hierdie banana republic

Di ·

Dis maklik om te te praat as jyself nie in daardie omstandigehede moet werk nie!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.