Suid-Afrikaans gebore gyselaar vrygelaat

Aviva Siegel (Foto: X)

’n Suid-Afrikaans gebore vrou is een van 17 gyselaars wat Sondag in Gaza vrygelaat is.

Aviva Siegel, ’n burger van Suid-Afrika sowel as Israel, en haar man, Keith Siegel, is meer as sewe weke gelede in die kibboets van Kfar Aza in Israel deur die Palestynse militante groep Hamas as gyselaar geneem.

Keith, ’n Amerikaanse burger van die Amerikaanse deelstaat Noord-Carolina, is in dié stadium glo nog in aanhouding in Gaza, berig The Times of Israel.

Luidens dié publikasie is Aviva (64) in Suid-Afrika gebore en het sy op agtjarige ouderdom saam met haar familie na Israel geëmigreer.

Aviva en Keith woon die afgelope 40 jaar op Kfar Aza waar hulle op 7 Oktober as gyselaar geneem is.

Die egpaar se dogter Shir Seigel, wat ook op Kfar Aza woon, was die betrokke Saterdag tydens Hamas se verrassingsaanval vir die naweek weg en dus nie as gyselaar geneem nie.

Shir het haar ma en pa glo in die hande probeer kry, maar nie een van hulle het hul selfone geantwoord nie. Haar ouers het egter in ’n stadium op die familie se WhatsApp-groep laat weet dat hulle nie kan praat nie.

Shir het die volgende dag (Sondag) op ’n video van Hamas op Telegram gesien hoe haar ouers in hul eie motor wat deur lede van Hamas bestuur is, Gaza binnery.

Aviva is ’n kleuterskoolonderwyseres in Israel. Keith werk by ’n farmaseutiese maatskappy. Die egpaar het vier kinders en vyf kleinkinders, berig The Times of Israel.

Aviva is een van verskeie wat danksy ’n wapenstilstand tussen Hamas en Israel vrygelaat kon word.

Maroela Media het vroeër berig die wapenstilstand het Vrydag in werking getree om onder meer 50 Israeliese gyselaars en 150 Palestynse gevangenes vry te laat.

Israel het intussen aangedui dat hy die vier dae lange wapenstilstand met ’n een dag sal verleng vir elke tien gyselaars wat Hamas bykomend tot die ooreengekome 50 gyselaars vrylaat.

AFP berig dat 13 Israeliese gyselaars glo Vrydag vrygelaat is, en nog 13 Saterdag. In ruil daarvoor het Israel 39 Palestynse gevangenes vrygelaat.

ʼn Verdere 39 gevangenes is Sondag deur Israel vrygelaat, terwyl Hamas 39 gyselaars vrygelaat het.

Nog 17 gyselaars is later Sondag deur Hamas vrygelaat.

Die wapenstilstand is egter net tydelik en beteken allermins dat die oorlog verby is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

A.S ·

Perdeby, ek stem saam, dit maak haar beslis nie ‘n Suid Afrikaner nie!!

Karoo ·

Dis nie dat SA enige iets gedoen het om haar te bevry nie….. maar, ek is dankbaar vir elke persoon wat bevry is ongeag van waar hulle kom.

Nettie ·

Mens kan nie help om meelewing te hê met elke gyselaar wat vrygelaat word nie. Veral die kindertjies. Die video’s breek mens se hart en tog is mens so dankbaar. Wens ALMAL kon nou vrygelaat word. Dis nou lank genoeg!!

Ek weet meeste mense stem nie saam, sien dit nie raak of gee niks om nie, maar ek’s ook dankbaar vir elke minderjarige wat uit die tronke van Israel vrygelaat is. Kinders hoort nie in tronke nie!

Jaco ·

Hierdie stukkie vrylating van gyselaars en gevanges gaan Israel nog duur te staan kom. As ek Netanyahu was, het ek volledig “vrede” met Hamas gemaak, gesorg dat die uitruil van gevangenes en gyselaars dadelik (binne ‘n week) afgehandel word, en dan so 6-7 maande later eers Hamas in ‘n verassingsaanval uitgewis

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.