Baie skenkings ná kinderhuis se noodkreet

(Foto: Verskaf)

Van oraloor het Suid-Afrikaners die afgelope paar dae hul harte oopgemaak om die Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuis in Pretoria se deure dié Kerstyd oop te hou.

Duisende rande en talle items is aan die kinderhuise geskenk ná die instellings se noodkreet dat die staat al twee maande lank versuim om hul broodnodige subsidies te betaal.

Weldoeners het sedertdien reeds meer as R200 000 geskenk, asook allerlei goedere ter waarde van R180 000.

Charlene Grobler, hoof- uitvoerende beampte van albei kinderhuise, sê die benarde finansiële situasie waarin die kinderhuise gedompel is, het almal wanhopig gehad.

Met elke bydrae was daar egter al hoe meer lig in die tonnel.

“Al die personeel kan vir die eerste keer in ʼn lang tyd weer asem skep en gemoedsrus hê,” sê sy.

“Ons wil uit die diepte van ons harte almal bedank wat ons hierdeur dra. Hulle hou ons deure oop.”

Volgens Grobler is mense nie altyd bewus hoe afhanklik die kinderhuise van eksterne ondersteuning is nie.

“Mense onderskat wat hulle vir ons kan doen. As elke weldoener een pakkie pasta skenk, kan ons uiteindelik honderde monde daarmee voed.”

Die Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuis versorg gesamentlik sowat 350 kinders.

Grobler is hoopvol dat die skenkings ʼn groot verskil in die kinderhuise se uitstaande uitgawes gaan maak. Albei kinderhuise het ʼn prioriteitslys waarvolgens betalings gemaak word, maar die huise se water- en ligterekening word eerste betaal, waarna die kinders se maandelikse kruideniersware gekoop en personeel se salarisse betaal word.

“Ons het nog astronomiese uitgawes wat in die nuwe jaar voorlê, want kinders moet nuwe skoolklere en skryfbehoeftes kry.”

Grobler het egter die afgelope Vrydag ʼn “sinvolle vergadering” met die departement van maatskaplike ontwikkeling oor die uitstaande subsidies gehou. Daar sal na verwagting vandeesweek amptelike terugvoer gegee word oor wanneer die Jakaranda-kinderhuis sy subsidie sal ontvang.

Die Louis Botha-kinderhuis sal egter eers in ʼn latere stadium sy subsidie ontvang, aangesien die departement die aansoek daarvoor laat ingedien het.

“Gelukkig is daar nou lig aan die einde van die tonnel. Ek vergader hierdie week weer met die departement en ek is hoopvol vir goeie nuus,” sê sy.

Intussen gaan die Jakaranda-kinderhuis volstoom voort met sy jaarlikse Liggiefees wat die afgelope paar jaar weens die Covid-19-pandemie afgestel is.

Toegangsgeld na die fees help ook om die kinderhuise op lang termyn te onderhou en onafhanklik van wisselvallige staatsinkomste te hou.

“Ons kan eenvoudig nie genoeg dankie sê vir almal se voortgesette steun nie.”

Mense wat die kinderhuise wil help, kan R20 per SMS skenk. Lede van die publiek kan hul name na 40308 SMS. Die Jakaranda-kinderhuis se webblad kan ook gebruik word om ʼn bydrae te lewer.

ʼn Uiteensetting van die kinderhuise se jaarlikse uitgawes. (Foto: Jakaranda kinderhuis/Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rocco ·

Goeie nuus! Dankie aan almal wat bydraes gemaak het. Ons kan saamstaan

bolletjie blom ·

‘n Tyd terug het ek die program van Bobby en Karlien van Jaarsveld “In jou Spore” gekyk. Hulle het toe die Abraham Kriel kinderhuis in Nylstroom gaan besoek. Daardie kinderhuise is so afhanklik van skenkings. Ek het al geld per sms geskenk maar voel mens moet meer probeer doen as dit in jou vermoë is. Daardie kinders is onskuldige slagoffers van omstandighede.

Kobus ·

Dit is ‘n skande dat die publiek instansies soos tehuise moet ondersteun omrede die staat nie hulle deel doen nie. Belasting word betaal maar die gestelery en vermorsing van staatsfondse plaas sulke instansies onder druk. Ek self het nie ‘n probleem met skenking nie,maar die staat moet tot verantwoording geroep word.

Sandra ·

Hoekom moet daar onderhandelings en terugvoerings wees? Die departement moet net die geld betaal. Dis ‘n skreiende skande dat die kinders wat ons land se toekoms is, so afgeskeep word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.