Stapelvoedsel bly duur

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Kelly Common/Unsplash)

Die broodnodige voedselitems waarsonder die meeste Suid-Afrikaners nie kan klaarkom nie, was in Augustus selfs duurder as tevore.

Die jongste Household Affordability Index-verslag deur die Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity Group (PMBEJD) wys dat dit gemiddeld R42,40 duurder was om inkopies in Augustus te doen as in Julie.

Die voedselitems wat eerste geprioritiseer en gekoop word, ongeag prysstygings, bly vandeesmaand ook uitermatig hoog. Dit sluit in items soos mieliemeel, rys, meel, witsuiker, kookolie, sout, aartappels, uie, gevriesde hoenderporsies en brood.

In Augustus het die prys van rys met 5% gestyg, witsuiker en witbrood was 4% duurder en gevriesde hoenderporsies en wors kos jou 3% meer.

Verskeie soorte groente en vrugte se pryse het ook gestyg. Botterskorsie is 9% duurder, appels en lemoene jaag jou 8% meer uit die sak, piesangs is 4% duurder en spinasie en aartappels kos jou 2% meer.

Items wat as stapelvoedsel beskou word, kos altesame R2 826,37. Eers nadat dié items aangekoop word, word geld op ander basiese items bestee. Dit kos nou gemiddeld R5 124,34 om ʼn kosmandjie met net die basiese items te koop.

Dit is meer as R40 duurder as in Julie toe dit R5 081,94 gekos het.

“Die hoë koste van stapelvoedselitems beteken dat baie noodsaaklike kossoorte wat voedsaam is,  nooit families se borde bereik nie,” sê die PMBEJD.

“Daar is oor die algemeen ʼn baie klein verskeidenheid kossoorte op ons borde en ons kry nie die voedingstowwe wat ons liggame nodig het nie. Dit het negatiewe gevolge vir huishoudelike gesondheid en welstand, kinderontwikkeling en weerstand teen siektes.”

Dié stapelvoedsel is duurder in Augustus as in Julie.

Rysprys wisselvallig

Luidens PMBEJD se navorsing is rys, naas mieliemeel, een van die stapelvoedselitems wat die meeste in Suid-Afrikaanse huishoudings opgedis word. Die prys hiervan bly egter maand op maand uiters wisselvallig, veral nadat Indië onlangs ʼn verbod op rysuitvoere aangekondig het.

Die meeste van Suid-Afrika se rys word uit Thailand (76,5%) ingevoer, terwyl 19,1% van die rys van Indië afkomstig is. Een van die wêreld se grootste uitvoerders van rys in Indië het egter vroeër vandeesmaand besluit om met onmiddellike inwerkingtreding die uitvoer van sy rys te staak.

Indië se besluit is geneem om “voldoende beskikbaarheid” op tuisbodem te verseker en “die styging in pryse in die binnelandse mark [te] verlig”.

PMBEJD se navorsing wys dat die prys van rys in die meeste winkels gestyg het – sommige het effens gestyg, terwyl ander se pryse eksponensieel toegeneem het. Die rysverbod sal waarskynlik daartoe lei dat ryspryse wêreldwyd styg.

PMBEJD sê hy is bekommerd oor die moontlike verdere stygings in pryse, juis omdat so baie Suid-Afrikaners dit as ʼn stapelvoedselitem beskou wat vinnig en maklik is om te maak, veral te midde van voortgesette beurtkrag.

“Ryspryse in winkels sal noukeurig gemonitor moet word om te verseker dat Indië se rysverbod nie gebruik word om pryse op te blaas en hoër te maak as wat redelik of regverdig is nie.”

Inflasie op kosmandjiepryse per gebied

Inkopies in Kaapstad is ook duurder. (Foto:
pixabay)

In Augustus het die prys van ʼn mandjie kos in Johannesburg, Durban, Kaapstad, Springbok en Mtubatuba gestyg. Die pryse het slegs in Pietermaritzburg gedaal.

In Johannesburg was dit R64,28 (1,2%) duurder om ʼn mandjie kos te koop as verlede maand.

Inkopies in Durban was in Augustus R47,73 (1%) duurder in vergelyking met die vorige maand.

Diegene in Kaapstad moes ook R7,24 (0,1%) meer opdok vir hul inkopies. Hoewel die taxistaking oënskynlik nie ʼn regstreekse uitwerking op die prys van voedselitems in Augustus gehad het nie, het dit wel diegene beïnvloed wat inkopies wou doen.

Benewens die probleme wat ondervind is om by winkels uit te kom, was talle winkelrakke boonop leeg weens vertragings met aflewerings.

Inwoners van Springbok het R79,71 (1,5%) meer vir hul kosmandjie betaal en Mtubatuba het R54,51 (1,1%) meer betaal.

Inkopies in Pietermaritzburg was vandeesmaand R14,58 (-0,3%) goedkoper in vergelyking met die vorige maand.

Oor dieselfde tydperk verlede jaar (Augustus) het die prys van ʼn kosmandjie in al hierdie gebiede gestyg.

