Stories oor Mark Pilgrim se dood onwaar

Mark Pilgrim. (Foto: Instagram)

Gerugte dat die bekende radiopersoonlikheid Mark Pilgrim oorlede is, is onwaar.

Die gerugte het Donderdagaand soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei. Volgens Lloyd Madurai, besturende direkteur van Hot 102.7 FM waar Pilgrim ʼn aanbieder is, is daar egter geen waarheid in dié sosialemedia-inskrywings nie.

“Mark het gevra dat mense hulle daarvan weerhou om vals nuus oor sy toestand te deel,” het Madurai gesê.

Die verwarring was glo die gevolg van ʼn Pilgrim-familie van die VSA wat op sosiale media ʼn inskrywing gemaak het oor die dood van hul geliefde.

(Foto: Facebook)

Pilgrim ondergaan steeds behandeling vir fase 4-longkanker wat in Februarie verlede jaar by hom gediagnoseer is. Hy het ʼn paar dae gelede op Facebook geskryf dat hy die afgelope ruk baie slaap aangesien sy lyf uitgeput is ná chemobehandeling en immunoterapie.

Hy het ook einde verlede maand ʼn foto van homself gedeel wat wys hoe maer hy geword het. “Steeds ʼn einddoelwit in sig waar ek, Adrienne en die meisies op die strand stap met ons toekomstige golden retriever,” het Pilgrim by die foto geskryf.

Die bekende radioman is einde verlede jaar ná 64 dae in die hospitaal ontslaan.

Fase 3-testikulêre kanker is 33 jaar gelede by Pilgrim gediagnoseer, maar hy was ten volle in remissie.

Pilgrim is in 2021 platgetrek deur Covid-19, en het sy knaende hoes aan dié virus of ʼn keelinfeksie toegeskryf.

ʼn Pulmonoloog het hom eindelik verwys, waarna skanderings onthul het dat hy longkanker het. Die kanker het ook reeds na sy limfnodes en bekkenbeen versprei.

Pilgrim en sy lewensmaat, Adrienne Watkins, het op Oujaarsaand verloof geraak nadat hy haar die jawoord gevra het. Hy deel gereeld foto’s op sosiale media van Watkins en sy dogters, Tayla-Jean (12) en Alyssa (9), en hoe hulle hom in dié tyd ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Ai mense… Sosiale media is somtyds net ‘n wrede plek. Ons bly bid vir Mark. Mag God Sy Arms stewig om Hom vou en hom krag gee om deur hierdie stryd te kom.

Marthinus Johannes ·

Geen wonder daar loop stories rond nie, die ou lyk nes hy.

Magda G ·

Die mensdom is siek. Party hou van aandag op sosiale media. Mark, alle voorspoed, bid vir jou????????

Jillian ·

Mense moet eerder so baie aandag aan hulle families toestaan soos wat hulle doen aan sosiale media.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.