‘Super-fêns’ vra bloot net om Rugbywêreldbeker by te woon  

Joyce Chauke, ook bekend as Mama Joy. (Foto: PHILL MAGAKOE/AFP)

Die sogenaamde “super-fêns” Mama Joy Chauke en Botha Msila het bloot by die OR Tambo-lughawe opgedaag en versoek om die Springbokke na die Wêreldbekerrugbytoernooi in Frankryk te vergesel en het sodoende ʼn reis van meer as R1,3 miljoen losgeslaan.

Dit is volgens ʼn brief wat die departement van sport, kuns en kultuur aan Renaldo Gouws, ʼn DA-raadslid, gestuur het nadat hy in Januarie vanjaar ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, bekend as ʼn Paia-aansoek, ingedien het.

AfriForum het ook ʼn Paia-aansoek gebring, en die burgerregte-organisasie én Gouws het dié week antwoorde van die departement ontvang. Die departement het nie minder nie as R1 361 283 bestee aan vlugte en verblyf vir dié twee aanhangers.

Navrae oor hoeveel Chauke en Msila tydens die toernooi bestee het, is nog nie beantwoord nie. Die departement het ook nie inligting verskaf oor die uitgawes wat aangegaan is vir dié twee geesdriftige aanhangers se bywoning van ander sportgeleenthede nie.

Botha Msila, een van Suid-Afrika se twee betaalde “superondersteuners”, tydens die aangaande Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk. (Foto: Christophe ARCHAMBAULT / AFP)

In die brief aan Gouws het die departement gesê die beleid van “mense-na-mense-ruiling”, as deel van die departement se internasionale betrekkinge- strategie, het daartoe gelei dat die twee se versoek goedgekeur is.

Chauke en Msila het op 25 Augustus by die lughawe opgedaag en die departement genader met ʼn versoek om die Bokke te ondersteun.

“Die absoluut hartverskeurende deel hiervan is dat ons jong talentvolle sportsterre regoor die land het wat kaalvoet moet speel, voorheen gebruikte toerusting moet gebruik, en nie eens daarvan kan droom om hul helde in aksie te sien nie, want dieselfde sogenaamde superaanhangers, politici en hul vriende moet die heel beste in die lewe geniet, nie een keer nie, nie twee keer nie, maar oor en oor,” het Gouws in reaksie gesê.

Die regering se “mense-na-mense-ruiling”-program is glo daarop gemik om wedersydse begrip te verdiep tussen Suid-Afrikaners en mense van ander lande en samewerking op verskeie gebiede, insluitend sport, te vergroot.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Peach ·

“Die regering se “mense-na-mense-ruiling”-program is glo daarop gemik om wedersydse begrip te verdiep tussen Suid-Afrikaners en mense van ander lande en samewerking op verskeie gebiede, insluitend sport, te vergroot”, asook “Chauke en Msila het op 25 Augustus by die lughawe opgedaag en die departement genader met ʼn versoek om die Bokke te ondersteun”…. dis nou die grootste wolhaar stories wat ek in jare gehoor het.

hpven ·

Absoluut geen respek vir die minder wordende belastingbetalers! Dit is om van naar te word… En ons tel voort!

tierwyfie ·

Dit is absoluut onaanvaarbaar dat daar nou kastig 2 “ondersteurs” gestuur moet word teen ‘n astronomiese bedrag geld waar daar reeds duisende ondersteuners uit eie sak betaal om die wedstryde te sien. Ons het nie narre nodig nie die geld kon gebruik word vir die arm Suid-afrikaners vir kos, stole, hospitals, maar nee die regering moet geld mors teen ‘n tempo van wit lig. Daardie geld moet verhaal word

Republikein in die Wes Kaap ·

Maar dié twee se visums en paspoorte was in hul sakke. Nou kry hulle ‘n salaris, met pensioen, medies, motors en ander voordele.

Ore ·

Nee kyk,nou het ek alles gehoor. So, jy daag op, vra en dan word paspoorte/visums/vlugte/verblyf ens vinnig gereël. Ek wou ook graag bywoon maar weens die koste moes ek tuis bly. Nou weet ek van beter. Dit blyk dat die ANC nie die verskil tussen R1.30 en R1.3 m ken nie.

Di ·

Die grootste liegstorie nog ooit vertel in SA. Die snert waarmee hulle vorendag kom as hulle uitgevang word, is ongelooflik!

Niklaas ·

Hoe hierdie man en vrou ooit van rugby , of is hul meer geskik as die laataand Super kuier -geeste ? Ek is jaloers op hul groot vakansie. Dalks gaan hul nou elke jaar dele van die wereld besoek as gaste/werknemers van die departement van sport, kuns en kultuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.