Huishoudelike en persoonlike higiëne-produkte

Die indeks vir huishoudelike en persoonlike higiëne-produkte het in Augustus toegeneem en bring die gemiddelde koste van dié items op R974,99 te staan; dit is R11,22 (1,2%) meer vergeleke met die vorige maand.

Dit is alles produkte wat nodig is vir basiese higiëne, maar dié produkte ding ook mee met noodsaaklike voedselitems.

  • Addisionele bron: AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

TrueMan ·

In die ou suid frika was noodsaaklike voedsel se pryse streng gereguleer sodat almal noodsaaklikhede kon bekostig. Dit was “terrible”

annie ·

Terrible? Wanneer was dit so ‘terrible’? Seker toe die Engelse nog aan die Kaap baas was, soos nou weer. Ertappels was ook duur toe Ierland net rys wou eet, of soiets. Iets ‘terrible’…

Cherokee ·

Klink nie of sy sukkel daarmee nie. Sy hanteer dit glad nie terrible nie, maar heel goed.

TrueMan ·

Graan raad, mielie raad, koring raad, sitrus beurs ens. Daar was selfs n huur raad wat verblyf huur gereguleer het.

annie ·

… hmmm…. En so oor ‘n maand koop ons groen ertappels wat die boer toe nie met sy opspaardery ten duurste verkwansel kon kry nie.

Piet parys ·

So gaan boer en waarom plant jy nie jou eie aartappels dan goedkoop nie of praat jy maar deur jou nek omdat jy on ingelig is .

J. J. ·

En dan beweer SA stats dat inflasie gedaal het…. Wat ‘n “grap”.

Nommer 7 ·

Die oplossing is eenvoudig, skaf invoerbelasting op alle voedsel af. Kaas as voorbeeld, se prys sal dan halveer.

Leana ·

Mens kan verstaan dat goed se pryse gaan opgaan, maar hoe hoër die pryse hoe swakker die kwaliteit. Ons groente en vrugte wat ons deesdae op die rakke kry se kwaliteit is regtig baie swak, dit is as of ons die uitskot goed kry. Die produk wat die boer nie kan uitvoer nie. Wat het geword van kyk na jou mense eerste? In die winkels kry jy net klein appeltjies, pere, piesangs en noem maar op.

Nommer 7 ·

Jy is so doodreg. Ek le^ die probleem voor die kettingwinkels. Hulle koop die swak gehalte by die produsente. Ek het al vele skrywes aan kettingwinkel groepe gerrig ivm suur vrugte wat aangekoop word. Kry geen terugvoer nie. Ook al by verskeie landbou organisies gekla oor swak gehalte plaaslike vrugte. Ook geen terugvoer nie. Daar behoort wetgewing ingestel te word dat produsente slegs mag uitvoer indien hulle dieselfde uitvoergehalte ook vir die plaaslike mark lewer.

TrueMan ·

Nee. Die ketting winkels wil graag goeie kwaliteit vars produkte he. Want hulle het te doen met die publiek. Probleem lê by die boere.

Piet parys ·

So gaan boer dat ons kan sien wat jy kan lewer . Ongelukkig wil die verbruiker die beste teen die laagste prys hê en dis n geval van die aankopers wat nie wil betaal vir kwaliteit nie want op swakker produkte maak hy meer wins en die verbruiker word dan in elke geval uitgebuit . Gaan kyk wat se belaglike pryse kry boere . 30% van wat die verbruiker betaal

TrueMan ·

Dalk as verbruikers weer direk by boere kan koop, sal hul bereid wees om meer te betaal. Deesdae is ingelegde vrugte beter kwaliteit as vars vrugte. NEt een maatskappy domineer die tamatie mark. Ek kan nie onthou wanneer laas ek BP1 aartappels gesien het nie. Hanepoot druiwe maak nie eers die winkel rak nie, maar swak druiwe kos partymaal tot R80 per boksie. SO waar kry jy jou inligting?

Nommer 7 ·

Hoekom verkoop boere dan die swakker produkte. Voer dit eerder vir die varke. Hoekom is beste gehalte vrugte van Egipte dan goedkoper as plaaslike swak gehalte vrugte?

Leana ·

Probleem is dat geen winkel of verbruiker deesdae meer direk van ‘n boer kan koop nie alles word op de sogenaamde vars produkte markte aangekoop en daar word jou produkte te veel hanteer. As jy gelukkig is en by ‘n boer iets kan koop vra hulle jou dieselfde prys as die winkel en partykeer nog meer.

Karoo ·

Mense, dis presies hoekom ek NET vleis eet, want my hoender, skaap, vark en bees het reeds alles geeet so ek hoef niks by te koop nie want vleis is reeds vrek duur.

Wondermaarnet ·

Alles is duur en ons moet maar betaal. Baie van ons betaal vir ander se water en krag en gelukkig hoef ons nie nog hul kos ook te betaal nie.

Leana ·

Die probleem is ons doen, ons betaal vir baie se kos. Weet jy hoeveel kospakkies word deur staatsinstellings elke maand uitgedee?. Daai kospakkies wordmet ons geld gekoop.

Miskruier ·

Die vorige berig, boer 71 jaar vermoor, stapel voedsel sal nog duurder word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.