Tweede gyselaarsdrama by Gold One in Springs

Argieffoto van die Gold One-myn in Springs. (Foto: GUILLEM SARTORIO / AFP)

’n Tweede gyselaarsdrama speel hom by die Gold One-myn in Springs af.

Altesame 447 goudmynwerkers word tans teen hul wil ondergronds by dié myn aangehou terwyl 250 ander aan ’n sogenaamde sittende betoging ondergronds deelgeneem.

Die jongste gyselaarsituasie volg minder as twee maande ná die eerste gyselaarsdrama waaroor 50 mynwerkers net vandeesweek afgedank is.

Ziyaad Hassam, die myn se hoof van regsdienste, sê die jongste “gyselaarsituasie” het met die aanvang van Donderdag se nagskof begin. Byna 500 mynwerkers het by ’n skag afgegaan vir die oornagskof en nog nie weer na die oppervlak teruggekeer nie.

Volgens Hassam word die mynwerkers tans ondergronds gehou deur ʼn klein groepie werknemers wat klapmusse dra.

“Die rebelle het beheer oor die mynwerkers se sekuriteitstoegangskaarte oorgeneem sodat hulle nie ondergronds kan uitkom nie.”

Twee mynwerkers wat vroeg Vrydag kon ontsnap, het die gebeure aan die bestuur van Gold One bevestig.

Hassam sê die redes vir die jongste voorval was nie dadelik bekend nie, maar daar word vermoed dat dit verband hou met tugstappe oor die vorige voorval waartydens mynwerkers dae lank ondergronds gehou is.

Altesame 50 werkers is afgedank nadat die verhore Donderdag geëindig het.

’n Ondersoeker van Gold One wat by die dissiplinêre proses betrokke was, is vandeesweek om die lewe gebring.

Hassam het egter nog geen verdere besonderhede oor dié beweerde moord verskaf nie.

Maroela Media het vroeër berig 562 mynwerkers is in Oktober byna drie dae lank ondergronds by die Gold One-myn in Springs gehou.

Solidariteit het in daardie stadium gesê die drama het ontstaan weens Amcu se soeke na erkenning en organisatoriese regte by die myn. Dit was na aanleiding van die feit dat Gold One ingevolge ʼn geslotegeledere-ooreenkoms slegs NUM as vakbond erken het.

Amcu ontken egter dat enige werknemers in Oktober ondergronds aangehou is en sê al die werknemers het uit protes teen Gold One se bestuur geweier om die myn te verlaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frank ·

Die bestuur het netsoveel skuld want die sondebokke van laas keer het seker nog niks oorgekom nie omdat daar hel VER agteroor gebuig word vir die vakbonde en misdadigers, want iemand gyselaar hou is ‘n kriminele oortreding en moet / moes dienooreenkomstig hanteer gewees het.

Frank ·

Uhmm, ek sal volgende keer hele berig lees voor ek inspring met kommentaar

Jacobus ·

Laat my baie aan hamas dink in Israel. Laat myn sekuriteit sak en laat die hel los op hierdie klapmus draers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.