Staat nie ernstig oor grondhervorming – kenners

(Argieffoto)

Die besettingsdrama wat hom onlangs op die Mpumalanga-boer Paul Grey se plaas naby Morgenzon afgespeel het, het weer die vraag laat ontstaan of die regering se poging om grondhervorming in te stel, werklik suksesvol is.

Maroela Media het vroeër berig Grey se plaas is beset ná ʼn gronddispuut tussen hom en die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling.

Kenners glo dié voorval het ʼn moontlik vrugbare vennootskap tussen die boer en regering versuur en eindelik ʼn projek waar plaaswerkers en jong opkomende swart boere bemagtig sou word, in die wiele gery.

Volgens Robert Davel, uitvoerende bestuurder van Mpumalanga Landbou, is die voorval die gevolg van die departement se gebrekkige inwerkingstelling van beleid, onbeholpe administrasie en beweerde ongerymdhede deur amptenare.

Paul Grey (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

“Ondanks die staat se oënskynlike verbintenis tot ordelike grondhervorming op nasionale vlak, bevestig hierdie voorval amptenare op grondvlak se skynbare gebrek aan toewyding tot ordelike en volhoubare grondhervorming,” sê Davel.

Mpumalanga Landbou vind dit nou moeilik om hul lede aan te moedig om deel te neem aan grondhervormingsprojekte waarby die staat betrokke is.

“Ongelukkig dra hierdie voorval en die onbeholpe wyse waarop die departement hul verantwoordelikheid nagekom het, weinig by tot die vestiging van ʼn vertrouensverhouding tussen kommersiële produsente en die owerheid. Voordat die departement nie baie meer doeltreffend te werk gaan nie, bestaan daar geen motivering om betrokke te raak by die departement se pogings tot grondhervorming nie.”

Intussen moedig Mpumalanga Landbou sy lede aan om veel eerder gebruik te maak van die Pals-inisiatief, ʼn private inisiatief met die doel om die landbou in die provinsie te ontwikkel.

‘Grondhervormingstrategie ondoeltreffend’

grondhervorming

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Die regering se aanvanklike teiken was om 30% (sowat 23,7 ha) van Suid-Afrika se landbougrond teen 2030 aan swart boere te versprei.

Die Proaktiewe Grondverkrygingstrategie (Pals) is in 2006 aanvaar, wat die grondherverdelingsprogramme wat tussen 1996 en 2006 ingestel is, vervang het. Die verkrygingsprogram het behels dat die regering landbougrond – wat voorheen deur wit boere besit is – gekoop en aan swart boere herverdeel het.

Dr. Colleta Gandidzanwa, nadoktorale genoot van die Universiteit Pretoria (UP), prof. Johann Kirsten, direkteur van die buro vir ekonomiese navorsing aan die Universiteit Stellenbosch (US), en dr. Aart-Jan Verschoor, senior bestuurder van agrimetrie in die Landbounavorsingsraad (LNR), het in ʼn meningstuk bevind dat die Pals-strategie meestal ondoeltreffend was.

Volgens hulle kan die mislukking van die strategie hoofsaaklik toegeskryf word aan beperkte inwerkingstelling en monitering, swak institusionele kapasiteit en korrupsie.

Die meningstuk is gegrond op ʼn studie wat in 2019 vrygestel is, wat vars lig werp op hoe die Pals-strategie ontvou. Dit is saamgestel deur die LNR en aan die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming oorhandig.

Die belangrikste bevindinge van die studie was dat die prestasie van die meeste plase wat ingevolge die verkrygingskema gekoop is, teleurstellend was. Meer as die helfte van die huidige begunstigdes het geen noemenswaardige produksie aangemeld nie.

Gandidzanwa, Kirsten en Verschoor voer aan swak begunstigde seleksie, onvoldoende ondersteuning en infrastruktuur, en ongebreidelde misdaad is van die grootste redes vir hierdie swak prestasie. Na-vestigingsondersteuning is onvoldoende, en belanghebbendes wat aangestel is om die nuwe boere te ondersteun, is swak gemonitor en het nie op ʼn geïntegreerde wyse gewerk nie. Landbou-infrastruktuur, van die plaas af én op die plaas, het aandag nodig.

Die LNR se studie het ook tekens van agteruitgang op die plase bekyk.

Die begroting plaas veral groot klem op voedselsekerheid. (Argieffoto: Du Preez de Villiers/Maroela Media)

Daar is gevind dat byna die helfte (47%) van die plase ʼn mate van agteruitgang toon, terwyl 13% ernstig of erg agteruitgegaan het. Dit is gebaseer op ʼn evaluering van die grond deur middel van satellietbeelde en die data wat vir die plase ingesamel is, in vergelyking met die potensiaal gebaseer op grondvermoë-kaarte.

Altesaam 42% van kommersieel lewensvatbare plase en 53% mediumskaalse plase het tekens van agteruitgang soos erosie en oorbeweiding getoon.

Volgens die studie blyk dit dat die meeste boere geneig is om hoëwaarde-kommoditeite (vrugte, groente en veldgewasse) te vermy en hulle eerder tot vee te wend.

“Dit kan toegeskryf word aan ʼn gebrek aan vaardighede, waterbeperkings, onvoldoende geskikte infrastruktuur en roerende bates, of beperkte toegang tot kapitaal,” lui Gandidzanwa, Kirsten en Verschoor se meningstuk.

Volgens die drie kenners is die aansienlike getal (350) plase wat geen kommoditeite geproduseer het nie, kommerwekkend.

Die kenners maak wel die gevolgtrekking dat daar ruimte is vir die suksesvolle integrasie van plase wat onder die strategie verkry is, naamlik in winsgewende waardekettings.

“Maar om daardie mikpunt te behaal, moet bestaande beperkings aangepak word.”

Volgens die kenners sal die sukses van grondhervorming in die toekoms daarvan afhang om begunstigdes te kies op grond van die kriteria van entrepreneursaanleg, veerkragtigheid en tegniese vaardighede.

“Die kriteria wat in die Pals-strategie uiteengesit word, bepaal dat begunstigdes geëvalueer word. Dit blyk egter nie in die praktyk te gebeur nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.