Strawwer vonnis vir verkragter-pa ná appèl

(Argieffoto)

WAARSKUWING: Die inhoud van hierdie berig is grafies van aard en kan sensitiewe lesers ontstel.

’n 77-jarige pa van die Oos-Kaap wat vroeër tot 22 jaar tronkstraf gevonnis is vir die destydse verkragting van sy tienerdogter, is nou jare later ’n lewenslange vonnis opgelê.

Dít nadat sy aansoek om verlof tot appèl teen die aanvanklike vonnis misluk het en die Oos-Kaapse hooggeregshof dié vonnis ter syde gestel het.

Anelisa Ngcakani, provinsiale woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die pa is in Mei 2014 tot 22 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy sy dogter in Junie 2010 en September 2012 by hul huis in Mgxotyeni verkrag het.

Die dogter was 15 jaar oud ten tyde van die eerste verkragting. Die pa was 66 jaar oud.

Die dogter was gedurende albei verkragtings fisiek gedreig – die dreigemente gedurende die tweede voorval was ernstiger van aard. Die pa het by dié geleentheid gedreig om sy dogter met ’n swaard te steek.

Die pa het destyds sy dogter ná die tweede verkragting opdrag gegee om haar met ’n sakdoek af te vee en het dié sakdoek toegesluit gehou. Hy het haar ook aangesê om nooit vir haar ma daarvan te vertel nie. Hy het gedreig om sy dogter dood te maak sou sy met haar ma oor die verkragtings praat.

Die dogter het egter vier dae ná die tweede verkragting aan die polisie verklap wat met haar gebeur het toe die polisie haar skool besoek het om leerders in te lig oor die belangrikheid daarvan om huishoudelike geweld en verkragtings by wetstoepassers aan te meld.

Die dogter het tydens die inligtingsessie heel voor gesit, haar hand opgesteek en aan polisiebeamptes vertel wat met haar gebeur het.

Die tienerdogter het daarna huis toe gegaan en haar pa vir die sakdoek gevra onder die voorwendsel dat sy dit wou was. Hy het sy dogter aangesê om dit in die kamer te gaan haal waar hy dit weggesteek het voordat hy haar gegryp en gesoen het.

Die dogter het die sakdoek daarna aan die polisie oorhandig.

Ngcakani sê die pa het die verkragtings aanvanklik in die hof ontken hoewel die DNS-uitslag hom later met die oortredings verbind het. Hy het toe erken dat hy in September 2012 seksuele omgang met sy dogter gehad het, maar volgehou dat sy dogter daartoe ingestem het. Dié weergawe is egter in die streekhof op Zwelitsha weerlê.

Adv. Nocwaka Blorweni-Tokota, staatsaanklaer tydens die appèlaansoek, het nou in die hooggeregshof aangevoer dat ’n onreg gepleeg is toe die pa aanvanklik 22 jaar tronkstraf opgelê is en dat die minimum vonnis van lewenslange gevangenisstraf opgelê moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.