Stigting sit hofstryd voort oor Dlamini-Zuma se mag

Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Die Helen Suzman-stigting het hom nou tot die hooggeregshof in Pretoria gewend in ʼn poging om die parlement en uitvoerende gesag te dwing om hul mag terug te neem.

Die stigting het in Mei die konstitusionele hof genader oor die mag wat Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het om wetgewing in te stel as deel van die regering se reaksie tot die Covid-19-pandemie.

Die konstitusionele hof het die stigting se aansoek op tegniese gronde van die hand gewys waarna ʼn aansoek by die hooggeregshof in Pretoria gebring is.

Die Wet op Rampbestuur gee Dlamini-Zuma uiteenlopende magte tydens ʼn gebeurtenis soos ʼn pandemie. “Dié wetgewende en uitvoerende mag berus ingevolge die Grondwet by die parlement en die uitvoerende gesag,” voer Francis Antonie, direkteur van die stigting aan.

“Hoewel die sentralisering van mag in die minister geregverdig kon wees deur die skielike bedreiging wat Covid-19 bied, kan hierdie basiese afwyking van die skeiding van magte slegs vir ʼn kort ruk duur, naamlik totdat die parlement en die uitvoerende gesag hul wetgewende en uitvoerende funksies met betrekking tot Covid-19 kan uitoefen.”

Die stigting voer in sy hofdokumente aan dat die parlement ʼn plig het om wetgewing te aanvaar wat die staat se reaksie reguleer rakende die bedreiging wat Covid-19 inhou en die skade wat dit veroorsaak. “Die uitvoerende gesag het ʼn plig om hierdie wetgewing voor te berei en te inisieer vir oorweging, debat en uiteindelik goedkeuring deur die parlement.

“Die uitvoerende gesag is dan verplig om die wetgewing toe te pas. Slegs deur die uitvoering van hierdie pligte sal die huidige ineenstorting rakende die skeiding van magte reggestel word en Suid-Afrika se demokrasie tot konstitusionele normaliteit herstel word. Op dié manier, ingevolge die Grondwet, het die parlement en die uitvoerende gesag albei ʼn sentrale rol te speel in die staat se reaksie op Covid-19.”

Die stigting voer aan die parlement en uitvoerende gesag moes ná afloop van die afkondiging van ʼn ramptoestand aktief stappe gedoen het om hul grondwetlike pligte terug te neem. “Hulle het daarin misluk.”

Volgens Antonie word Dlamini-Zuma al vir langer as vier maande lank toegelaat om op haar eie, of saam met die nasionale bevelsraad, wetgewing in te stel as deel van die regering se reaksie tot die Covid-19-pandemie.

“Hulle [die parlement en kabinet] blyk gemaklik daarmee te wees dat hul magte deur ander oorgeneem word, blykbaar vir so lank as wat Covid-19 ʼn bedreiging inhou.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pierreli ·

In die “mean time” staan die skottelgoed al seker tot amper by die plafon opgehoop!

Johnny ·

Gogga maak die mense bang. Ons het daaigesig nou al te veel kere gesien. Dis nie meer nodig om dit vir ons te wys nie.

Persheks Adri ·

Kopdoek moet eerder pensioen vat. Haar mag en status staan ons nie aan nie en sy neem die swakste besluite waarby ons moet in val! Sy maak mos lekker geld op swart mark saam haar kinders! Maak my naar verby om die minste te sê

JohanR ·

Waaneer kom die kabinet skommeling Cyril? Kan jy die een asseblief by die deur uitskommel. Maar wag voor jy die doen. Jy moet die land laat weet waaneer sy uitkom, sodat die nasie daar kan wees om alles alles van die voerstsak te wens!

Lorna ·

Ag please weet ramapoker se vrou hy het verhouding met die vrou al is dit net sake verhouding bly dit nogsteeds n verhouding

Prikkie ·

Sy misbruik haar magte en manipuleer die klomp papbroeke rondom haar en kom daarmee weg!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.