Substasie beroof; talle Pretorianers sonder krag

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Parker Coffman/Unsplash)

Dele van die ooste van Pretoria sit sonder krag nadat 20 boosdoeners Maandag tydens beurtkrag op ʼn substasie toegeslaan en kragkabels gesteel het.

Lindela Mashigo, woordvoerder van die Tshwane-metroraad, sê die groep het die Heatherley-substasie in die vroeë oggendure (tydens twee uur lange beurtkrag) bestorm en die veiligheidsbeamptes oorrompel.

Minstens nege kragkabels is gesteel. Die substasie is gevandaliseer en dit het ʼn brand laat ontstaan.

Die ganse kragstasie is sedertdien buite werking wat beteken dat die Savannah-landgoed, Greencreek-landgoed, The Blyde-landgoed, Nellmapius-uitbreiding 3,6,7,8 en 22 en Pienaarspoort tot verdere kennisgewing geen elektrisiteit het nie.

ʼn Tegniese span is reeds by die kragstasie om die omvang van die skade te bepaal en die nodige herstelwerk te doen.

“Die Tshwane-metroraad veroordeel hierdie dade van vandalisme en doen ʼn beroep op inwoners om enige verdagte bedrywighede by die Tshwane-metropolisie by 012 358 7095/6 of die kabeldiefstal-blitslyn by 080 011 2722 aan te meld.

“Die stad vra om verskoning vir die ongerief wat veroorsaak is weens hierdie dade van vandalisme en die sabotasie van infrastruktuur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Oom Charles ·

Lees weer, die veiligheidswagte is oorrompel deur ‘n oormag, dus was daar ooggetuies, maar wat kon hulle doen teen ‘n getal van byna ‘n dubbele sokkerspan?

Dis skaars die moeite werd vir 20 om die buit onderling te verdeel. Dit lyk vir my baie meer na doelgerigte sabotasie, gesien in die lig van die ondermyning en dwarstrekkery tans aan die orde in Tshwane.

Dis tydens beurtkrag, dis donker, hulle is bewus van veiligheidskameras, het waarskynlik musse en balaclavas op, slaan toe en verdwyn.

Delia ·

Ek stem met jou saam. Ek dink ook daar is definitiewe planne om Cilliers se lewe so moeilik te maak. My opmerking was nie as negatief bedoel nie. Inteendeel, ek hoop kliphard die saboteurs word gevang

es ·

Dankie tog ons is weg by Savannah, dit was n weeklikse ding toe ons daar gewoon het

Waarom ·

Weereens ‘n bewys dat sindikate hard aan die werk is. Ons land word geregeer deur die mafias.

Gert ·

Niemand sal so iets doen indien hulle nie presies weet hoe om te doen nie. Die klomp mag dalk op EFKOM se paycheck wees of werk vir die een of ander versienings maatskappy wat herstelwerk vir EFKOM doen. Begin die ondersoek by die wagte.

Francois ·

Dit sal nie stop totdat die koop van koper nie gestaak word. Daar isvte veel sindikate wat so geld maak

CHRISTINE ·

So die stasie het ‘onklaar’ geraak..
Loadshedding = terrorisme

Dana ·

Ai dis erg. Ek voel regtig vir die mense. Ons was 8 en ‘n half dae sonder krag en dit was ‘n riller. Hope vleis en kos weggegooi

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.