Student-versorger ‘vergeet’ bejaarde buite

Huis Maudie Kriel-tehuis op Ceres. (Foto: Facebook)

’n Student-versorger, wat verlede maand haar praktiese opleiding by die Huis Maudie Kriel-tehuis op Ceres gedoen het, het die bejaarde Sagrya Engelbrecht in haar rolstoel na buite gestoot en vergeet om die personeel daarvan in kennis te stel.

Die 80-jarige Engelbrecht is vroeg die volgende oggend in haar rolstoel buite gevind. Sy is kort daarna dood.

“’n Verskriklike hartseer sameloop van omstandighede het gelei tot Engelbrecht se dood,” het die ACVV, wat die tehuis bestuur, nou meer as ’n maand en verskeie dissiplinêre verhore later bevind.

Ses personeellede is sedert die voorval op 6 en 7 Augustus aan wangedrag skuldig bevind. Sommige van die personeellede is afgedank terwyl ander finale skriftelike waarskuwings ontvang het en verplig is om verdere opleidingsessies te voltooi.

Die student-versorger is egter nié dissiplinêr aangekla nie aangesien sy ten tyde van die voorval nié ’n werknemer by die tehuis was nie.

Dit was maar twee dae vóór die voltooiing van haar praktiese opleiding dat die tragedie hom afgespeel het.

‘Hartseer sameloop van omstandighede’

Luidens ’n verslag van die ACVV het Engelbrecht 6 Augustus vroegaand aandete in haar kamer geëet voordat sy na die badkamer oorkant haar kamer is. Sy het na haar kamer teruggekeer en begin om twee lae nagklere aan te trek.

Die student-versorger het gaan hand bysit en gehelp dat Engelbrecht pantoffels oor haar sokkies, ’n kamerjas en mus op haar kop aantrek. Engelbrecht het in haar rolstoel gaan sit en ’n dubbelgevoude kombers is oor haar bene gegooi.

“Sy het haar handskoene, sonbril en handsak by haar gehad,” lui die verslag.

Die student-versorger het Engelbrecht toe vanaf haar kamer na die rokersgebied onder ’n buite-afdak tussen die hoofgebou, kombuis en waskamer gestoot.

“Die betrokke student het teruggekeer en versuim om die dagskofpersoneel in te lig dat sy mev. Engelbrecht uitgeneem het en dat mev. Engelbrecht, soos gewoonlik, verkies het om nog ’n ruk in die rookgebied te vertoef.

“Die student-versorger het ander take verrig en teen die einde van haar skof omstreeks 18:50 die tehuis verlaat. ’n Ander inwoner het die buitedeur wat lei na die paadjie op pad na die rookgebied toegemaak.”

Luidens die verslag het die drie dagskofpersoneellede in beheer van die gedeelte waar Engelbrecht se kamer geleë is, omstreeks 19:00 met skofwisseling die nagskofpersoneellede slegs ingelig van inwoners wat medikasie of ander hulp gedurende die nag sou benodig.

Die nagskofpersoneel het opgemerk dat Engelbrecht nie in haar kamer is nie, maar verkeerdelik aanvaar dat sy by haar familie kuier. Haar kamermaat was boonop in daardie stadium in die hospitaal.

“Een van die nagskofpersoneellede het verkeerdelik die bed van mev. Engelbrecht opgemaak, die kamerlig afgesit en nie in die register gaan kontroleer of sy wel by familie kuier nie.”

Mev. Engelbrecht is [die volgende oggend] om 06:50 deur kombuispersoneel gevind waar sy nog in die rolstoel op dieselfde plek in die rokersgebied gesit het.”

Luidens die verslag is Engelbrecht na binne gehaas waar daar noodbehandeling op haar toegepas is.

Bestuur en ambulansdienste is ontbied. Engelbrecht is egter kort daarna dood.

Die oorsaak van haar dood is steeds nie bekend nie. Sy het volgens “observasies” egter nié verkluim nie, sê die ACVV in sy verslag.

