Tatjana is wéér goud werd!

Tatjana Schoenmaker op die oorlogpad in die eindronde van die 200 m-borsslagitem. Foto: Ben Stansall/AFP.

Iewers in die verlede moes Suid-Afrikaanse swemmers met koning Midas te doene gekry het. Want die meeste goed waaraan hulle vat, verander in goud.

Tatjana Schoenmaker het so pas Suid-Afrika se derde goue medalje by die Statebondspele in Birmingham ingeoes toe sy die 200 m-borsslagitem in ’n tyd van 2 minute 21.92 sekondes gewen het.

Die 25-jarige wêreldrekordhouer en Olimpiese kampioen was ongetwyfeld die gunsteling om haar beste item te wen, maar Australië se Jenna Strauch was goeie kompetisie en het glad nie vir die blitsige Suid-Afrikaner teruggestaan nie.

Maar oor die laaste 100 m het Tatjana Schoenmaker egter Tatjana Schoenmaker-dinge gedoen, en daarmee haar stempel dubbel en dwars op die eindronde afgedruk en die goue medalje gewen.

Tog het sy haar grootste glimlag vir ’n spanmaat gebêre.

Suid-Afrikaanse trots! Kaylene Corbett en Tatjana Schoenmaker vier hul spogvertonings. Foto: Ben Stansall/AFP.

Kaylene Corbett het met ’n merkwaardige eindpoging vorendag gekom om die brons medalje in ’n tyd van 2 minute 23.67 sekondes in te oes.

Onmiddellik nadat sy die tye op die groot skerm gesien het, het Schoenmaker na Corbett se baan geswem om haar geluk te wens.

Boonop het Emma Chelius vroeër vierde in die eindronde van die 50 m-vryslagitem geëindig met ‘n tyd van 24.36 sekondes.

Ja-nee, die Suid-Afrikaanse vlag wapper vanaand trots in Birmingham!

Uitslae:

  1. Tatjana Schoenmaker 2:21.92
  2. Jenna Strauch 2:23.65
  3. Kaylene Corbett 2:23.67
  4. Molly Renshaw 2:24.00
  5. Abbey Harkin 2:24.07
  6. Taylor McKeown 2:25.50
  7. Tessa Cieplucha 2:28.43
  8. En Yi Sim 2:29.06.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pannies ·

Baie geluk dames. Goeie veggees en sportmanskap. Trots op julle.

George ·

Jys seker bly, aangesien jy nie tv het nie, al vir 12 jaar as ek reg onthou ;)

Nefie ·

Dit was seker die mooiste en roerendste medaljeseremonie wat ek al gekyk het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.