Sterftes by Helen Joseph weens te min werkers

Pasiënte by die Helen Joseph-hospitaal (Junie 2021) (Foto: Jack Bloom/DA)

Sterftes en ernstige nadelige gevolge is besig om toe te neem by die ongevalle-afdeling van die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg omdat dié hospitaal sukkel met ʼn toestroming van ekstra pasiënte van die Charlotte Maxeke-hospitaal wat vroeër vanjaar in ʼn brand beskadig is.

Jack Bloom, die DA se woordvoerder vir gesondheid, sê Helen Joseph het tans 148 vakante poste.

Dié syfer het aan die lig gekom toe Nomathemba Mokgethi, Gautengse LUR vir gesondheid, op Bloom se vrae in die Gautengse wetgewer geantwoord het.

Volgens Mokgethi word die nooddienste-afdeling soos volg geraak:

  • te veel pasiënte as gevolg van bedtekorte in sale en veral by die hoësorgeenheid;
  • oorlading van personeel en toerusting;
  • die resussitasiegebied het gereeld dubbel soveel pasiënte en ʼn gebrek aan monitors en personeel om alle pasiënte dop te hou;
  • voorsiening van suurstof was ʼn probleem, veral tydens die Covid-19-pandemie;
  • personeel wat uitbrand;
  • toename in sterftes en ernstige nadelige gevolge omdat personeel nie by alle pasiënte kan uitkom nie; en
  • al hoe meer klagtes weens die las op dokters wat dalk kortaf kan wees met pasiënte of familielede wat aggressief en onbeskof is.

“Nóg ʼn groot probleem is die getal sielkundige pasiënte wat vier keer meer is as wat die hospitaal kan hanteer. Talle voorvalle van mishandeling van die personeel word aangemeld. ʼn Veiligheidswag is boonop met ʼn mes aangeval en ʼn pasiënt wou homself in ʼn klein kamertjie ophang,” sê Bloom.

Bloom sê die hospitaal se 148 vakante poste sluit in 125 verpleegsters en agt vakante poste in die ongevalle-eenheid wat onder erge druk verkeer.

“Daar is altesaam 2 206 poste in die hospitaal wat gefinansier word, maar daar moet eintlik nog 943 poste wees om te kan voldoen aan sy opgegradeerde funksie as ʼn tersiêre hospitaal. ʼn Voorgestelde organogram vir dié poste is al in Januarie 2013 ingedien, maar dit is nooit ingestel nie,” sê hy.

Bloom is besorg oor die Gautengse departement van gesondheid se nalatigheid deur nie genoeg finansiering of personeel by die hospitaal beskikbaar te stel om ʼn behoorlike gesondheidsdiens aan pasiënte te kan lewer nie.

“Die mees sigbare druk is op die ongevalle-afdeling waar mediese nalatigheid seëvier en lewens verlore gaan weens te veel pasiënte. Intussen is R500 miljoen vermors aan opknappings by die Anglo Ashanti-hospitaal aan die Wes-Rand. Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het bevind dié geld is onreëlmatig bestee. Hierdie geld moes eerder gebruik gewees het om bestaande hospitale soos Helen Joseph te verbeter wat sukkel met ekstra pasiënte en die gedeeltelike sluiting van die Charlotte Maxeke-hospitaal.”

Die DA sal druk plaas om beter gesondheidsbesteding te verseker in gebiede waar die nood die grootste is, eerder as op korrupte projekte wat geld mors, sê Bloom.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Anel ·

En hulle wil ‘n NGS begin!!!!! Behoede ons!!! Behoede ons ook van nog ingevoerdes!!!! En laat alle siek kaders na hierdie hospitale toe gaan. Sal graag wil weet of hulle ooit enige mediese fondsgelde betaal???

Misky ·

En a.g.v. die nalatigheid sit daai families van oorledenes eise in en gaan die hospitaal/staat vir miljoene dagvaar. Bodemlose put en EK en JY betaal op die einde van die dag daarvoor.

Swerwer ·

Waar is die personeel van die Charlotte Maxeke-hospitaal wat gebrand het, waarom kan hul nie die poste vul by Helen Joseph-hospitaal nie. Of ontvang hul salaris tewyl daar nie gewerk word nie en wag vir die brandskade om herstel te word.

Jackie ·

En die ANC dink NHI sal n beter diens aan almal in die land kan verseker terwyl hierdie situasie heelwaarskynlik by 90% van staats hospitale die geval is.

Mariana ·

Die NHI sal dalk kan werk, maar nie onder ANC beheer nie. Ongelukkig faal hulle is alle opsigte hierdie land en sy mense.

Ronsie ·

Waar is die personeel van Charlotte Maxeke hospitaal, terwyl die hospitaal herbou word? Hoekom word hulle nie aangewend om te kom help nie? Sit hulle by die huis rond op volle betaling, terwyl mense sterf as gevolg van personeeltekorte???

Mariana ·

Nou hoe dan anders. Ongelukkig is die denkvermoë in ANC nie baie goed nie. Hulle dink net hoe hulle hulself kan verryk.

Pieter ·

Ek moes iemand in Junie soontoe neem met dubbel longontsteking. Was drie uur daar en in die tou. Ek is elfuur uitgegooi want ek mag nie in die ontvangsarea wag nie. Het huis toe gegaan en dokters het hom eenuur die oggend gesien. Pille gegee en ek moet teruggaan en hom gaan haal (ten spyte van lockdown.)
Het ‘n jonger man daar gekry wat die oggend tienuur met ‘n ambulans gehaal is. Agtuur die aand het hy onder die stoele op die vloer gelê en kreun. Tweeuur die oggend toe ek my mens gaan haal was hy steeds in die ontvangsarea. Hoop hy het oorleef.

melaney ·

En om te dink dat ek in 2013 die Superintendent van daardie einste hospitaal gaan spreek het en my dienste vir ‘n tydperk van ses maande (verniet) aangebied het. Dit sou ‘n administratiewe pos wees. My aanbod was afgekeur.

Petrie ·

Die hospitaal se bestuur moet krimineel vervolg word. Hulle is nalatig en onverskillig om so met mense se lewens te mors.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.