Steeds geen teken van Pta-man wat in see verdwyn

Kevin (28). Foto: Verskaf

Kevin (28). Foto: Verskaf

Daar is steeds geen teken van die 28-jarige man van Pretoria wat twee weke gelede vermis geraak het toe hy by Sodwanabaai in KwaZulu-Natal gaan swem het nie.

“Ons glo daar is nog hoop en sal aanhou bid,” het Kevin Annandale se biologiese pa, Corrie Jansen (52), Maandag aan Maroela Media gesê. Jansen, ʼn sakeman van Witbank, is daagliks in verbinding met die polisie in Sodwanabaai en owerhede wat by die soektog betrokke is.

Hy het gesê die soektog is afgeskaal, maar nog nie afgelas nie. “Bote in die omgewing is in kennis gestel om op die uitkyk te wees vir hom en die kuslyn word ook daagliks gemonitor.”

ʼn Sterk stroom het Kevin en twee van sy kollegas, Michael Louw en Mario Bouwer, op 15 Oktober omstreeks 17:40 meegesleur toe hulle gaan swem het. Hy is dieper in die see ingetrek voordat hy verdwyn het. Sy kollegas kon ná ʼn groot gespook daarin slaag om die strand te bereik.

Personeellede van die plaaslike iSimangaliso-vleilandpark, mariene beamptes van Ezemvelo en die polisie se duikeenheid, honde-eenheid en soek-en-reddingspan het sedert sy verdwyning na hom gesoek.

Jansen en lede van sy gesin het ná sy verdwyning ook na die omgewing gegaan om nader aan die soektog te wees.

“Ons was vir sowat ʼn week lank daar voordat ek moes terugkeer Witbank toe vir werk. Ons bly wonder wat van hom geword het en bly hoop. Ons sal eers die ergste kan aanvaar as sy liggaam gevind word.”

Jansen sê hy en sy seun is twee jaar gelede weer herenig, nadat Kevin in die sorg van pleegouers in Pretoria grootgeword het.

“Ek het hom die week, voordat hy verdwyn het, vir die laaste keer gesien. Hy is ʼn baie liefdevolle seun en baie lief vir sy twee kinders, ʼn sewejarige seun en agtjarige dogter. Hy is ook baie hulpvaardig en vol selfvertroue.”

Kevin is van Capital Park in Pretoria, maar het die afgelope paar maande in Piet Retief in Mpumalanga gebly, waar hy gewerk het as tegnikus vir ʼn onderneming wat lugversorgers installeer.

Jansen het gesê die gesin en van Kevin se vriende beplan om binnekort ʼn gedenksteen vir hom op te rig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marcelle ·

Mis jou baie op site, dis morsdood stil hier, jou ouens mis jou ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.