Supervlermuis: Battie se reis nog lank nie verby

Battie, die eerste vlermuis in SA wat met ‘n gewas aangetref is. (Foto: Verskaf)

My ma vertel graag hoe sy op ʼn keer by die Kango-grotte inmekaargesak het toe ʼn vlermuis in haar hare beland het. Tot vandag skreeu sy blou moord wanneer dié skemerdiertjies in die lug begin fladder.

Vir my ma – en soveel ander mense – is dit net ʼn grillerige muis met vlerke; ʼn vreesaanjaende bedreiging en vampieragtige draer van gevaarlike virusse. Uys Krige het selfs in die 1900’s al in ʼn gedig na die besonderse soogdier as “die nag se wrede spotprent van ʼn vlinder” verwys.

Vlermuise het dikwels geen goeie reputasie by mense nie, want wanopvattings het hulle die simbool van siektes, peste en gruwelstories gemaak. Die diertjie het met die aanvang van die Covid-19-pandemie selfs die skuld vir dié dodelike siekte gekry.

Tog, en só vind jy gou uit, steek daar soveel meer in die fassinerende diertjies.

Vir navorsers en biotegnologie-beleggers is vlermuise ʼn wondersoogdier wat kan help om toekomstige pandemies te voorkom, nuwe behandelings vir dodelike siektes te vind en selfs veroudering te vertraag.

Battie se lang reis

Ontmoet vir Battie, ʼn ekstra spesiale vlermuis.

Battie, wat al die pad van Velddrif aan die Weskus ʼn veilige hawe by die rehabilitasiesentrum ThinkBat in Pretoria gevind het, kan volgens kenners nou moontlik ook ʼn bydrae tot kankernavorsing maak.

Vicky Karropoulos hou vir Battie veilig in ‘n kombersie vas (Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Vicky Karropoulos, medestigter van ThinkBat en ʼn vlermuiskenner én -liefhebber, sê kanker by vlermuise is uiters skaars.

“Wetenskaplikes glo dat vlermuise teenkankermeganismes in hul DNS het. Dit is ʼn uiters vreemde verskynsel om ʼn gewas op hierdie diertjies te vind.

“Daar is dalk ʼn handvol vlermuise in die wêreld wat voorheen met ʼn gewas aangetref is – maar Battie is die eerste een in Suid-Afrika.”

Battie is sowat twee maande gelede uit ʼn kat se kloue gered, waarna sy na Dwarskersbos Snake Rescue & Conservation aan die Weskus geneem is. Hier is sy gestabiliseer en ʼn ruk lank deur Ettienne Swanepoel – wat al voorheen met vlermuise gewerk het – versorg.

Battie is egter gʼn gewone vlermuis nie en Swanepoel het vinnig opgemerk dat die piepklein diertjie ʼn gewas onder een van haar vlerke het.

Omdat vlermuise volgens kenners meestal immuun is teen kanker, het Swanepoel aanvanklik vermoed dat die swelling ʼn kneusplek van die kat-aanval is. Ná twee weke se antibiotiese behandeling – maar geen aanduiding dat die swelling verbeter nie – is daar besluit om ʼn biopsie te doen.

ʼn Span veeartse en kenners het daarna bevestig dat die gewas moontlik kwaadaardig kan wees.

Swanepoel het besluit ThinkBat sou ʼn veiliger hawe vir Battie wees, juis omdat hulle meer kennis van en ondervinding met vlermuise het.

Maroela Media het Battie vandeesweek by ThinkBat ontmoet.

“Ons is vrywilligers met ʼn sagte plekkie vir en belangstelling in wilde diere, maar veral dié diere wat misverstaan word,” sê Karropoulos.

“Dit het ons tot hier gebring: met die diertjie wat die meeste van almal misverstaan word – die vlermuis.”

Karropoulos vertel dat hulle baie opgewonde was om Battie te ontvang.

“Ons kon gelukkig die nodige permitte van CapeNature bekom, waarna Battie vroeër vandeesmaand deur die Cemair-lugdiens hierheen gevlieg is.

“Sy is nou al tien dae by ons en dit gaan goed. Sy eet en drink, sy is aktief, en sy maak haarself mooi skoon. Sy is ʼn pragtige, sosiale en vriendelike vlermuis,” sê Karropoulos.

Battie was Woensdag weer by die veearts waar sy nog ʼn biopsie moes ondergaan. Volgens Karropoulos het dit goed verloop en word die toetse – wat van die gewas geneem is – Donderdag na ʼn patoloog by die Onderstepoort- veterinêre akademiese hospitaal vir ontleding gestuur.

Battie was Woensdag weer by die veearts vir ‘n biopsie (Foto: Verskaf)

“Sy is wakker en sy is daardeur. Ons is baie verlig dat dit agter die rug is. Haar vlerkie gaan dalk nog bietjie seer wees, maar nou kan ons begin antwoorde kry en vasstel watter soort gewas dit is. Ons wil kyk hoe ons dit kan behandel.”

Supervlermuis

Battie se gewas onder haar vlerk (Foto: Verskaf)

Watter behandeling om toe te pas, is in hierdie stadium nog ʼn kopseer.

“Navorsing oor kanker in vlermuise is min, juis omdat dit so ʼn skaars verskynsel is. Niemand het nog ooit probeer om die handjievol vlermuise – wat wel met ʼn gewas aangetref is – te behandel nie.

“Vir navorsers was dit moontlik net ʼn vreemde en interessante verskynsel, maar ons wil Battie behandel en haar beter maak,” sê Karropoulos.

Sy sê navorsing oor Battie se gewas kan dalk die toekoms vir kanker in mense ook veel anders laat lyk.

“Wat vlermuise laat uitstaan, is hul superkragte – wat insluit om virusse te huisves sonder om self siek te word.

“Om ʼn kuur vir kanker by vlermuise te vind, kan dalk net ʼn waagstuk wees en kan boonop nog jare duur, maar met genoeg navorsing is die moontlikheid daar. En dit is ook hoekom Battie so belangrik is.

“As almal die geleentheid kon kry om hierdie diere te ontmoet, sou die vlermuis se slegte reputasie vir altyd verdwyn. Daar is geen manier nie dat diegene wat hulle ontmoet, hulle nie sal liefkry nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

OU SAAR ·

Aaaaaaawh.
Vlermuise is regtig fasinerende diertjies.
Ek hou duim vas vir Battie dat hulle sommer gou sal uitvind wat se gewas dit is en dit suksesvol kan behandel.
Enige Godgeskape wese verdien respek, liefde en omgee. Selfs vlêrmuisies soos Battie. Sterkte vir die dokters met die navorsing. Hoop julle behaal sommer gou sukses.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.