Staat wil appelleer in mislukte Nulane-saak

Die hooggeregshof in Bloemfontein (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Dit is ʼn “terugslag”, maar die staat gaan appelleer teen die besluit om die agt beskuldigdes in die Nulane-bedrogverhoor van alle aanklagte teen hulle vry te spreek.

Die hooggeregshof in Bloemfontein het verlede maand die beskuldigdes in die bedrogsaak van R24,9 miljoen vrygespreek. Hulle sluit in verskeie Vrystaatse staatsamptenare, die sakeman Iqbal Sharma, sy swaer, Dinesh Patel, en die voormalige Gupta-werker Ronica Ragavan.

Waarnemende regter Nompumelelo Gusha het die staat ook gekap oor ʼn gebrek aan bewyse.

“Hoewel die uitspraak ʼn terugslag is, bly die onafhanklike ondersoekdirektoraat (OD) gefokus en verbind daartoe om te verseker dat geregtigheid vir staatskaping en ander ernstige korrupsie binne sy mandaat geskied en dat diegene aanspreeklik sal boet en ontneem word van hul onregmatige winste,” sê adv. Andrea Johnson.

“Dit is ʼn stryd om die toekoms van ons land en een wat ons nie gewonne gaan gee nie. Maar dit gaan nie ʼn vinnige of maklike oorwinning wees nie.”

Volgens OD-woordvoerder Sindisiwe Seboka het die vervolgingspan tyd geneem om noukeurig deur die uitspraak te werk en is daar vervolgens besluit om ʼn aansoek om verlof tot appèl in te dien. Meer inligting hieroor sal volgende week bekend gemaak word.

“Ten spyte van ernstige kommer oor die uitspraak, wat in die hofstukke uitgestippel word en tydens die regsproses hanteer sal word, demonstreer die saak die dringende behoefte om die OD ʼn permanente instelling te maak wat die vereiste vaardighede het om misdaad te ondersoek en groter samewerking het, soos uiteengesit in die president se reaksie op die verslae van die Zondo-kommissie,” sê sy.

Die Nulane-saak is een van 34 sake wat die OD op die hofrol geplaas het en betrek 203 beskuldigde persone en 65 entiteite.

Die sake word bestuur in ooreenstemming met die OD se “nuwe proaktiewe benadering tot sake”, ʼn proses wat Johnson lei.

“Die proaktiewe ondersoek- en vervolgingstrategie prioritiseer sake en ken hulpbronne behoorlik toe om maksimum doeltreffendheid en impak te verseker,” sê Seboka.

Die NVG is intussen steeds diep bekommerd oor die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) se besluit om Suid-Afrika se aansoek om uitlewering van twee Gupta-broers van die hand te wys.

Nie net het die vervolgingsgesag deur Suid-Afrika se sentrale owerheid gewerk nie, hy het alles in ooreenstemming met die uitleweringsverdrag gedoen en ook aan alle ander versoeke van die VAE-owerhede gehoor gegee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

domheks ·

Hie-hie-hahahahahaaa! Kry eers julle huis in order VOORDAT julle appelleer. Iemand het halwe werk gedoen. Net soos in die guptas se geval.

Casper ·

Geld wat stom is maak alles reg wat krom is,lui die spreekwoord.Die Guptas het baie meer geld as die NVG.Wie het die saak ondersoek.As ek reg kan onthou was die huidige OB ook betrokke en ons weet hoe droog sy gemaak het.

SomeOne ·

wonderlike grap, ondersoekers, jullle weet net hoe om afskeep werk te doen
waarom laat vaar julle nie maar alle sake en gaan hou vakansie nie, tot jul “eendag” dalk weer kom werk

Henk ·

Lekker grappig die storie. Dis soos die anc wat demonstreer oor die anc se korrupsie.

Amelia ·

Ek glo nie een van die sal ooit tronk toe gaan nie die geld sal seker ook n ie terug betaal word nie Hier is te veel mense wat geraamts in die kas het

Nico ·

Sou hierdie saak andersom gewees het sou die beskuldigdes toe gesluit gewees het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.