Styging in brandstofprys swaar slag vir verbruikers

(Grafika: pixabay)

Gwede Mantashe, minister van energie, en Enoch Godongwana, minister van finansies, het gekies om ’n petisie teen hoë brandstofpryse – wat reeds meer as ’n jaar gelede ingedien is – te ignoreer. Só sê die DA ná afloop van Mantashe se aankondiging vandag dat brandstofpryse vir Oktober verder gaan styg.

“Huishoudings sukkel om kos op hul tafels te sit weens die stygende lewenskoste en die regering gee eenvoudig nie om nie,” sê Kevin Mileham, die DA se skaduminister van minerale hulpbronne en energie, en Dion George, die DA se woordvoerder oor finansies.

Op 14 Junie verlede jaar het die DA voorleggings aan Mantashe en Godongwana gedoen waartydens die party gevra het vir ’n hersiening van die brandstofprysraamwerk en die ooreenstemmende belastingstelsel wat die brandstofkleinhandelprys opgestoot en die lewenskoste laat styg het.

Die brief (petisie) is onderteken deur meer as 130 000 Suid-Afrikaners, wat dit een van die hoogste ondertekende petisies in die geskiedenis van die DA maak.

“Die DA sal dit nie aanvaar dat Mantashe en Godongwana nie agting op die stemme van 130 000 burgers gee nie. Dié petisie is ’n waarskuwing oor die impak van die hoë brandstofprys op individue se vermoë om vir hul gesinne te voorsien.”

Die DA beoog om binnekort die petisie vir brandstofprysrasionalisering direk aan die kantoor van president Cyril Ramaphosa voor te lê.

“Met die brandstofprysverhogings wat Woensdag om middernag in werking tree, het die ANC bewys dat hy nie omgee vir die welsyn van verbruikers nie wat nou gedwing word om te kies tussen kos op die tafel sit en ’n aansienlike bedrag van hul inkomste op vervoer, as hulle gelukkig genoeg is om werk te hê. Suid-Afrikaners gaan Woensdag meer as twee keer vir brandstof betaal as wat hulle tien jaar gelede in 2013 gedoen het.

“Die feit dat die departement van energie nie optree om die hervormingsproses te begin nie, openbaar ’n hardnekkige vasberadenheid deur minister Mantashe om staatsbeheer oor die brandstofwaardeketting te behou. Terwyl daar duidelike bewyse is dat hoë brandstofpryse ons ekonomiese groeivooruitsigte skade berokken, verbruikers tot op die rand stoot en ’n hoë lewenskoste-omgewing vererger, het die ANC ’n onverskillige en arrogante houding ingeneem wat eenvoudig bevestig dat hulle nie omgee vir die welsyn van verbruikers nie.

“Alle Suid-Afrikaners het ’n lewensvatbare ekonomie nodig om te floreer, en die stygende brandstofkoste wurg ons vooruitsigte.”

Abigail Moyo, woordvoerder van Uasa, sê die vakbond is diep bekommerd oor die stygende brandstofpryse, in ag genome die finansiële druk wat Suid-Afrikaners verduur. Uasa doen ’n beroep op die regering om in te gryp en Suid-Afrikaners te beskerm teen skrikwekkende ekonomiese en finansiële uitdagings tesame met werkloosheid en ongelykheid.

“Weereens sal verbruikers die swaarste getref word aangesien brandstofpryse die koste van byna alle ander produkte beïnvloed. Brandstof- en voedselpryse is van die risiko’s wat die monetêre beleidskomitee (MBK) geïdentifiseer het wat bydra tot verhoogde verbruikersprysinflasie (VPI),” sê Moyo.

“Ons doen ook ’n beroep op belanghebbendes en besighede om verbruikers in ag te neem wat die prys van kos en dienste betref. Die lewenskoste is ondraaglik hoog, en baie moet inflasie met dieselfde loon of salaris as ’n paar jaar gelede die hoof bied, aangesien maatskappye nie inflasieverwante loon- of salarisverhogings vir werkers kan bekostig nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

J. J. ·

Wanneer gaan die Reserwebank ingryp met die voortdurende verswakking van die Rand? Rentekoers verhogings doen niemand enigsins goed nie, net die mense wat geld uitleen kry meer. In die ou dae het die Reserwebank ingegryp as die rand teveel bly verswak. Wil die referring ons lan nog slegter af plaas as wat Zimbabwe geword het? Hou so aan, dit sal nie meer te lank wees nie, Dan bereik julle jul doelwit.

Jan Jacobs ·

Se dankie vir Jo wat in 2022 die nord stream pyplyn help opblaas het

MJLS ·

Met die cANCer regering aan bewind, het ons nie ‘n kans om by enigiets te baat nie. Hulle is erger as die ou wet van Transvaal.

Fontein Tannie ·

Ek stem saam. Maar selfs met n nuwe regering aan bewind gaan dinge eers erger gaan en dan selfs jare neem om weer te herstel na n leefbare situasie.

Mariana ·

Nee wat as mens luister na die nuus dan wonder mens waar gaan dit als eindig. Die wat in die hoë gestoeltes sit, is die enigstes wat floreer want hulle kry als verniet want die belastingbetaler betaal mos vir als. Hulle skep net en soos in Engels “Somethings gotta give” ANC moet weg. RAMAPOZA EN SY HELE KABINET. Hulle is die wortel vn al die kwaad. Hulle dwing ons absoluut op ons knieë.

Marius ·

Ons regering moet die skuld kry vir die swak Rand, asook vir die styging in kos pryse en werkloosheidsyfer. Hulle gooi nog petrol op Janalleman se hoof… Plaas die blaam op ander terwyl hulle onbevoeg is om die land reg te regeer…

Wondermaarnet ·

Mantashe weet mos wie hy die seerste maak, maar vergeet sy eie mense sukkel ook meer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.