Stapper val na sy dood naby Stellenbosch  

(Foto: WSAR)

ʼn 41-jarige man is dood toe hy sowat 40 m ver geval het in die Jonkershoek-natuurreservaat naby Stellenbosch in die Wes-Kaap.

Volgens Wildernis-soek-en-redding (WSAR) het die man en nog ʼn persoon Vrydag opgestap na Tweede Waterval. By hul terugkeer na hul voertuig het die man skielik gegly en ongeveer 40 m ver geval.

Verbygaande stappers het verneem van wat gebeur het en het hulle teen die paadjie af gehaas om selfoonsein te kry ten einde alarm te maak.

Toegewyde professionele spanne en vrywilligers van WSAR, bewaarders van Cape Nature, provinsiale paramedici en Stellenbosch se brand- en reddingspersoneel is na die reservaat en het die roete opgestap om by die pasiënt uit te kom.

Op die toneel moes daar teen ʼn kloof afgeseil word om die pasiënt op te spoor. Die man was reeds dood. Sy liggaam is op ʼn draagbaar geplaas en na die voetslaanpad opgehys.

Reddingspersoneel moes die man se liggaam daarna sowat 5 km padlangs dra tot waar dit aan die polisie oorhandig is.

Die operasie is Saterdagoggend kort voor 02:30 afgehandel.

Die WSAR het sy innige meegevoel met die vriende en familie van die oorledene betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

christo ·

Ek kan myself net indink dat so ‘n tragedie in almal se geheue kan hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.