Stappe begin om Eskom-verslag openbaar te maak

Argieffoto: GCIS

Stappe het begin om die verslag wat die Spesiale Ondersoekeenheid oor Eskom se geldsituasie opgestel het, in die openbaar vrygestel te kry.

Die verslag lê tans en stof vergaar in die presidensie nadat dit vroeër aan pres. Cyril Ramaphosa verskaf is.

Daar is groeiende kommer oor die elektrisiteitsvoorsiener se volhoubaarheid, veral noudat die minister van finansies, Tito Mboweni, aangekondig het dat die staat ‘n verdere kontantinspuiting van R17 miljard vir Eskom bewillig het. Mboweni wil hê die voormalige direkteur-generaal van die nasionale tesourie en vorige hoofamptenaar van Absa, Maria Ramos, moet as herskikkingshoof van Eskom aangestel word.

Die DA-LP Natasha Mazzone dring nou aan dat die ondersoekeenheid se verslag openbaar gemaak word, veral te midde van aanduidings dat Eskom die afgelope ses maande meer as R4 miljard se diesel verbrand het net om beurtkrag te vermy – en dit terwyl die nasionale regering die Wes-Kaap verhoed om afsonderlik van die nasionale stelsel krag te voorsien op goedkoper wyse deur die gebruik van vloeibare gas, waarvoor die provinsie reeds die nodige internasionale ooreenkomste aangegaan het.

Mazzone beweer voorts – en daag Eskom uit om die teendeel te bewys – dat die geld wat Eskom uit ‘n Chinese lening bekom het, gebruik word om lopende kostes soos salarisse te betaal eerder as om dit vir instandhouding of die skep van infrastruktuur te gebruik.

Boonop is alle aanduidings dat Eskom besig is om finansieel agteruit te gly. Die salarisooreenkomste wat aanvanklik verlede jaar aangekondig is, ‘n verhoging van 0% weens die instansie se probleme, is laat vaar ná druk van vakbonde en verhogings bo die inflasiekoers is tesame met ‘n bonus van R10 000 per werknemer toegestaan.

Teen 30 September verlede jaar was Eskom se skuld op R419 miljoen en die verwagting is dat dit sedertdien verder gestyg het.

Munisipale skuld aan Eskom het met 25% binne ses maande toegeneem tot R17 miljard. Dit sluit Soweto se skuld van R17 miljard uit.

In sy begrotingstoespraak in Februarie het Mboweni aangekondig dat ‘n verdere R69 miljard oor ‘n tydperk van drie jaar in Eskom ingepomp sal word. Van sy ander voorneme, om Eskom in drie te deel vir beter bestuur, het daar nog dadels gekom weens vakbond-teenstand.

Die nasionale elektrisiteitsreguleerder het in Maart Eskom se versoek om tariefverhogings van meer as 10% per jaar afgewys, en besluit op sowat 9%, sowat 8% en sowat 5% vir die volgende drie jaar. Dit sal Eskom verder strem.

Die verwagting is dat Eskom se verlies vanjaar R30 miljard sal beloop.

Vandeesmaand het die regering reeds R5 miljard bykomend aan Eskom beskikbaar gestel en die kredietagentskap Moody’s het Eskom as die grootste gevaar vir Suid-Afrikaanse kredietgradering bestempel.

Nou lê die winter voor en denkende Suid-Afrikaners hou die harte vas, want die aanvraag na elektrisiteit is in die winter veel meer as in die somer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
koue beer

Hout se pryse gaan seker opgaan…… ? Ons sal wel na die verkiesing weet wat aangaan

Deon

Privatiseer die sektor met Eskom as ‘n gewone deelnemer. Nuwe toetreders en die mark die sal die res doen.

Andreas

Maar Cyril loop en stemme werf, plaas dat hy hom daar by Eskom ‘n kantoor inrig. Dan Jan-Jan, hoe seker is ons dat daar nog krag oor ‘n maand gaan wees? Ek het idee hierdie mense ploeter/strompel voort op ‘n dag tot dag basis. Ek het idee ons kom elke dag net met die genade van bo deur. En veronderstel Ramos word aangestel, hoe lank gaan dit haar neem om die skip se remme aangeslaan te kry dat daar nie nog geld oor die rand van die oseaan stort nie, vergeet nou maar van dat sy kostes sal kan afbring.… Lees meer »

Johann cb

Ons gaan binnekort sonder elektrisiteit sit! Met ál die bedrog/diefstal en swak instandhouding, is dit ons voorland!

Gert Potgieter

Eskom is nou “Eishdom”
Gaar maar brandstof op vir die kragopwekker. Ons gaan dit nodig hê!