Stappe geëis ná gyselaarsdrama by myn

Lede van die mynwerkersvakbond Amcu vergader in die Gold One-myn in Springs. (Foto: Guillem Sartorio/AFP)

Die vakbond Solidariteit het ʼn beroep op die bestuur van Gold One Modder-Oos-myn in Springs gedoen om daadwerklike stappe te doen om dié wat verantwoordelik was vir verlede naweek se onwettige staking, verantwoordbaar te hou.

Honderde myners is vier dae lank ondergrond as gyselaar gehou, gemartel en uitgehonger. Die bende wat hiervoor verantwoordelik was, het klaarblyklik namens die mynwerkersvakbond Amcu eise aan die mynbestuur gestel.

Maroela Media het vroeër berig dat myners ure lank met pikstele en planke met spykers aan, aangerand is.

“Hier is genoeg wittes om dood te maak en dán sal hulle luister,” het een van die bendeleiers glo gesê.

Dit is die tweede soortgelyke voorval in minder as twee maande by dié myn, waar geskille tussen vakbondlede onder die dekmantel van ’n sitstaking ander werkers se lewens ernstig bedreig het.

Volgens Paul Mardon, adjunkhoofsekretaris vir strategie en volhoubaarheid by Solidariteit, is bewerings dat waarskuwings oor ’n herhaling van die ondergrondse sitstakings deur die mynbestuur geïgnoreer is, ʼn kwessie wat ernstig ondersoek moet word. “Basiese veiligheid in myne moet ten alle tye eerste gestel word, en enigiets anders as dit is net onaanvaarbaar. Solidariteit sal seker maak dat die mynbestuur hulle verantwoordelikheid in dié verband nakom.”

Hy sê die vakbond verwag verder dat streng strafregtelike en dissiplinêre stappe gedoen word teen die individue wat die sitstaking georkestreer en afgedwing het. “Dit is nie voldoende vir Amcu om hulle bloot van die optrede van die aanvallers ondergronds te distansieer nie. Ooggetuies is dit eens dat die aanvallers namens Amcu eise aan die mynbestuur gestel het gedurende die gyselaarsdrama wat vier dae lank geduur het.

“As daar enige getuienis is dat enige vakbond agter hierdie optrede skuil, dit aangemoedig, goedgekeur of selfs net toegelaat het, vra ons dat dit ook met erns ondersoek word, en dat stappe sal volg.”

Solidariteit het intussen ook onmiddellike sielkundige berading verskaf aan hul eie lede en hul families wat deur die aanvalle geraak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.