‘Stem in beheerliggaamverkiesings’, pleit organisasies

(Argieffoto: ANA)

Begrond, die Instituut vir Christelike Grondslagstudies MSW, het by ouers met kinders in openbare skole gepleit om aan skoolbeheerraadverkiesings deel te neem ten einde die Christelike etos van skole te beskerm.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Maandag die beheerliggaamverkiesings vir 2021 oopgestel. Volgens die departement is dié verkiesing die grootste buiten die plaaslike regeringsverkiesing en vind dit by alle openbare skole oor die hele land plaas.

“Die belangrikheid van skole se beheerliggaam spruit uit die belangrike rol wat gemeenskappe in die onderrig van hul kinders speel,” lui ʼn verklaring wat die departement Sondag uitgereik het.

Die verkiesing van meer as 300 000 beheerliggaamlede vind slegs elke drie jaar plaas en ouers het tot 31 Maart kans om hul stemme uit te bring.

Begrond het veral ʼn beroep gedoen op ouers aan skole wat nog ʼn Christelike waardestelsel het en dit dus steeds kan behou, mits daar ʼn belang en deelname van die ouers se kant af is.

paul-colditz-fedsas

Argieffoto: Paul Colditz van Fedsas.

“Indien ouers nie aan beheerraadverkiesings deelneem nie, loop skole die gevaar om hul Christelike etos te verloor. Dit het ʼn uitkringende uitwerking op die toekoms van onderwys en gevolglik ook op die toekoms van ons kinders,” verduidelik dr. Wikus Buys, uitvoerende direkteur van Begrond.

Buys sê die verkiesings bied ouers die geleentheid om ʼn verskil te maak by die skool waar hul kinders geplaas is en om by te dra tot die leierskap en rigting van die skool. “Indien ons nie die geleenthede benut nie, sal ons dit in die toekoms moontlik kan verbeur. Dit bly bowenal ʼn voorreg en ʼn plig van Christenouers om self verantwoordelikheid te neem oor hoe hul kinders geleer word.”

Paul Colditz, hoof van die Federasie vir Suid-Afrikaanse Skolebeheerliggame, het ouers ook aangemoedig om aan die verkiesings deel te neem en gesê hoe meer rolspelers uit die gemeenskap by ʼn bepaalde skool betrokke is, hoe groter is die kans op sukses vir daardie skool.

“Openbare skole behoort nie aan die staat nie. Dit behoort aan die onmiddellike gemeenskap waarbinne die skool geleë is. Die skoolgemeenskap kan dus nie net terugsit en van onderwysdepartemente verwag om die leiding te neem nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Chantel ·

Die probleem wat ek het oor die algemeen hiermee is dat die BHL die septer swaai in die skole en hulle oorheers die skoolhoof se besluite. Dit maak my siek!!!! Almal wat dan op die BHL dien is in een of ander hoë posisie, pleks hulle eerder Jan-alleman kies wat werklik iets vir die kinders in die skool sal doen. Ek het ook ‘n probleem met die leerlingraad wat jaar na jaar gekies word. Slegs jou top leerders word gekies en selde die gemiddelde kind. WAT sê ons dan vir die kinders hiermee dat as jy nie SLIM is nie, jy nie veel sal bereik in die lewe nie. Dit is TWAK want vele bestuurders is juis die gemiddel kind gewees op skool. Hierdie hele stelsel moet hersien word.

Baardman ·

Jy het dit verkeerd om. Die skoolhoof is verantwoordelik en verantwoordbaar teenoor die BL. M.a.w. die Skoolhoof moet die BL se besluite uitvoer en nie andersom nie. Die BL is die skoolhoof se eintlike “baas”. Boonop sal ek eerder verkies dat die skool bestuur word deur kundiges, eerder as Jan Alleman.

Fritz ·

Die bekleding van n hoë posisie en kundigheid gaan nie altyd hand aan hand nie. Kyk maar na so baie wêreldleiers. In baie gevalle is n gladde mond die enigste vereiste. Ongelukkig is praters gewoonlik nie doeners nie.

Francois Le Cochon ·

Chantel, jy is doodreg. Ouers moet asseblief nie grootbekke, en mense met groot Regis verkies nie. Nie prokureurs, of ouers wat hoe” posissies beklee nie. Bly by”Jan Alleman” . Ook stem ek saam met die kies van die leerlingraad. Gewoontlik net die toppresteerdes soos jy se^. ‘n Leerlingraad behoord te bestaan uit leerders wat leiers eienskappe het.

Francois Le Cochon ·

Volgens die SA Skolewet, en die DvO se PAM dokument, moet skoolhoofde alle personeel bestuur. Dit sluit dan departementele- sowel as SBL personeel in. Die Hooggeregshof, sowel as die Appelhof het dit ook so bekragtig. Die DvO vergoed dus skoolhoofde om alle personeel te bestuur. Baie SBL’s maak ‘n wanvoorstelling aan ouers deur aan te voer dat die DvO skoolhoofde nie vergoed om SBL personeel te bestuur nie, en begroot dan om skoolhoofde bykomend te vergoed. Hierdie vergoeding is onregmatig, aangesien skoolhoofde nie bykomende SBL pligte uitvoer nie. Met hierdie onregmatige omkoop betaling, het ‘n SBL dan die skoolhoof in die hand, en maak die SBL net soos hul wil, terwyl die skoolhoof anderkant toe kyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.