Staatsrede: Sleutelhervorming kan kragkrisis help omkeer

Kgosientsho Ramokgopa, minister vir elektrisiteit, tydens ’n besoek destyds aan die Tutuka-kragstasie (Foto: SAgovnews/Twitter)

Vandeesweek se staatsrede bied aan pres. Cyril Ramaphosa die gulde geleentheid om sleutelhervormings aan te kondig om die kragkrisis in die land te help omkeer, het James Mackay, hoof- uitvoerende beampte van die Energieraad van Suid-Afrika gesê.

Hy meen daar is reeds goeie vordering gemaak om op terug te kyk, en sê die regering kan hul toewyding tot ʼn volhoubare energietoekoms in die land bevestig deur belangrike ingrypings aan die land bekend te maak. Dit sluit in om “verder te druk vir die aanvaarding van die Wysigingswetsontwerp op Elektrisiteitsregulering (ERA)” wat tans voor die Nasionale Vergadering dien.

“’n Sterk boodskap in hierdie verband is van kernbelang om die nodige beleggersvertroue te bou om ekonomiese groei en werkskepping te ontsluit,” sê Mackay.

“Wanneer besin word oor die sigbaarste deel van ons energiekrisis, naamlik beurtkrag, is daar toenemende vertroue dat die historiese afwaartse neiging van Eskom se aanlegbeskikbaarheid gestabiliseer het. Dit word ondersteun deur volgehoue positiewe prestasie by prioriteitskragstasies.

“Terwyl daar nog baie werk vir Eskom voorlê – veral met sy nuwe hoof- uitvoerende beampte wat op 1 Maart begin en die raad van die nuwe Nasionale Transmissiemaatskappy van Suid-Afrika (NTCSA) reeds in plek – is ’n duidelike boodskap van prestasie en aanspreeklikheid in Eskom belangrik.”

Volgens Mackay behoort die belangrikste hervormingsboodskap te wees dat die regering moet voortgaan om hom vir die goedkeuring van ERA te beywer, aangesien dit sal help om die fondament vir die langverwagte sektormodernisering te lê, onder meer die ontbondeling van Eskom en die bekendstelling van Suid-Afrika se eerste energiemark.

“’n Duidelike boodskap oor ERA sal vertroue in energiebeleid aansienlik verbeter, ook die belangrike behoefte om die kragnetwerk onder die nuwe NTCSA ui te brei.

Volgens Mackay sal dit help om die fokus na doeltreffende regulasies en implementeringskapasiteit te verskuif.

Hy het ook die departement van minerale hulpbronne en energie (DMRE) se aankondiging verwelkom dat die sperdatum vir openbare kommentaar oor die konsep‑ geïntegreerde hulpbronplan (IRP) 2023 met ʼn maand tot 23 Maart vanjaar verleng is.

Die IRP is ʼn elektrisiteitsopwekkingsplan wat poog om sekerheid van elektrisiteitsvoorsiening te verseker deur aanbod met vraag te balanseer, terwyl die omgewing en totale koste van voorsiening in ag geneem word.

“Dit is ’n geleentheid om die regering se verbintenis tot oop en robuuste debat oor nasionale energiebeleid te beklemtoon, wat veelvuldige en beduidende impak op alle Suid-Afrikaners het en dus toeganklik moet wees vir almal, ook arbeid en gemeenskappe.

“Ons realiteit is dat sakevertroue naby historiese lae vlakke is, wat lei tot voortgesette onwilligheid om die broodnodige kapitaalinvestering te maak wat nodig is om ons ekonomie te laat groei en werk te skep.”

Mackay sê dit word goed aanvaar dat die meerderheid van toekomstige energie-investering van die private sektor sal kom. Die vestiging van ’n nasionale energievisie wat die inkoop van die openbare én private sektor het, is dus van kernbelang.

“Dit is belangrik dat Sona die belangrike rol van die private sektor en die beduidende pogings van die sakesektor erken, én die versnelling van ’n beleggersvriendelike omgewing ondersteun.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

skurweberg ·

Hulle het nie eers meer geld om studente se studiesgeld te betaal nie. Waar gaan hulle weer SA uitverkoop om die krag en water krisis op te los.

They don’t even have money left to pay students’ study fees. Where are they going to sell out SA to solve the power and water crisis??

OW ·

Die President het vier jaar gelede die ontbondeling van Eskom aangekondig en dit bly by aankondiging.Hierdie jaar gaan ook net weer aankondigings wees.Teen hierdie slakkepas gaan niks vinnig gebeur.Die vorige” watch this space” van vorige jare is steeds vakant en die kanse is baie goed dat dit vakant gaan bly.Laat staan hierdie jaar se staatsrede en kondig aan wat is al bereik in die afgelope vier jaar.Dit sal baie mense interesseer,eerder as aankondigings.

Manie ·

In ‘n beskaafde land, sou die regering al lankal padaf gejaag gewees het.

Anel ·

Wst het hy die afgelope 4 jaar gedoen? Mooi praatjies probeer praat en sy gesig in ‘n glimlag getrek! En dit is waar dit bly. Wonder of hy ooit al die twak wat hy keyt raak verstaan? Daar was niks fout met ons krag toe hulle dit oor geneem het nie. Daar is ‘n werkende land vir die spul op ‘n skinkbord gegee en kyk wat het oor gebly? Vertrou niks wat enigeen van hulle kwyt raak nie. Het nog nooit nie en sal ook nooit nie. Bewyse van onbevoegdheid is so oud soos die berge!!!!

Andre ·

…solank ons steenkool gebruik, sal die kaders aanhou eet by die trog !
Dis al tradisie van die Guptas se tyd .

Johanncb ·

Eskom het ‘n kitsbank vol note geword. Vergeet van hervorming!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.