Staatsrede: Wes-Kaapse landbou soek meer as net mooi broodjies

AWK sê gegewe die geweldige negatiewe uitwerking wat beurtkrag op alle bedrywe het, verwag hulle dat Ramaphosa heelwat daaroor in sy toespraak sal sê. (Argieffoto: Jo Raubenheimer)

Die landbousektor is onder druk aan verskeie fronte en het tydens die Staatsrede meer nodig van pres. Cyril Ramaphosa as net mooi praatjies om stemme mee te werf vir die komende verkiesing.

Die president lewer sy jaarlike staatsrede Donderdag om 19:00.

“Alle sektore kry tans swaar, maar indien die kragkrisis nie dringend aandag geniet nie, sal Suid-Afrika se voedselsekuriteit in gedrang wees. Ons almal moet eet, maar sonder betroubare en volhoubare kragvoorsiening is dit problematies vir produsente om volhoubaar voedsel te produseer,” sê Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap (AWK).

“Ons hoop die regering besef die erns van die saak en ons verwag dat die president dit in die staatsrede sal pak.”

AWK sê gegewe die geweldige negatiewe uitwerking wat beurtkrag op alle bedrywe het, verwag hulle dat Ramaphosa heelwat daaroor in sy toespraak sal sê. Die organisasie verwag nie ʼn werkbare korttermynoplossing nie, maar sê hy wil graag sien dat die bedryf tot noodsaaklike diens verklaar word.

“Met die hewige druk wat nou op Eskom en die regering geplaas word, hoop Agri Wes-Kaap om ʼn aksieplan vir ʼn realistiese en werkbare langtermynoplossing op die tafel te sien,” sê Strydom.

Oor die hoë misdaadsyfer in die land sê AWK hy hoop die president maak ook uitvoerbare oplossings bekend om veiligheid te verbeter.

“Die jongste misdaadsyfers skets ʼn afgryslike prentjie van die huidige stand van sake in ons land. Die veiligheid van produsente, hul werkers en families sal altyd ʼn prioriteit vir die landbousektor wees aangesien misdaad ʼn aansienlike impak op landbouproduksie het,” sê Strydom.

AWK vra ook breedvoerige terugvoer oor die regruk van die sukkelende Transnet.

“Die dienste wat Transnet lewer, by hawens en met die spoorvervoer van landbouprodukte, is van kardinale belang vir die landbousektor.

“In die 2022-staatsrede het AWK die aankondiging van die infrastruktuurfonds verwelkom. Ons hoop vir verdere terugvoer oor dié fonds, wat padinfrastruktuur vir die volgende tien jaar ook insluit,” sê Strydom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Ou Ram het nie planne nie. Ontbondel en breek weg van die hool.

domheks ·

Praat, praat, praat in sy malle verstand in, maar DOEN niks nie. Mooi broodjies bak is CR se sterkste punt. Ken al die beloftes wat NOOIT realiseer nie. Ruggraat ontbreek.

Nommer 7 ·

Skaf invoerbelasting op alle kos af, dan eet ons lekker EN goedkoop.

Harley Davidson ·

Ek het dit al so baie gesê dwing ‘n referendum af en kry onafhanklikheid van Suid-Afrika dan is die weskaap se probleme op ‘n einde en daar is weer hoop vir Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.