Student spring voor ander na sy dood by Bloem-waterfront

Die Loch Logan Waterfront. Foto: Facebook via Loch Logan Waterfront.

Die liggaam van ʼn 20-jarige manstudent is Saterdagaand deur polisieduikers uit die dam by die Loch Logan Waterfront in Bloemfontein gehaal.

Die man het volgens lt.kol. Moses Qovane, woordvoerder van die polisie, om 18:21 van die winkelsentrumgebou se dak afgespring.

“Veiligheidswagte het gesien wat gebeur en onmiddellik die polisie in kennis gestel. Verskeie eenhede is na die toneel ontplooi en het dadelik na hom begin soek.”

Sy liggaam is omstreeks 21:30 uit die dam gehaal.

“Hy het ʼn sak met persoonlike besittings soos sy identiteitsdokument by hom gehad,” het Qovane gesê.

Die jong man was ʼn student aan die Central University of Technology (CUT) in Bloemfontein.

Qovane sê die motief agter sy optrede is nog nie bekend nie.

Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.