“Die baie hartseer voorval en tragiese afsterwe van mev. Engelbrecht het die gemeenskap geskok en die bestuur en personeel van Huis Maudie Kriel erg getraumatiseer. Dit is opmerklik dat almal mev. Engelbrecht met mooi herinneringe onthou. Ondanks die ongelukkige gebeure toon die bewysmateriaal ook dat sy met groot deernis deur die betrokke student-versorger hanteer is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Mens het eenvoudig net nie woorde vir hierdie groot hartseer nie. Ek probeer verstaan maar kan aan niks dink wat enige verskoning regverdig nie. Dit moes net NOOIT gebeur het nie. Arme tannie…

Johann ·

Dis maar net nalatigheid Daar is geen ander verduideliking nie As sy n student was moes sy onder iemand se toesig gewerk het As sy om gegee het het sy die dame gaan groet voor sy huis toe is

Onnie ·

As onderwysstudente onder my kom werk is ek primêr verantwoordelik, ek moet kyk wat hulle doen en als na gaan, ek kan nie net aanneem die student weet wat hy/sy doen nie.

Christine ·

Die student kan nie so ligtelik daarvan afkom nie. Sy moet vervolg word vir haar nalatigheid.

Estelle ·

Die arme tannie is met sulke “groot deernis” behandel dat sy oorlede is?!

Antie Sarie ·

Ek neem aan dit was n nuwe suid afrikaanse aanstelling. Die ergste is dat van die staf lede net waarskuwings gekry het.

Faraway ·

Student versorger is nie veronderstel om n ” geheue” probleem te hê nie

Di ·

En so neem die een aan dat die ander een dit of dat gedoen het of dat dit of dat dalk gebeur het instede van hulle werk ordentlik doen. Ons moet maar gewoond raak aan hierdie swak dienste ORALS. Meeste sit net in poste vir ‘n salaris aan die einde van die maand. Innige meegevoel aan die familie van hierdie vrou, glo dis nie maklik om hierdie een te verwerk nie.

Wielspore ·

My skoonma was vir 4 weke vir rehab na ‘n gedeeltelike heup vervanging, alhoewel die meerderheid personeel hulle werk met liefde doen was daar bewyse van swak werk. Sy was alleen gelaat in haar kamer en het self opgestaan om toilet toe te gaan, daar het sy geval, gelukkig nie weer iets gebreek maar die 3 weke herstel is terug gesit na week een. Ons is nie in kennis gestel van die insident, toe is dit eers ontken en later erken. Hierdie dienste is nie goekoop, dit is baie duur.

Johann ·

Wat? So sys onbevoegd, onbekwaam, onverandwoordelik, verandwoordbaar vir ‘n weerlose vrou se wrede dood..maar sy word nie aangekla nie????? SIEK SIEK SIEK! SHAME ON YOU ACVV!!!!

Anel ·

Dit kom op straflose manslag neer, masry ek sal eerder sê strafbare manslag. Hoe vat ‘n mens so ‘n ou mens uit, daardie tyd van die aand, in die koue en jy vergeet van haar? Jammer, maar die persoon behoort nie die werk te doen nie. Sal haar ook nie naby my wil hê nie. Niemans wil meet verantwoordelikheid nee vir hul dade nie! Wat ‘n gruwelike skande!!!!!

Blikkantien ·

Wat het geword van protokol wat hierdie tipe situasies moet verhoed! Ek kan ook nie sien hoe hierdie student nou die kwalifikasie kan behaal nie.

domheks ·

Maar waar was die toesig oor die ‘studente versorger’ die een leer mos nog maar die seniors moet tog toesig hou!

Samuel ·

Verskonings, verskonings. Personeel getraumatiseer? Wat van die familie? ‘n Baie goeie vriend se ma was in dieselfde ouetehuis en het baie vertel van die voortdurende stryd wat hy met die personeel gehad het oor sy moeder. In die meeste ouetehuise word daar nie regtig omgegee vir die ou mensies nie. Ek hoop daar word streng opgetree teen die bestuur en personeel.

otter ·

Dit is n rassistiese voorval wat plaasgevind het en hulle probeer dit nou op cover. Weer eens kom hulle weg met n ding soos altyd. Mooi man!

ENFM ·

Wonder soms of al die prosedures en roetine, nie soms veroorsaak dat personeel hul werk meganies doen sonder om daaroor te dink nie.

KatjieDeKat ·

Ek troos my daaraan dat die arme tannie 80 was, so sy het darem n lang lewe gehad. Dit is AL troos te vind in hierdie hartseer, aaklige situasie. Meer as dit sal ek liewer nie sê nie.

blia ·

n Brose ou mens ‘n hele nag buite in Augustus in Ceres, en sy het nie verkluim nie? Ek weet darem nie…

Marina ·

“verkeerdelik” ek dink dit was aspris, hoe kan soveel mense net AANNEEM???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.