Steenhuisen uitgedaag tot openbare debat

Die DA-leier John Steenhuisen. (Foto: Courtney Africa/ANA)

Dit gons in die DA nadat een van die party se leierskapskandidate, Mbali Ntuli, een van die ander kandidate, John Steenhuisen, tot ʼn openbare debat uitgedaag het. Steenhuisen het egter aangedui dat hy interne debatte verkies.

Met die vorige DA-leierskapsverkiesing in 2015 het albei kandidate, Mmusi Maimane en dr. Wilmot James, nie weggeskram van ʼn openbare debat op televisie nie.

Ntuli het Maandagoggend tydens ʼn mediakonferensie in Durban die uitdaging tot ʼn reeks van vier televisiedebatte aan Steenhuisen gerig. Sy het uitgewys dat mense moeg is daarvoor dat politici besluite agter geslote deure neem, en gesê die debatte is ʼn geleentheid om te toon dat die DA ʼn openlike party is met niks om weg te steek nie.

In ʼn antwoord wat Maandagaand aan Maroela Media verskaf is, het Steenhuisen laat weet hy respekteer die besluite van die party en die voorsittende beamptes om te bepaal wanneer en hoe enige interne debatte sal plaasvind.

Mbali Ntuli. (Foto: Facebook)

Hy het niks gesê oor die openbare debatte wat Ntuli aangevra het nie, maar uitgewys dat individuele kandidate nie oor kongresprosedures kan besluit nie. Hy sal hom neerlê by wat die party ook al besluit.

Ntuli het ook Maandag haar kommer oor die tekortkominge van ʼn virtuele stemproses uitgestippel. Die DA sal sy nuwe leierskap virtueel verkies op sy aanlyn kongres wat later vanjaar plaasvind, het Maroela Media in Julie berig.

Benoemings vir die leiersposisies sal op 1 September open en op 10 Oktober sluit. Nyuli het kennersmenings van binne en buite die DA aangehaal om te toon dat die stelsel wat gebruik gaan word, nie kan bepaal of diegene wat gestem het, wel stemgeregtig is nie. Dit het ook nie genoegsame kontroleringsvermoë dat die geldigheid van die uitslae verseker kan word nie.

Sy het hierdie kwessies in besonderhede uiteengesit in ʼn formele brief aan die landwye voorsitter van die DA, dr. Ivan Meyer, en wag nou op sy antwoord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anoniem ·

Nes ‘n mens dink dat al die vuil wasgoed nou skoon is dan kom die volgende bondel.

Deon ·

Moenie wegskram nie, vat haar aan en laat die beste een wen. Dit is vir die goed van die party

Cornelius ·

Sy lyk na n slim dame. Miskien is ou Steenhuisen bang vir haar.

Adeline ·

“Geen huis wat teen / binne homself verdeeld is – sal bly staan nie”.

gatgogga ·

Jy het geen keuse nie, John, jy sal haar uitdaging moet aanvaar.

Fedup ·

Ntuli is extremely open minded and get to the point. One thing i like about people. Steehuisen should really give it a go for a round or two with her. He might learn something from her.
If he want to safe this broken wheel, he should make an effort.

Ferdi ·

Dit sal goed wees om dit te doen, anders as die ANC wat alles onderlangs konkel.

JohanR ·

Waar was , Mbali Ntuli vanaf 26ste Maart…..nerens, en het niks van haar gehoor oor niks nie? Ek sal liewer iemand volg wat vir 5 maande al in die loopgrawe geveg het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.