Sukkelende Tshwane skuld Eskom R3,2 miljard

Cilliers Brink en Johann Mettler van die Stad Tshwane. (Foto: Facebook)

Eskom sê die Stad Tshwane skuld hom sowat R3,2 miljard wat oor Julie en Augustus (te midde van die voortslepende staking) weens wisselvallige betalings opgehoop het. Die Ekurhuleni- munisipaliteit is R1,5 miljard in die rooi.

Eskom het Woensdag gesê Tshwane en Ekurhuleni skuld hom gesamentlik R4,7 miljard vanaf 31 Augustus 2023.

Die kragvoorsiener sê albei munisipaliteite se betalingspatrone het tot kommerwekkende vlakke versleg wat nou Eskom se likiditeit, finansiële prestasie en volhoubaarheid bedreig.

“Ondanks al die weë wat Eskom ondersoek het om [die skuld] te verhaal, het albei munisipaliteite versuim om hul betalings en hul elektrisiteitsvoorsieningsooreenkomste na te kom.”

Cilliers Brink, burgemeester van Tshwane, het Woensdag in reaksie gesê dit is geen geheim dat die Tshwane-metro in finansiële moeilikheid en agterstallig met sy kragrekening is nie.

Brink sê een van die hoofredes vir die metro se finansiële situasie is die verlies wat Tshwane, saam met baie ander munisipaliteite in die land, op die verkoop van elektrisiteit ly.

“Die land het vanjaar meer beurtkragdae as ooit tevore gehad. Dit saai verwoesting nie net wat die instandhouding van ons netwerk betref nie, maar raak eweneens ook ons befondsingsmodel. Tydens beurtkrag kan ons nie elektrisiteit verkoop nie en sukkel dus om die vaste koste verbonde aan die doeltreffende werking van ons netwerk te dek,” verduidelik die burgemeester.

Volgens Brink dek die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se goedgekeurde tarief vir die herverkoop van elektrisiteit ook nie die metro se koste nie. “Ons finaliseer dus nou ʼn koste-van-aanbodstudie om ons voorleggings aan Nersa vir die volgende finansiële jaar toe te lig.”

Brink sê die begroting wat in Junie vanjaar aanvaar is, is met minstens R3 miljard onderbefonds. Die raad het dus ook ʼn befondsingsplan goedgekeur wat maatreëls insluit om ʼn befondste status binne drie finansiële jare te bereik.

“Een van hierdie maatreëls is om vrystelling van salarisverhogings te versoek, “selfs in die lig van ʼn gevaarlike onbeskermde staking”, sê Brink.

“Ons het konsekwent en duidelik die werklikheid van ons finansiële situasie uiteengesit, asook die moeilike besluite wat deur die raad, die burgemeesterskomitee en stadsbestuur geneem moet word om uit ons finansiële verknorsing te kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit is die nagevolge van jare se leiding onder die anc regime, gee die burgemeester ‘n jaar en Pretoria is weer in die groen .

Republikein in die Wes Kaap ·

Daar sal baie dinge moet gebeur. Verminder die diensstaat met 20% is die begin. Hopeloos te veel base.

Harley Davidson ·

En nou onderhou hulle nog terroriste ook wat munisipale eiendom vernietig oor hulle tekort aan insig.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Eskom, stuur die skuldbriewe aan die ANC te Lethulihuis om die skuld te vereffen. Immers, die ANC het oor vele dekades ‘n kultuur van burgerlike ongehoorsaamheid en nie-betaling vir dienste aangemoedig. Mag hierdie monster die ANC/EFF verteer.

Jandup ·

Maar vertel my nou wat is die verskil.
Tshwane skuld net oor die3 miljard. Betalings word gereeld gedoen
Govan Mbeki Munisipaliteit skuld ook oor 3 miljard. Die betalings in ongereeld en die bedrag vermeerder elke maand.
Tshwane word deur die DA beheer. Govan Mbeki word deur cANCer beheer. Geen ophef word van GMM se skuld gemaak deur die media nie. Word die media ook deur cANCer beheer?

Johan ·

Is Tswane se skuld aan Eskom die meeste in die land? Dit lyk asof daar ‘n agenda is om hulle in ‘n slegte lig te plaas!

FCR ·

Ek stem…hoekom? Omdat daar meer Blankes agter Cillier Brink staan as wat hulle will hê.

vuurvliegie ·

Eskom moet hulle krag afsny totdat hulle skuld betaal word.
Die mense en besighede moet by die munisipaliteit gaan kla en nie by Eskom nie.

Vriendelike Frikkie ·

Onwettige verbindings, agterstallige rekeninge, nie-betalers, infrastruktuur oorbelading, koperdiesfstal ens. Metro is bewus van al hierdie “oortreders” en hulle verkies om dit so te hou. Die GPFs rapporteer op ‘n daaglikse basis die onwettige verbindings, oopbreek van straatkaste en ander probleme. Daar word nie daarteen opgetree nie. So die rekening word net hoër en hoër. Jan Publiek moet maar net meer en meer betaal.

Truman Burbank ·

In n normale wereld, is die munisipaliteit nie eers veronderstel om n rekening te kry nie. Want beide munisipaliteit en eskom is regerings instansies. So die wat aan Tshwane betaal, betaal eskom. Dit is hoe dit vroeër jare gewerk het

Republikein in die Wes Kaap ·

Baie dekades geledes was daar glad nie politiek in die meeste plaaslike owerhede nie. Selfs in swart munisipaliteite soos Soweto en Alexander. Plaaslike owehede moet eintlik administratiewe distrikte word en dan sal dit werk soos jy noem.

Luxrider ·

Is dit nie interesant nie. Eskom kla oor Tshwane (DA Koalisie) se skuld wat ‘n maand laat is. Wat van die ander munisipaliteite soos Soweto (ANC beheer) wat al langer agterstallig is en glad nie betaal nie?

Elize ·

Maar dis die ANC se staatsdiens departemente wat nie hulle skuld vereffen nie. Sny af!! Die ANC hou die munisipaliteit gevangene

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.