Strafkrag: ‘Oneties om boere te weerhou van kosproduksie’

(Foto: Maroela Media)

TLU SA sê sy ondersteuning van Sakeliga se aanmaning aan Eskom om die toepassing van onwettige lasvermindering, oftewel strafkrag, stop te sit, berus onder meer daarop dat dit oneties is om boere daarvan te weerhou om kos te produseer.

Sakeliga werk saam met TLU SA en Agri Noordwes om in belang van geraakte lede van die drie organisasies in Noordwes en Limpopo, die onwettige instelling van lasvermindering stop te sit. Die geraakte lede is meestal boere en klein ondernemings in landelike gebiede.

Lasvermindering, wat onderskei moet word van die nasionale beurtkragprogram, is ’n onlangse praktyk waarmee Eskom elektrisiteitstoevoer op geteikende toevoerlyne vir ure aaneen heeltemal staak. Die rede hiervoor is oënskynlik om te verhoed dat die netwerk in hoëdigtheidgebiede, waar daar talle onwettige aansluitings is, oorlaai word en skade aan netwerkinfrastruktuur aangerig word.

Hoewel die Wet op Regulering van Elektrisiteit voorsiening maak vir ’n vorm van lasvermindering, mag dit nooit ’n volledige staking van elektrisiteitstoevoer behels nie, maar slegs ’n gepaste vermindering in lasgrootte. Gebruikers moet ook deeglik vooraf in kennis gestel word.

“Ons ondersteuning vir Sakeliga se saak is op vier bene gegrond. Eerstens is lasvermindering in die huidige formaat ongrondwetlik omdat dit diskrimineer. Dit is ook oneties omdat dit boere daarvan weerhou om kos te produseer. Dan is dit teenstrydig met verbruikers se kontrak met Eskom: Ons betaal Eskom, maar hy lewer nie sy diens nie. Laastens is daar geen beloning vir gebruikers wat betaal het ondanks beurtkrag waartydens ons bly betaal het nie,” sê Mauritz Lombard, TLU SA se bestuurder oor beleidsake.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA (Foto: Maroela Media)

“Die situasie is geheel en al onbillik. Die uitwerking op ’n boer – ongeag waarmee hy/sy boer – is wesenlik en omvangryk. Hier is ’n onmiddellike verlies aan produksie as die boer nie sy/haar besproeiingsiklusse kan voltooi nie. Dan verloor die boer ook nog die water wat toegedeel en waarvoor betaal is, wat nie gebruik kan word nie. Die koueketting word gebreek. Voedsel is sensitief vir temperatuurveranderinge. Dit is nie asof boere nié reeds gebuk gaan onder die reuse-insetkoste nie,” sê Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder.

“Eskom is besig om sy verantwoordelikheid na die verbruiker te verskuif,” meen Erika Helm, voorsitter van plaaslike regering by TLU SA. “Dit is die verskaffer (Eskom) se plig om toe te sien wie is die verbruikers wat sy produk gebruik en dat daar teen die ooreengekome tarief daarvoor betaal word. In dié opsig verwaarloos Eskom sy verantwoordelikheid deur die onskuldige party te laat boet vir sy nalatigheid.”

Sy gaan verder deur te sê Eskom wil weereens ’n verhoging toepas sodat die pligsgetroue wetsgehoorsame burgers nog meer moet opdok vir die lewering van die diens terwyl die plundery van krag onverpoos voortgaan sonder enige ingryping of regstelling.

“Dit is die grootste mate van uitbuiting van die land se inwoners deur Eskom wat nie sy plig teenoor sy verbruikers nakom om te sorg dat sy diens behoorlik gelewer word aan betalende kliënte nie, en in werklikheid ondersteun hulle dan die onwettige plundery van krag deur niebetalers.”

Sakeliga eis in die aanmaningskrywe dat Eskom binne 10 dae skriftelik onderneem om alle voorgenome oudits op geïdentifiseerde toevoerlyne binne drie maande af te handel. Eskom moet ook binne 10 dae onderneem dat strafkrag onmiddellik gestaak sal word en dat hangende die afhandeling van die oudits, lasvermindering slegs volgens wetlike voorskrifte ingestel sal word. In besonder mag lasvermindering nooit ’n werklike staking van elektrisiteitstoevoer behels nie.

By gebreke aan dienooreenkomstige ondernemings van Eskom, sal Sakeliga die hooggeregshof in Pretoria nader vir gepaste regshulp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Manie ·

Eskom weet nie eers hoe om behoorlik krag te voorsien nie, so hoe sal hulle iets van boerdery behoeftes af weet? Om te boer beteken nie jy hou 2 bek en klouseer beeste, en 10 Newcastle siek hoenders aan nie.

krodedil ·

Dis hoogtyd dat die boere dieselfde kragtarief betaal as ons sukkelende dorps verbruikers. Dan is die boere eerste om te kla oor onwettige aansluitings nadat hulle krag spotgoedkoop is.
Eskom kan gerus 10 dae vat en die boere se kragmeters gaan kalibreer en onwettige aansluitings verwyder.

SjN ·

Krokkedil, spel eerder jou naam wat jy met n plank slaan reg, weet jy waarvan jy praat, van die punte op afgelee plase is by die R5000 per maand sonder dat enige eenheid gebruik is.

krodedil ·

Die R5000 per maand kom in by Lyn kostes as jy nie weet nie. Iemand moet die lyn herstel en instandhou sodat jy krag kan hê maar ek aanvaar jy wil alles verniet hê. Die gewone boer betaal so R3000 so ek kan aanneem jy is ‘n boer met ‘n vetter beursie wat net nog geld wil hê . Jy is seker ook een wat BTW terug eis.

Piet parys ·

As ????praat n kollietjie was was jy n tarentaal . Gaan google tarentaal om dit uit te vind

Harley Davidson ·

Dit is totaal belaglik en ek vat ‘n “dim view” van de Ruyter in hierdie geval wat is fout met hom moet Afriforum die probleem vir hom uitsorteer.

Antie Sarie ·

So asof ons nog van die top produkte kry. Ons moet maar meestal tevrede wees met laegraadse invoerkos

Nommer 7 ·

Antie Sarie, u koop u ingevoerde kos by die verkeerde plek. Probeer Woolies se Noorweegse Salm met bottersous, of Checkers se Grana Padano kaas uit Italie saam met Torres Purgatori rooiwyn uit Spanje.

annie ·

Kyk wat gaan in Nederland aan. Die regering speel ook met die boere met stories oor hul grond wat vir dit en dat benodig word. Skynbaar glo bedorwe regerings deesdae soos stadskinders dat melk uit fabrieke kom en nie vanuit koeispene nie. Cannabis en seker ook papawers is droom-rykword-plante totdat voornemende boere agterkom dat selfs dít water en besproeiing benodig wat weer krag benodig. Cannabis-botter, -kaas, -lyfroom, -medisinale olie en -dampies is doelloos sonder ‘n mens wat kos eet om te werk vir geld om daai weelde-gemors te bekostig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.