Taai toestande haal kleinhandelsektor in

Die kleinhandelsektor is onder al hoe groter druk te midde van kwaai ekonomiese toestande. (Argieffoto: pixabay)

Ná maande van veerkragtigheid het Suid-Afrika se taai ekonomiese omstandighede die kleinhandelsektor nou begin inhaal. Verhoogde verbruikersprysinflasie en groot rentekoersverhogings is ʼn remskoen vir verbruikers.

In November het die Reserwebank die sewende agtereenvolgende rentekoersverhoging aangekondig en die gesamentlike uitwerking daarvan begin ʼn al hoe groter tol op verbruikers se besteebare inkomste eis.

Die Buro vir Ekonomiese Navorsing (BER) sê die dienstebedryf herstel nog van die Covid-19-pandemie en verbruikers gaan moontlik ʼn groter gedeelte van hul geld van kleinhandelaars wegneem om aan restaurante, hotelle of vervoer te bestee.

Kleinhandelaars moet op hul beurt die ergste beurtkrag nóg, asook hoë brandstofkoste en stygende insetkoste probeer trotseer.

Die BER se jongste kleinhandelopname wys dat vertroue in die sektor van 51% in die derde kwartaal tot 42% in die vierde kwartaal gedaal het.

“Kleinhandelaars verwag laer verkoopsvolumes in hierdie kwartaal in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar. Dit is die geval in alle kleinhandelkategorieë en skets ʼn donker prentjie van die verwagting vir verkope in die vierde kwartaal – ondanks die feestyd en Swart Vrydag,” lui ʼn verklaring van die BER.

Daar was veral ʼn opvallende daling in halfduursame goedere en wanneer daar gekyk word na die sterk groei in verkope van klere en skoene oor die afgelope jaar, dui die jongste opname op ʼn herstelkoers wat verlangsaam.

(Argieffoto: Pexels)

Die daling in vertroue is in teenstelling met die FNB/BER se Indeks oor Verbruikersvertroue wat dit vir die vierde kwartaal op ʼn vlak plaas wat laas teen die einde van 2019 – en voor die Covid-19-pandemie – ondervind is. Die indeks dui egter steeds op bedrukte verbruikersentiment, hoewel kwessies soos ʼn verbetering in die werkloosheidsyfer en ʼn daling in die prys van petrol die hoofrede vir die verbeterde gevoel onder verbruikers was.

Die BER sê nou die verbruikersvertroue-indeks dui op ʼn “bereidwilligheid” onder verbruikers om geld te bestee.

“Indien werkskepping en effens hoër BBP-groei, soos Statistieke Suid-Afrika aan die hand gedoen het in sy skatting vir die derde kwartaal, ʼn werklikheid word en verbruikers se vermoë verbeter om geld te bestee, kan ons dalk sien dat kleinhandelvertroue vroeg volgende jaar toeneem.

“Indien nie, kan verbruikers dalk aanhou om ʼn groter deel van hul besteding aan dienste toe te wys.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Johan ·

Ek verstaan nog steeds nie hoekom daar n berig in Maroela was, n paar dae terug, wat gesê het dat die ekonomie sterker nou is as voor die lock-down.

Pieter ·

Want alles gaan op, so hoe sal iets anders nou daal… basiese wiskunde lol

Kobus ·

Kan ook nie glo dat hulle sukkel nie. Kostes word doodeenvoudig afgewentel na die verbruiker. Vergelyk maar bv net kospryse. Met Kersfees om die draai wil ek voortydig wees met aankope. Parfuum het nou onbekostigbaar geword. Iemand maak steeds wins

Pierre ·

pryse word deer gegee maar die koopkrag word minder so mense spandeer minder agv die verhogings wat deer gegee word, baie besighede weier starks om winsmarge te sny.

Antie Sarie ·

Want sny hul die wins marge, maar hulle uitgawes word meer, begin hul om verliese te lei. Hier onder is n uiteensetting van n slaghuis. Elke besigheid se uitgawes word hoër. Nou wil jy nog die verlies groter maak deur hul winsgrens te sny? As jy nie hou van die prys van melk, gaan koop n koei en melk self.

Antie Sarie ·

Nou wat wil jy he moet die klein handelaar doen? Verliese lei?

Danie ·

Die probleem is eenvoudig hul winsgrens het gedaal met tussen 50 en 80 persent.Ons is die kiepies wat voel.

Christian Grobler ·

Beurtkrag maak dit onmoontlik om ‘n slaghuis te bedryf net die diesel wat in die kragopwekker gegooi word per maand is R10 000.00. Met die verhoogde beurtkrag ure sal dit styg na tussen R15 000 tot R20 000 pm. Daarom sal die vleispryse moet aangepas word of die deure sal toegemaak word. Die ANC regarding met hul kaders het hierdie land opgeneuk.

Papsak ·

AG ASB NIKS IS STERKER IN SA NIE ALLES TEN GRONDE EN NOG STEEDS GAAN ALLES TEN GRONDE

Pieter ·

en oor 100jaar vluit hulle steeds dieselle storie. Maar intussen is die malls vol van die skelms wat vir die staat “werk”… Die slag kom, die wiel draai.

Sonneblomkind ·

Nee wat. Beurtkrag is besig om groot skade aan besighede te berokken

Deon ·

Die 32% ESKOM verhoging ook nog aan die kom! So gaan almal doodwurg en besighede gaan weer op n streep deure toemaak. Alles met n spoed oppad na nog n taamlike groot finansiële ramp.

Chris ·

En daar is niemand wat die regering Hof toe neem vir die afskaffing van pad-verbruiks-heffings op brandstof wat in kragopwekkers verbrand word nie !!!

Chris ·

Moet dit nie “Beurtkrag” noem nie – noem dit eerder “ANC Krag Onderdrukking”!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.