Suikerrietkwekers soek antwoorde oor agterstallige heffing

(Foto: SA Canegrowers Association / X)

Krediteure van die sukkelende suikerreus Tongaat Hulett het ten gunste van ʼn sakereddingsvoorstel deur die Vision Group gestem, wat die baan weg om ʼn omkeerplan binne die volgende paar maande in werking te stel.

Terwyl dié stemming ʼn belangrike stap is om Tongaat Hulett van ondergang te red, wag die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekersvereniging (SA Canegrowers) nog op bevestiging of die Vison Group die bedryfsheffings gaan betaal wat Tongaat Hulett aan die Suid-Afrikaanse Suikervereniging (Sasa) verskuldig is.

“Die toetrede van Tongaat Hulett tot sakeredding in Oktober 2022 het die bedryf in ʼn bedenklike posisie gelaat en groot onsekerheid veroorsaak vir produsente wat op die maatskappy se meulens aan die Noordkus van KwaZulu-Natal staatmaak,” het die vereniging Vrydag gesê.

Tongaat Hulett se meule in Felixton. (Foto: Facebook/ Tongaat Hulett)

“Hierdie ontberings is vererger deur die besluit van die sakereddingspraktisyns om die regsgeldigheid van die finansiële verpligtinge – meer as R900 miljoen – wat Tongaat Hulett aan die bedryfsliggaam verskuldig is, te betwis.”

Die hele proses is ʼn verdere knou toegedien toe die RGS-groep ter elfder uur aan die proses onttrek het om Tongaat Hulett oor te neem, en die Vision Group, wat aan Robert Gumede behoort, as die enigste potensiële koper oorgelaat het.

RGS se aanbod het ʼn vaste verbintenis ingesluit om die verpligtinge van Tongaat Hulett na te kom om die bedryfsheffings te betaal wat aan Sasa verskuldig is.

Die Vision Group moet hom nog tot die betaling van uitstaande heffings verbind voordat enige appèlle uitgeput is, wat die deur vir verdere en tydrowende litigasie ooplaat.

“Nietemin, terwyl hierdie belangrike saak onopgelos bly, word die SA Suikerrietkwekersvereniging bemoedig deur die betrokke sakereddingspraktisyns se sukses om ʼn vennoot te verkry om Tongaat Hulett se meulens te help red.

“Tienduisende kleinskaalse produsente en werkers is afhanklik van hierdie meulens, daarom is die handhawing van sy bedrywighede uiters belangrik.”

Die vereniging sal die verwikkelinge in die komende weke fyn dophou namate die sakereddingsproses afhandeling nader.

“Ons prioriteit bly die suksesvolle afsluiting van die sakereddingsproses wat Tongaat Hulett laat voortbestaan en die inkomste ​​beskerm van dié wat van sy bedrywighede afhanklik is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Willem ·

Suikerriet boer het vir baie jare super winste gerealiseer. Daar is rede hoekom grond waarop suikerriet verbou kan word van die duurste landbougrond in Suid Afrika is. Die huidige swaar trek moet hulle maar absorbeer uit reserwes wat hulle hulle in die goeie tye opgebou het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.