Subsidies aan kinderhuise uitbetaal

Jakaranda-kinderhuis sien om na sowat 230 kinders op sy terrein in East Lynne, Pretoria. (Foto: Jakaranda Liggiefees/YouTube)

“Ons is verlig en dankbaar.”

Dit was die reaksie van Charlene Grobler, hoof- uitvoerende beampte van die Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuis in Pretoria nadat hulle ná 73 dae hul subsidies van die staat ontvang het.

Die departement van maatskaplike ontwikkeling moes reeds teen einde September die sowat R6 miljoen-subsidie aan die kinderhuise betaal het. Die betaling is egter sonder rede vertraag, met die gevolg dat die kinderhuise se geld opgedroog het.

“Teen 1 Desember, en met Kersfees om die draai, kon ons nie salarisse betaal nie. Ons het ʼn onsekere feestyd verwag,” het Grobler gesê.

Die Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuis het toe besluit om die gemeenskap om hulp te vra en meer as R200 000 en allerlei goedere ter waarde van R180 000 is verlede week deur lede van die gemeenskap aan die kinderhuise geskenk.

Van die items wat geskenk is. (Foto: Verskaf)

“Danksy die media se beriggewing was daar ʼn oorweldigende positiewe reaksie van die gemeenskap en ons is van ʼn krisis gered.”

Die departement van maatskaplike ontwikkeling het eers aandag gegee aan die kinderhuisnavrae nadat daar oor die subsidiekwessie in die media berig is, sê Grobler.

“Die departement het gevolglik belowe dat die subsidie teen 9 Desember betaal sou word, maar dit het nie gebeur nie.”

Ná verdere navrae deur die kinderhuise is die subsidie uiteindelik op 13 Desember uitbetaal.

“Die kinders en personeel van die tehuise is baie dankbaar vir die ondersteuning wat van die gemeenskap ontvang word. Terwyl die aantal kinderhuise in Suid-Afrika afneem, is daar ʼn toenemende vraag na instansies wat na kinders omsien. Die staat se subsidie aan kinderhuise krimp jaarliks en daar is kommer oor die tydigheid en lewensvatbaarheid van toekomstige subsidies. Daarom sal die kinderhuise in die komende jaar daarop fokus om verdere ondersteuning van die gemeenskap te kry.”

Die Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuis versorg gesamentlik sowat 350 kinders.

Mense wat die kinderhuise wil help, kan R20 per SMS skenk. Lede van die publiek kan hul name na 40308 SMS. Die Jakaranda-kinderhuis se webblad kan ook gebruik word om ʼn bydrae te lewer.

ʼn Uiteensetting van die kinderhuise se jaarlikse uitgawes. (Foto: Jakaranda kinderhuis/Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frank ·

Sulke veragtelike dinge laat mens se bloed kook. Wens kan forentiese ondersoek doen om vas te stel wie daarvoor verantwoordelik is en hoekom

Di ·

So bly dat soveel mense hulle ondersteuning gegee het. Ons sal moet gewoond raak daaraan om na ons eie mense om te sien. Die spul is almal onbevoeg en te sleg om hulle werk te doen. Sit net in poste om ‘n salaris te verdien, verder doen hulle niks wat hulle BETAAL word om te doen nie.

Anna84 ·

Wat ‘n frustrasie!!! Waarom moet hulle eers bakhand in die media gaan kla voordat daar iets aan die situasie gedoen word? Dit is erg vernederend om in die publiek te moet vra vir fondse. Dankbaar dat hulle nou na ‘n gemakliker feesseisoen kan uitsien.

miche ·

Departement Maatskaplike ontwikkeling behoort die rente wat intussen op die geld gegenereer is ook uit te betaal ( as hul enigsins ‘n gewete het).

Harley Davidson ·

Baie goeie nuus die kinders verdien om gelukkig te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.