Steenkoolmyn by Rietvlei kan waterstelsel ‘besoedel’ – VF Plus

Rietvlei-natuurreservaat (Foto: Verskaf)

Daar is toenemende kommer oor die myn in die omgewing van die Rietvleidam en -natuurreservaat in Pretoria wat aansoek gedoen het om sy kleimyn-bedrywighede uit te brei en ook steenkool te myn.

Tans is Corobrick, wat die myn besit, net gemagtig om vir klei te myn vir die maak van bakstene.

Volgens Dehan Harmse, VF Plus-raadslid in die Tshwane-metro, kan die myn van steenkool die waterstelsel in die gebied moontlik besoedel.

Boonop lyk die omgewingsverslag wat saam met die myn se aansoek ingedien is, “verdag”, sê Harmse.

Maroela Media het vroeër berig die burgerregtegroep AfriForum is ook bekommerd oor die “uiters gebrekkige” omgewingsimpakstudie wat gedoen is ter stawing van omgewingsmagtiging vir die steenkoolmyn.

Dié burgerrregteorganisasie het uitgewys hoe die verslag deurspek is met teenstrydighede en dit lyk asof gedeeltes van die teks sonder enige aanpassing uit ander verslae gekopieer is.

Die departement van minerale hulpbronne en energie het die myn vroeër vanjaar gemaan om ʼn terugwerkende aansoek vir omgewingsmagtiging in te dien. Die opdrag volg nadat dit aan die lig gekom het dat steenkoolreserwes wat gedurende die kleimyn se gewone bedrywighede blootgelê is, sonder die nodige magtiging gemyn word.

Die aansoek is onderworpe aan ʼn basiese impakbepalingsproses en die Konsep Basiese Impakbepalingsverslag is tans vir openbare kommentaar beskikbaar.

“Die Rietvlei-natuurreservaat staan onder Pretorianers bekend as ʼn toevlugsoord in die natuur en is die tuiste van die bedreigde Bankenveld-grasveld, sowat 2 000 verskillende diersoorte en 240 verskillende voëlspesies,” sê Harmse.

“Die VF Plus sal die situasie monitor en die nodige stappe doen indien dit blyk dat die myn ʼn bedreiging vir die omgewing en die natuur inhou.”

Die VF Plus doen ʼn beroep op inwoners om ook die openbare vergadering op 8 September om 11:00 by die seiljagklub by die Rietvlei-natuurreservaat by te woon om insette te lewer.

Openbare kommentaar kan hier gelewer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kokerboom ·

Minister van Omgewingsake moet haar rug styf maak teen die wanpraktyke.Veral teen Minister van Minerale en Energie!!

Hendrik ·

Inwoners moet hulle rugstyf maak, veral met die Rand Water tekorte gaan Rietvleidam ‘n belangrike bron van water wees.

Harley Davidson ·

Dit sal ‘n tragedie wees ,kyk na ‘n dorp soos ogies om te verstaan wat ‘n kool myn aan die omgewing doen.

Impact ·

So sal hulle die natuur vernietig ter wille van rykdom. Ek sit nou ook nie my geld op Barbara Creecy nie, want sy is ‘n ANC lid. As dit slaag, gaan dit die hele area verander, selfs die gesien buurt soos Cornwall se gesogtheid gaan taan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.