Staat sluit saak teen Senekal-man

Abraham Fourie word aangekla van die moord op sy lewensmaat, Maryna Venter. (Foto: Anja van der Merwe/ Maroela Media)

Abraham Fourie (52) se verhoor word Donderdag in die rondgaande hof in Bethlehem in die Vrystaat voortgesit, waarna die staat sy saak gaan afsluit. Die verhoor het verlede Maandag begin.

Fourie staan tereg vir die moord op sy lewensmaat, Maryna Venter (49). Haar verminkte en erg gebrande liggaam is op 13 Junie in die paartjie se huis in Waterstraat op Senekal aangetref.

Fourie ontken skuld en voer aan dat Venter haar eie lewe geneem het.

Hy word ook aangekla van aanranding en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Fourie sal na verwagting weer vroeg in Mei in die hof verskyn wanneer die verdediging hul saak sal stel.

In ʼn pleitverklaring het Fourie beweer dat hy Venter op die betrokke dag vroegoggend op die slaapkamervloer langs die bed in die paartjie se huis aangetref het. Sy was volgens hom naak en het brandmerke aan haar liggaam gehad. Volgens sy verklaring het sy ʼn bottel brandewyn in die hand vasgehou en haar kop was vooroor gebuig.

Fourie sê hy het kunsmatige asemhaling (KPR) op haar probeer toepas, maar sy het glo geen teken van lewe getoon nie.

In sy verklaring beweer Fourie dat hy nie die aand van Venter se dood tuis geslaap het nie, maar in sy vragmotor wat voor die huis gestaan het. Hy was in daardie stadium ʼn vragmotorbestuurder.

Die nadoodse ondersoek bevestig die oorsaak van Venter se dood is veelvoudige trauma‑beserings en omvattende brandwonde.

Volgens dr. Herman van Schalkwyk, wat die nadoodse ondersoek gedoen het, is die brandwonde veroorsaak deur warm water. Hy het egter in die hof Fourie se bewering – dat Venter haarself met warm water gebrand het – betwis. Volgens hom is dit menslik onmoontlik. Dr. Chantelle Liebenberg, ʼn forensiese patoloog, het Van Schalkwyk se stelling in die hof bevestig.

Venter het erge beserings aan haar sternum, hart en longe opgedoen en haar hart was vergroot. Daar was frakture aan haar linker- en regterkantse ribbes. Sy het ook ’n oop wond op haar neusbrug gehad.

Liebenberg het getuig dat KPR nie heeltemal inpas by die oorsaak van die ernstige trauma aan Venter se bors nie.

Die klagte van aanranding teen Fourie spruit uit twee ander afsonderlike voorvalle. In een van die voorvalle het Fourie glo sy goeie vriend, Barry Heinrich Stander, aangerand. Die aanranding het glo gebeur op die aand voor Venter se liggaam gevind is.

Stander het verlede Dinsdag in die hof getuig Fourie het hom op 12 Junie ʼn vuishou op die neus gegee, nadat hulle volgens hom oor ʼn bottel brandewyn baklei het.

Die tweede aanklag spruit uit sy beweerde aanranding van Susanna Mynhardt (58). Hy het haar glo só gewurg dat sy haar bewussyn verloor het.

Mynhardt het Woensdag in die hof getuig die voorval het in 2009 by die Dennehof-woonstelkompleks op Bethlehem plaasgevind. Mynhardt en Fourie het albei in dié kompleks gewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

domheks ·

Hoop hy vrot in die tronk! As ons regstelsel net na behore werk!

Benn ·

Hoe word jy ‘n mens wat ‘n ander lewende wese so aanhoudend seermaak en martel? Kan jy dan nog ‘n mens genoem word?

Perdeby ·

Nee wat hy kan maar se net wat hy wil sy moeilikheid is geboek vir hom. Hoe moet jy toestemming vra om te gaan bad??? liewe hemel! Waar was haar familie in al die jare terwyl sy so aangerand was?? Seker ander pad gekyk! Wat haar besiel het om by so ‘n man te blyk gaan my gesonde verstand te bowe!

VaalDonkie ·

Jy kan die res van die berigte hier op MM lees. Hulle het haar telkemale gevra of hulle haar moet kom haal, maar sy het geweier. Ek sal natuurlik my dogter oor my skouer tel en haar teen haar sin in my kar inprop en huistoe vat as dit met haar moet gebeur.

YOLANDA ·

haar familie en vriende wou haar altyd help en wegneem.. sy self het geweier

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.