Talle eis oor verbroude histerektomieë

Talle vroue dagvaar die departement van gesondheid weens verbroude operasies. (Foto: Unsplash)

Eise weens brouwerk wat tydens histerektomieë gedoen word, is volop in Suid-Afrika – maar veral in die Oos-Kaap. Sedert 2014 het eise vir mediese nalatigheid by die provinsie se 91 hospitale en meer as 700 klinieke sowat R3,4 miljard beloop.

In een geval dagvaar ʼn 26-jarige vrou die provinsiale regering vir skadevergoeding van R3 miljoen nadat dokters haar baarmoeder glo sonder haar toestemming verwyder het.

“Dit is maar een van vele histerektomie-wanpraktykeise teen die Oos-Kaapse departement van gesondheid,” sê Kirstie Haslam van DSC Attorneys.

Die Oos-Kaap is egter nie die enigste provinsie teen wie eise instroom nie.

Bongekile Msibi dagvaar die Gautengse gesondheidsdepartement nadat sy sonder sukses probeer het om weer swanger te raak. Sy het later gehoor sy het jare gelede, as minderjarige, ʼn ongemagtigde histerektomie tydens ʼn keisersnee vir die geboorte van haar dogter ondergaan.

Msibi voer aan sy het egter geen idee gehad dat haar baarmoeder destyds verwyder is nie. ʼn Dokter by die betrokke hospitaal het erken dat hy die histerektomie gedoen het, maar het glo aangevoer Msibi het ʼn toestemmingsvorm daarvoor onderteken. Nadat sy dit ontken het, het die dokter aangevoer Msibi se ma het toestemming gegee; ʼn bewering wat óók ontken word.

Marjorie Venter van Heidelberg het die Gautengse departement van gesondheid reeds suksesvol gedagvaar en skadevergoeding van meer as R900 000 is in die Pretoriase hooggeregshof aan haar toegeken.

Venter het gesukkel met chroniese pyn nadat ʼn wit plastiekvoorwerp in 2013 tydens ʼn histerektomie in haar abdomen agtergebly het.

Die hooggeregshof het beslis die mediese span by die Chris Hani Baragwanath- akademiese hospitaal was nalatig deur nie die 48-jarige vrou se wond te ondersoek nie en toegelaat het dat die voorwerp agterbly.

In nog ʼn saak het ʼn vrou ʼn chirurg by ʼn private Gautengse hospitaal gedagvaar nadat ʼn septiese wond ná haar histerektomie ontstaan het. Sy het aangevoer die sorg ná afloop van die operasie was onvoldoende, wat beteken die septiese wond is toegelaat om te vererger. Dit het tot verdere chirurgie gelei.

Die vrou het die skadevergoedingseis gewen.

Risiko’s

(Argieffoto: Unsplash)

Haslam sê nes met enige operasie, is daar risiko’s verbonde aan ʼn histerektomie. Dit is ʼn algemene ginekologiese prosedure wat die chirurgiese verwydering van die baarmoeder of ʼn gedeelte daarvan behels.

Van die grootste risiko’s en komplikasies is blaasbeserings, dermperforasie of infeksies ná operasies.

“In sommige gevalle, wanneer ʼn pasiënt komplikasies weens ʼn histerektomie opdoen, is die dokter, hospitaal of ʼn gesondheidsorgwerker aanspreeklik,” sê Haslam.

Indien hulle weens ʼn nalatigheid ʼn komplikasie veroorsaak of daartoe bygedra het, kan daar gronde wees vir ʼn wanpraktykeis.

“Daar kan ook gronde vir ʼn eis wees indien ʼn dokter versuim het om ʼn pasiënt oor die gevare van die operasie in te lig, of versuim om ʼn pasiënt se ingeligte toestemming daarvoor te verkry,” sê sy.

ʼn Eis vir ʼn mediese wanpraktyksaak kan ook moontlik wees indien ʼn pasiënt ʼn onbehoorlike diagnose kry of selfs wanneer ʼn onnodige of onbehoorlike prosedure gedoen word.

Haslam sê vroue wat ʼn negatiewe reaksie of ander besering weens ʼn histerektomie opgedoen het, moet ʼn prokureur nader wat spesialiseer in mediese wanpraktykeise.

“ʼn Prokureur sal jou help vasstel of nalatigheid deur ʼn mediese werker of die gesondheidsdepartement die onverwagse uitkoms of besering veroorsaak het.”

Om ʼn saak suksesvol deur te voer, moet die eiser kan bewys dat ʼn gesondheidsorgwerker (of -werkers) nie die nodige gehaltesorg gelewer het nie. Die getuienis van ander kundiges oor die vlak van sorg kan ook benodig word.

“Jy sal dan moet bewys dat die besering veroorsaak is deur sorg op ʼn laer standaard. Dit is ingewikkeld en vereis regskennis van ervare prokureurs.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Harley Davidson ·

Gesinsbeplanning is baie nodig in Suid-Afrika bv die matriek leerlinge wat eksamen skryf is 800.000 die jaar waar gaan almal werk en kos kry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.