Swaar straf vir kapers wat koerier ontvoer

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: pixabay)

Drie mans is ʼn swaar straf opgelê nadat hulle in 2019 ʼn koerier en sy passasier gekaap, ontvoer en beroof het.

Luthando Stofile (42), Sive Mguqulwa (29) en Mpendulo Plaatjies (25) het verlede week in die Gqeberha-landdroshof verskyn waar hulle skuldig bevind is aan gewapende roof en ontvoering.

Die beskuldigdes het Vrydag weer in dieselfde hof verskyn waar hulle nege jaar tronkstraf opgelê is vir roof en drie jaar vir ontvoering.

“Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word en elkeen sal effektief nege jaar in die tronk deurbring,” sê kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder.

Dié straf volg nadat Stofile, Mguqulwa en Plaatjies op 16 April 2019 ʼn koerier ontvoer het wat pakkies naby Paterson in die Oos-Kaap afgelewer het.

Op die betrokke dag het die bestuurder en sy passasier op die R342-grondpad gery toe ʼn wit Toyota Corolla hulle pad versper het. ʼn Veiligheidswag by ʼn nabye wildreservaat het dit op ʼn afstand dopgehou en onraad vermoed toe die koeriervoertuig omgedraai het hoofpad toe.

“Die veiligheidswag het die voertuig op ʼn afstand agtervolg terwyl hy die polisie ontbied het.”

Beamptes van die Kinklebos-polisiestasie het by die N2-aansluiting gewag en die gekaapte voertuig aangekeer, waarna een van die verdagtes wat die voertuig bestuur het, uitgespring en in ʼn oop veld gehardloop het. Die polisie het egter daarin geslaag om hom en die ander twee verdagtes in hegtenis te neem.

Dit het later aan die lig gekom dat daar aanvanklik vyf verdagtes in die Toyota Corolla was. Stofile, Mguqulwa en Plaatjies het in die koeriervoertuig gespring, terwyl twee ander verdagtes in die Corolla weggejaag het.

“Die koerier en sy passasier is toe saam met twee van die beskuldigdes agter in die voertuig gedruk terwyl die verdagtes gepoog het om met die voertuig te verdwyn,” sê Naidu.

Stofile, Mguqulwa en Plaatjies is eers in Maart verlede jaar borgtog toegestaan waarna hulle meer as ʼn jaar later skuldig bevind en gevonnis is.

Maroela Media het vroeër berig sedert die Covid-19-pandemie het aanlyn inkopies in gewildheid toegeneem wat koerierdienste en -voertuie in maklike teikens vir misdadigers verander het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Waarnemer ·

9 jaar of 9 mnde? Of dalk net 3 mnd as hulle mrfies ongeskik verklaar gaan word ala mnre xhaik en zuma.

Kokerboom ·

Laat strawwe gepaardgaan met fisiese arbeid. Die duisende goedkoop arbeid kan ons land ‘n skoner plek maak

absoluut ·

Stem saam, tronke is vandag verniet bly en eet vakansieplekke in vergelyking met die ou dae en dan moet ons oumense betaal om verniel te word en honger te ly in die ouetehuise

domheks ·

Lekker 9 jaar in 5ster. Ons vonnis oplegging is ‘n grap. Belastingbetalers onderhou die gemors. Laat hulle werk vir hulle kos ten minste. Maak slaggate in die paaie reg.
Vroeer het die boere die bandiete uit die tronk gaan haal – dan het hulle hande arbeid gedoen. Iemand wat gewapen was het hulle opgepas.

Toy ·

Maak voorbeelde van die kapers ons land het nie sulke mense nodig nie.

Swerwer ·

3 jaar geneem om hul te vonnis? Genade maar dit is ‘n lekker ou piesang land hierdie.

Miena ·

Hierdie gelyklopende vonnisse moet end kry. Landdroste moet vonnis uitspreek wat n x aantal jaar vir n klag waarop skuldigbevinding gemaak is en elke vonnis moet apart uitgedien word. Gekaap moet x jaar in tronk sit, roof moet n verdere x jare in tronk wees en dan ontvoering moet n verdere x jare in tronk deurbring. die landdroste kommissie moet begin ag slaan aan vonnis opleggings en die landdroste vasvat ook – dieselfde dink ek geld vir die regter dienstelike kommitte waar regters vonnise uitspreek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.